Saturday, January 28, 2012

Wiele met hul wavragte

Terwyl ek nog boedel opmaak oor my ervaringe in Indië, kom die beelde oor al die voertuie gereeld by my op. Dit bult jou brein hoe mense enige iets gans vernuftig op hul wiele oplaai. En daarby, samehangend, is die grootskaalse informele ekonomie. Want wat op wiele is, is op pad om verkwansel te word.









Orals, orals sien jy dinge te koop. Op die manier, soos op die foto hieronder wys, verkoop mense sommer langs die pad hordes valhelms vir motorfietse - netjies in hul plastiek toegedraai, hul tuite in een rigting gerangskik.



Hele gesinne is op een motorfiets op pad (kyk die straatverkoper op die agtergrond van die tweede foto):







En tussen al die gewoel in, oral langs die strate, bly mense. Op die foto hier onder is daar 'n hele gesin wat in haglike omstandighede langs die pad woon.





Op die foto hieronder sien 'n mens 'n reuse-pot en, al in die ry, 'n vuurtjie, op die driewielfiets, aan die brand onder die pot.




Die bus vol sakke op sy kop.



En hier 'n bol potte vir die hele Indië:



Jou wysbroue kan jy nou hoog optrek. Maar, by nadere denke, vertel die foto's van geswoeg om te verdien.  En van mense wat, brandarm, eenvoudig enige plek in die groot stad sal bly om naby 'n inkomste te wees, om aan die lewe te kan bly.

Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer besef ek: Indië en Afrika (dink Transkei-busse) deel veel. Wat by ons meestal verborge is, is by hulle vir almal om te sien.

Want, dikwels, onthou ek, as ek die vinniger roete hier op ons dorpie deur Plankenburg neem, sien ek dieselfde tonele. Opslaanhuisies, sommer langs die pad. Maar elke tweede een is 'n winkeltjie, of 'n garage of een of ander besigheid.

Dit gaan om mooi te kyk en nie te veel vinger te wys nie....






No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive