Wednesday, January 18, 2012

Skoonheid en liefde

Miskien is die Taj Mahal des te meer mooier omdat 'n mens deur sulke haglike toestande moet sukkel om daarby uit te kom. Die pad na een van die bekendste monumente ooit, loop immers deur die aller-armste plekke en dorpe.

Maar die Taj Mahal is werklik mooi. En, sou dit in 'n allerskoonste land gebou wees, sou dit darem seker nog betower het.


Eintlik is die plek onvoorstelbaar: 'n reuse monument, met dimensies wat mense-figure oordonder, vir 'n geliefde vrou gebou. 

Ondenkbaar: In die koepel-kamer kom 'n mens op die twee kiste van die koning en sy geliefde af. Piepklein.

Ons is daar op 'n helder dag. Die gids vertel dat hulle die vorige dag nie die gebou kon sien nie omdat daar soveel mis in die lug was - iets wat nogal dikwels in die winter gebeur. Die blou, blou lug laat die marmer-wit helderder as ooit uitstaan.

Die skoonheid van die marmer-gebou, met die allerfynste inlegwerk, is onoortreflik.


In Bangalore vandag, terwyl ons verwelkom word by ons ontmoeting met kollegas vir 'n lang byeenkoms oor ons gemeenskaplike werk aan spiritualiteit, word genoem dat ek spesiaal gereis het om die Taj Mahal te sien. Besoekers word dopgehou. Hulle prioriteite nagegaan... Erkentlikheid vir hul kunsskatte bring genoegdoening en waardering, besef ek.

Indie is trots op hierdie uitsonderlike monument. Dit is hulle pronkstuk - die agste wonder van die wereld, word ek 'n paar keer vertel.


Ek loop verwonderd rond tussen die gemaal van die duisende toeriste wat die plek besoek. Selfs die besige gewoel kan 'n mens se innerlike verwondering nie demp nie.


Ek verwonder my aan die mens se kompetensie om skoonheid te kan skep. Die koning, al rouende oor die dood van 'n geliefde vrou, bring as teken van sy liefde 'n monument tot stand wat die hele aardbol nou al vir eeue lank betower.


Die liefde is 'n oorweldigende bron van inspirasie.
 








No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive