In Spiritualiteit word onderstreep dat mense op twee maniere oor hulle self dink.
Aan die een kant is daar ‘n idealistiese, entoesiastiese en gedrewe lewensuitkyk. Dan dink ‘n mens die lewe is vol kanse wat aan jou gebied word om dinge ywerig te doen om daardeur ‘n beter lewe vir jouself te beding.
Elke mens droom daarvan om ‘n “sukses” van die lewe te maak. Hoe jy lewe en wat jy uit die lewe haal, redeneer mense, hang af van wat jy daarin sit en hoeveel energie jy aan jou loopbaan en jou toekoms spandeer. Jou toekoms, sal die wyses vir jou sê, is in jou eie hande.
Met hierdie instelling heg jy veel waarde aan alles wat in die teken van ‘n goeie lewe staan. Goeie waardes soos sukses, prestasie, meriete en vordering is hoog op die agenda.
Hiermee kan ‘n mens nie stry nie. Dit is belangrik om met verantwoordelikheid vir jou eie bestaan te leef. Dit is goed om gemotiveerd te wees, om te streef na vooruitgang.
Die instelling kom met ‘n bepaalde prys: Die groot ideale wat ‘n mens vir jou lewe het, kan alles oorheers. Dit kan ‘n mens dryf om oor ander mense te loop en om niks te ontsien om die boonste sport te bereik of om besittings te vergader nie.
Daar is, aan die ander kant, tog ‘n ander manier van dink oor jouself. Hier gebeur iets met ‘n mens op ‘n veel dieper vlak wat te doen het met jou siening van die waarde van lewe. Sommige mense besef dat die lewe nie iets is waarop jy geregtig is of waarmee jy kan maak wat jy wil om vir jouself ‘n goeie bestaan te verseker nie. Iewers ontglip jou lewe jou eie beheer en transendeer dit jou vermoë om alles netjies te organiseer en te rangskik soos dit jou pas en soos jy dit goed dink.
Hierdie dieper denkers leef op ‘n vry manier uit die wete dat die lewe ‘n kosbare gawe is wat ‘n mens ontvang en wat jy nie noodwendig verdien nie.
Hulle weet te goed uit dure ervaring: Daar is byvoorbeeld tye wanneer ‘n mens met die beste wil van die wêreld nie die gang van sake kan beheer nie. Daar is oomblikke dat jy magteloos staan voor die dood. Dit is die tye wanneer hierdie besef van die lewe as iets wat na jou kant toe kom, onbeheerbaar, en onbestierbaar, by jou deurdring.
Dit is dan die tye dat jy weet dat dinge vir jou uitgedeel word. Maar hiermee saam kom daar ook die insig hoe alles uiteindelik ten goed meewerk.
Die kuns is om die besef van hoe kosbaar die lewe is, elke dag bewustelik te beleef. ‘n Mens wat eg, outentiek leef, is die een wat bewus bly van die lewe as ‘n gawe aan jou, onverdiend.
Wanneer ‘n mens voor die geheimenis te staan kom dat die lewe ‘n gawe is, ontstaan daar in ‘n mens ‘n ontvanklikheid dat God se genade en liefde elke dag met jou saamreis. Hoe jy die lewe sien, maak iets in jou oop van hoe om God te sien.
Wanneer ‘n mens bewus bly dat die lewe ‘n gawe is en sonder enige meriete aan jou kant vir jou geskenk word, begin ‘n mens anders dink oor jouself. Want agter elke gawe staan ‘n gewer – ook van die lewe. En die Gewer van die lewe, begin ‘n mens al hoe meer besef, moet besonder spesiaal wees om aan ‘n mens so ‘n onvergelyklike gawe te gee. Wie is dit, vra jy dan, wat sommer so, sommer om geen rede, sommer vir niks, aan mense die lewe gee?
Merkwaardig. ‘n Mens dink op twee maniere oor jouself: jy kan voluit vir jouself leer en vir jouself oral ‘n plekkie in die son uitskrop. Of jy kan dieper gaan en die kosbare gawe van die lewe so leef dat jy die Gewer van die lewe leer ken. Dan bestaan jou lewe nie meer net uit ‘n soeke na self-verryking nie. Dan word jou lewe ‘n soeke na die rydom wat daar te vind is by die Gewer van alle goeie dinge. Dan begin jy die lewe koester, soos ‘n mens met kosbare geskenke maak: jy is dankbaar vir wat na jou kant toe gegee word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.