Tuesday, January 24, 2012

Die motorfiets en die priester

Ek waag my lewe om hier in Bangalore by die groot winkelsentrum uit te kom waar ek die middag wil deurbring en sommer iets ligs wil eet.


Die verskriklike verkeer in die straat voor die sentrum vee hulle af aan voetgangers. Almal waarsku my dat 'n mens 'n tegniek moet volg om oor die straat te kom. Jy moet maar eerder by die plaaslike inwoners aansluit as om op jou eie oor die straat te kom.


Ek oorleef die oorgang oor die straat net-net, en dan die staptog, kuier in die sentrum, die enigste wat ek raakloop wat soos 'n gewone sentrum in alle groot wêreldstede lyk. By 'n MacDonalds eet ek 'n plein hoenderburger, tjips en 'n coke - my eerste nie-Indiese kos in 'n week se tyd. Al die dieet diepte-strukture van my gestel kom vir 'n halfuurtjie tot rus.


Maar dit is met die terugloopslag na die Universiteit in Bangalore se besigste straat dat ek op 'n fassinerende toneeltjie afkom.


Terwyl al wat 'n voertuig al donderende verby hulle jaag, staan 'n Hindoe-priestertjie by 'n gesin: pa en ma het kennelik so pas vir hulle seun 'n motorfiets gekoop. In die Indiese kultuur moet die ouers vir die kinders sorg tot hulle 'n eie gesin het. Hulle sorg vir hul kinders se opleiding, hul troue, hul huis en hul motors.


En, hoor ek later, as hulle vir 'n kind 'n ryding koop, seën die priester dit in. Dit is 'n gevestigde kultureel-religieuse gebruik. Hier, as gesin, is hul met hul materiële besittings godsdienstig besig. Sommer daar net langs die straat terwyl ek soms my hart vashou dat 'n voertuig die fiets platry sonder dat die priester sy seëninge klaar kan maak.


Die priester het 'n klein silwer skinkbordjie met twee geel en rooi verfpotjies daarop. Hy druk sy vinger in die potjies, oor en oor, en dan druk hy dit op die fiets se voorkant en neus. Dit is 'n hele ritueel, oor en oor, van versiering, viering, gebed en toewyding.


Die heel tyd spreek hy onophoudelik 'n mantra uit as deel van, sê my kollegas, 'n baie algemene ritueel. Die ritueel duur lank, seker hier by die twintig minute, terwyl ek my verstaar daaraan.


Die priester gooi op 'n stadium 'n kokosneut op die straat stukkend en hang 'n krans van jasmyn-blomme oor die fiets se stuurwiel. Hy steek 'n wierook stokkie aan en brand dit by die fiets.


Die hele Bangalore kreun en steun en jaag intussen teen verskriklike spoed deur die straat.


So tussen-in sit eers die pa en die ma, duidelik baie dankbaar, 'n rolletjie note op die skinkbordjie. Later voeg die jong eienaar van die motorfiets 'n nog dikker rol by. Die priester neem dit met een deftige greep in besit.


Ek vergaap my aan die toneel. Toe die priester sy tempel, reg langs die seremonie, binnestap, vra ek hom of hy 'n priester is. Hy knik sy kop, maar enige verdere kommunikasie is ontmoontlik: hy sê flink vir my: Hindi, hindi. Soos baie Indiërs is sy Engels tot die minimum beperk.


Ek loop terug na my blyplek op die kampus, al peinsende oor die ervaring. Hoe kan 'n mens ooit so iets peil? Hierdie gesin se godsdienstigheid: die pa en ma en suster saam met hul seun en broer rondom sy splinternuwe ryding. Hulle is verlore in die seremonie waarin hulle goddelike beskerming en seëning op hul seun se lewe en fiets vra. 

Dit is duidelik vir hulle meer as 'n formaliteit - terwyl, lyk dit vir my, die priester die hele seremonie as een van vele beleef. Hy praat die mantra's en hy doen alles reg en goed, maar dit is die gesin se houding, hul inleef in die gebeurtenis wat my bybly.


Hoe sal 'n mens dit peil: hier in die groot stad Bangalore, tussen die rasende verkeer, is 'n gesin met 'n splinternuwe motorfiets bymekaar om die materiële met die religieuse te verbind.


Dit knaag so bietjie aan my - hierdie wete dat ons in al ons voorspoed en die baie rykdomme wat ons vergaar, binne ons Protestants-Christelike konteks maar min sulke gebeurtenisse kan wys. Ons koop en geniet, onbewus van die Een wat alles aan ons gee en teenoor wie ons veel dank verskuldig is.  Dit is nie altyd dat ons nie wil nie. En so 'n ritueel is vir ons onbekend. Maar hoe sou 'n mens binne 'n Christelike konteks 'n jong man wat trots sy nuwe ryding kry en 'n gesin wat saam met hom bly is, kon help om dankbaar te vier dat wat hy kry, spesiaal is en van die goeie Gewer kom? Op watter soortgelyke manier sou ons die verterende materialisme van ons tyd bietjie kon stuit en uitdaag?


Iets om oor te peins.....


Hier is 'n paar foto's:


Tuk-tuks staan ingeryg in die straat langs die tempel, reg om hul bydrae tot die enorme verkeersdrukte te lewer: 
 



Die Hindoe-priester is besig om die voorkant van die fiets met geel en rooi verf te bedruk:



Hy praat onophoudelik 'n mantra. Op die grond staan sy skinkbordjie. Om die groepie jaag tuks-tuks, motorfietse, motors en vragmotors sonder om eers die seremonie te bekyk:





Langs die groepie is die ryk versierde Hindoe-tempel, regs langs 'n opslaanhuis.  Op die grond staan die skinkbord met 'n kokosneut wat die priester oomblikke later op die grond stukkend slaan sodat ie sap uitstroom.



Hier is die binnekant van die Hindoe-tempel. reg langs die straat waar die groepie staan:


 Aan weerskante van die straat jaag busse verby. Die familie staan mooi opgelyn.


 Die priester brand 'n vlam op sy skinkbord en die fiets is in 'n krans getooi. Die pa haal die rol note uit sy hempsak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive