Vars in Delhi, bagasie gepak, reg om te gaan:
Min, min het ek geweet wat op my wag. Maar na die eerste wegtrek het ek besef: Hier word jou blaas deeglik getoets, terwyl ek klou aan die sitplek van die taxi wat my Vrydag van die lughawe in Delhi na my hotel neem.
Min, min het ek geweet wat op my wag. Maar na die eerste wegtrek het ek besef: Hier word jou blaas deeglik getoets, terwyl ek klou aan die sitplek van die taxi wat my Vrydag van die lughawe in Delhi na my hotel neem.
Ek neem ‘n “amptelike” taxi van die moderne, nuwe lughawe vir die tog van 40 kilometer. Maar daar is niks ampteliks aan die rit nie. Die bestuurder is boonop jonk. Hy het nog energie genoeg om die lewe en die paaie teen ‘n spoed te vat. Hy lê op sy toeter, swaai wye draaie om die ander voortsnellende fietse, tuk-tuk’s, motorfietse, motors en vragmotors voor hom, sny in in die kleinste moontlike spasies en jaag bloots oor al wat ‘n gat en ‘n homp in die pad is.
'n Tuk-tuk: daar is miljoene van hulle:
Die probleem is nie eenvoudig nie: duisende ander gevaartes op die verfoeste paaie van Delhi ding ywerig met hom mee om hom die loef af te steek.
Dit is ‘n oewerlose free for all. En, om alles te kroon, lyk niemand vir ‘n oomblik gekweld nie..
Ek bereik my bestemming genadiglik veilig en klim, geestelik ontwrigd en lewenslank vermink, by die hotel af.
Delhi se verkeer is ‘n verskrikking, ‘n absolute verskrikking uit die binnekamers van die hel, dink ek.
Die volgende oggend is ek op pad Agra toe – om die Taj Mahal te bekyk. Dis ‘n vier uur reis daarheen en vier uur terug. Besoekersgetalle is gemiddeld 23000 per dag. Mense praat daarvan as die agste wonder van die wêreld. Dus is daar geen manier waarop ek aan die tog gaan opgee nie.
Die bussie wat ons vyf vervoer, sien ek met blydskap die oggend om 5h30, is ‘n nuwer uitgawe as my taxi van die lughawe na my hotel. Alles lyk eers goed: Die bestuurder is ‘n rapsie besadiger. Helaas is dit gou ‘n ander storie: die verkeer is slegter as Delhi’ s’n. Agra lê in die platteland en ons reis deur skrikwekkende tonele van armoede en chaos. Boonop is daar stringe en stringe vragmotors en enige ander vorm van vervoer op wiele op die pad.
Met die rit na Agra begin ek agterkom hoe werk die storie met die gejagery en besef ek die method in die madness: ook hier in Indië ry die mense links, maar anders as by ons hou die groot vragmotors regs en wie wil verbykom moet aan die linkerkant verby hou.
Moedig soek ek troos in my dieper insigte.
Moedig soek ek troos in my dieper insigte.
Die probleempie is net dat die bestuurder natuurlik nie mooi kan sien wat links van die vragmotors voor hom aangaan nie. Hy moet dus half uitswenk om te kyk of hy wel aan die regterkant verby kan gaan.
Aan die linkerkant van die pad ry al die fietse, tuk-tuks en loop verbygangers - al jou naastes in Indië, plus hulle osse en hul esels en alles wat in hulle poorte is. As die bestuurder dus uiteindeik ‘n gat sien wat hy kan vat om verby te kom, sak hy toe op sy toeter om hierdie klomp obstruksies in sy pad te waarsku dat hy aan die verbykom is.
En soms kom daar uit die bloute verkeer van vooraf aan die kant van die pad gejaag van motors of busse wat kort pad vat. Ek en die Spanjool wat langs my sit (hy werk nou in London en weet dus van verkeer) het twee keer lam van skone skok moes aanskou hoe gevaartes uit die bloute van voor op jou baan op jou afgepeil kom. Ons het albei gelyk van skone verbouereerdheid aan die lag gegaan.
Dit alles gebeur sonder ‘n teken van woede, skellery of gepaste lelike, onwelvoeglike gebare. Ons het die heel tyd ook net een enkele ongeluk gesien, en dit was nie eers ‘n botsing tussen motors nie.
Wat die toetery beteken, besef ek eers toe ek agter op elke vragmotor wat voor ons op die pad is, die boodskap, in groot letters geverf, sien: HORN PLEASE. Of in boeretaal: toet my. (Hier onder is 'n minder gelukkige spelling van so 'n kennisgewing. Regs sit die man wat, soos vele ander mans, sy vrou op 'n motorfiets vervoer).
Die toetery is dus om die mense agter ander bestuurswiele te laat weet jy is in die omgewing, jy is besig om hulle verby te steek en hulle moet kyk wat hulle doen en nie in jou vasry nie.
Mense wil dus betoet word. En die oorverdowende getoetery werk.
Op die tog ontdek ek dat die toet-kultuur vervolmaak word: sommige van die vragmotors het toeters wat deuntjies toet. Oorverdowend sketter toeters soos trompette ‘n deuntjie uit wat jy tot onder in Sri Lanka kan hoor.
Ek oorleef die trippie Agara toe net oor die onvergeetlike gesig op die Taj Mahal.
Gister, aangekom in Bangalore, die tuinprovinsie van Delhi, klim ek in ‘n spinternuwe taxi. Die plaaslike regering administreer die taxi’s en jy kry as taxi voorrang in die verkeer. My bestuurder, 23 jaar oud, is kranig agter die wiel. Maar ook hy betoet al wat ‘n kar is. En as die spul voor hom gaan staan, jaag hy oor die sypaadjie na die aangrensende baan, wat, mirabile dictum, oop. Hy jaag oop en toe om vir my na die uurlange rit by my blyplek te bring. Blymoedig klim ek uit die motor met die aangename wete dat jy jou voete, in krampe saamgetrek, op moeder aarde neersit. Jy wil, soos ‘n terugkerende uit die verre vreemde, terstond neerval en die sooi onder jou voetsole soen.
My kennismaking met die land was ‘n totale kultuurskok.
En tog, besef ek met die verloop van die dae, om te dink dat in al die ure op die pad ek nêrens ‘n ongeluk of niemand gesien skel het nie… Dit is asof daar te midde van al die rumoer op die pad, 'n gelate roetiene bestaan wat buite alle reels en orde om, 'n struktuur van sy eie, 'n unieke maaksel geskep het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.