Hoe langer, hoe meer probeer ek wegbly van stereotipering. Dit is waarom ek my tydjie in Indië versigtig bedink – ‘n mens kan maklik baie skeef na die situasie kyk.
Indië kan gou as ‘n agterlike, korrupte derde wêreldland beskou word. Die waarheid is dat dit tans die negende sterkste ekonomie in die wêreld is en dit sal in die volgende vier dekades, volgens mediaberigte die week, na die derde plek opskuif. Onvoorstelbaar: een van die sterkste lande op die aardbol.
‘n Mens sien tekens van die groeiende en groot ekonomie oral raak: die groot firma’s en maatskappye is almal hier en besit groot, moderne geboue. Onder die vier ander mense in ons groep op die dagtoer na Agra, was twee konsultante wat uit Europa oorgekom het om plaaslike werkers in hoogs tegnologiese vaardighede op te lei. Indië koop groot in op modernisering.
In Delhi en in Bangalore is daar baie nuwe motors op die pad – al jaag hulle die blou hel uit ‘n mens uit.
Daar is ‘n ordentlike grondwet in plek en verligte wetgewing word gepromulgeer.
Dit is die bo- en die blinkkant van die groot staat wat die grootste bevolking het: 1.2 biljoen mense. Hulle lag as ek vertel ons het al 48 miljoen mense in Suid-Afrika.
Die realiteit is egter anders as die blink puntjies en sterretjies van die kersboom: dit is ‘n land, ervaar ek met diepe skok, wat oortrek is van endemiese, uiterste armoede. Op pad van die lughawe in Delhi tref dit mens ook soos ‘n onverwagte hartaanval: orals is arm, vuil, verslete mense. Hoewel almal aan die werfskaf is en op een of ander manier aan die gang is met ‘n ekonomiese take – hulle sit voor winkels, beman klein besighede, ry vragte aan – is dit duidelik dat hulle in die armste van omstandighede oorleef.
Hulle bly op dakke, hoeke, oop ruimtes van vervalle geboue. Op my laaste dag in Delhi neem ek foto’s van ‘n groot, hele gesin wat op die hoek van ‘n straat onder ‘n boom rondom ‘n vuurtjie sit. Hulle toestand is onbeskryfbaar. Hulle sit net, saamgehoek in ‘n groepie met geen skuiling en geen dak oor hulle kop (sien boonste foto).
Langs die strate sal jy nou en dan iemand op ‘n plek (wat nie eers ‘n sypaadjie genoem kan word nie) sien lê – nie eers onder ‘n kombers nie, bloot net met ‘n doek oor die kop. Jy het geen idee of dit ‘n lyk is of iemand wat net daar in die oopte langs toeterende, verbysnellende motors lê en slaap nie.
Hier en daar bedel kinders deur aan ‘n venster te tik en na hul mond te wys – al vraende na geld.
My taxi-bestuurder van die lughawe in Bangalore vertel vir my dat hy ‘n duisend rand per maand verdien vir ses dae se werk. Hy is vir 24 uur aan diens, is 24 uur af en vat dan sy volgende skof van 24 uur aan. Ek weet nie of hy die waarheid praat nie, maar toe ons by my blyplek aanland en ek hom ‘n tip van R30 gee, gryp hy my hand en soen dit.
Op die manier kan ‘n mens nog eindelose voorbeelde opnoem. Ek is verslae onder die aanslag van die armoede. Ek wil weet hoe dit moontlik is in ‘n land wat die negende sterkste ekonomie in die wêreld het.
My kollega’s het uiteenlopende reaksies: hulle praat sinies oor korrupte politici wat wette maak maar nie ‘n vinger oplig om dit af te dwing nie. Hulle praat van magsgroepe wat armes doelbewus arm wil hou om goedkoop arbeid te behou en hul rykdom te stut en uit te bou. Een van hulle – hou jou asem op – sê vir my dat Indië die mees korrupte land is wat hy ken (hy is tans ‘n biskop van ‘n welvarende bisdom in Amerika en het in vele Westerse lande gestudeer en gewerk).
Ek kan dink dit is waar: daar is te veel hofsake van grootskaalse skelmgeid en korrupsie waarvan ‘n mens in die media lees dat sy opmerkings geïgnoreer kan word.
Maar in my gesels hieroor kom ook die ander kant van die saak na vore: op die voorblad van die koerant van Sondag word berig dat 230 miljoen (sowaar!) Indiërs daagliks honger ly. 44% van kinders onder 5 jaar is ondervoed. 21 miljoen kinders sterf voordat hulle vyf jaar oud is.
Een uit elke vyf Indiërs het dus nie ‘n menswaardige bestaan nie.
Ek vra uit hieroor. Een van die antwoorde is dat in die platteland ouers hul kinders as ‘n bron van inkomste sien. Kinder-arbeid in Indië is nou onwettig. Daar is skoolplig van 10 jaar. Maar ouers steur hulle nie hieraan nie. Hulle ignoreer doodeenvoudig die wette. Ouers, word vertel, sny soms die kinders se tonge uit sodat hulle kan bedel en simpatie kan kry.
En dit alles in die negende rykste land ter wêreld.
Tereg skryf die koerantberig wat die syfers oor armoede berig: die syfers kan nie sommer geïgnoreer word nie. Hulle waarsku van sluimerende spanning wat, sou dit tot uitbarsting kom, die toekoms van die land kan ruineer.
Tye om diep oor die evangelie na te dink: meer nog. Tye om aan te por en profeties op te roep tot ‘n meer humane en spirituele samelewing.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.