Net 2% van Indiërs is katolieke. Hulle word, vertel my kollega’s, darem nie bedreig nie, veral nie deur die Hindoes nie. Hinduïsme is ‘n vreedsame godsdiens en gee ruimte aan Christene solank as wat dit nie bedreigend is nie.
Maar, vertel hulle daarby, daar is ‘n besondere sensititwiteit tussen godsdienste, veral om nie die indruk te skep dat hulle ander gelowe op ‘n onbillike manier proseleteer nie.
In die suide van die land verander die prentjie. Daar is Katolieke in ‘n sterker posisie In Kerala is 20 persent Katoliek. Hulle invloed in die samelewing is beter, hulle fasisliteite ook omdat hul lidmate uit die hoër inkomste-groep kom. Hulle skole, byvoorbeeld, is uitstekend.
Die katolieke tradisie in Kerala is baie oud. Hulle voer hulle geskiedenis terug op die apostel Thomas. Hoewel daar geen dokumentasie is dat die apostel wel in Indië was en hier vermoor is nie, het hy ‘n simbool geword vir die Siro-Malabar Katolieke rite.
Hulle is trots en voel sterk oor hul identiteit. (Ander rite’s in die kerk is byvoorbeeld die Armeniese, Koptiese, Latynse rite’s). Amptelik is hulle deel van Rome en word die Latynse kerklike kultuur op hulle afgedwing, maar in hul harte is hul ‘n onafhanklike kerklike tradisie met sterk Oosterse wortels. Dit neem ‘n mens nie lank om agter te kom dat hulle slegs onder protes deel is van die Rooms-Katolieke Kerk met sy Latynse hiërargiese struktuur.
Die plaaslike kollega’s hier in Bangalore beklemtoon dat hulle nie tot die Latynse Katolisisme behoort nie. Hulle is deel van die Siriese rite.
Die verhouding met die pous en met die Latynse Katolisisme is maar strammerig, kom ek agter. Daar is baie rede’s daarvoor. Een daarvan is histories: Europese sendelinge het vanaf die sestiende eeu na Indië gekom (bv Franciskus van Xavier) en vir die plaaslike Katolieke vertel hoe hulle eintlik regtig Katoliek behoort te wees, vertel ‘n kollega van my heel lakoniek. Maar in hul harte is hul veel eerder tuis in ‘n nie-Westerse, nie-Latynse idioom van aanbidding.
Vanuit hierdie Siro-Malabar tradisie het Christ University in Bangalore ontstaan. Dit is hier waar ons ontvang word en waar ons met ons kollega’s gesprekke voer oor ons gemeenskaplike werk aan spiritualiteit (sien die foto's op gister se blog).
Ek dink meer as een keer aan die ironie en die uniekheid: Hier is ‘n “Christ University” in ‘n land waar net 2% van die bevolking Katoliek is!
Die universiteit het ‘n indruwekkende kampus. Pragtige geboue, almal splinternuut en ‘n paar in aanbou, met indrukwekkende kunswerke versier. ‘n Mens voel die diepte van die onderliggende lewensingesteldheid onmiddellik aan. Hier is geboue wat eeu-oue insigte, simbole, gewoontes, lewenswyses en houdinge uitdruk.
(Hierdie reuse-kandelaar staan op die verhooog van die ouditorium van die Universiteit. Dit is behang met 'n lourier van jasmyn-blomme. Die ligte van die kandelaar is vanoggend voor die openbare lesing deur verskeie van die deelnemers in 'n simboliese ritueel aangesteek).
Die status van die universiteit blyk uit een voorbeeld: hulle het ‘n pre-universiteit opleiding vir 2 600 studente. Maar 10 000 doen aansoek. Een uit elke vier studente word dus weggewys.
Tog is dit nie ‘n statusbewussyn wat hulle mee spog nie. ‘n Uitdruklike benadering is om kinders uit agtergeblewe gemeenskappe geleentheid te gee op studie – iets wat hulle normaalweg nie sou gehad het nie.
Die hoof van een van die afdelings van die Universiteit vertel vir my dat hulle as een van die tien beste universiteite in die land gereken word.
Ons sit in ‘n wye kring en praat oor ons gemeenskaplike werk aan spiritualiteit. Die gesprek vind plaas in ‘n lokaal van die mooi, nuwe biblioteek. Die rektor, een van die mees senior lede van die broeders, en feitlik alle leiers van fakulteite, departemente en institute is daar. Ek luister met verwondering na hulle bydraes tot die gesprek. Een na die ander kry ons ‘n beurt om iets te deel oor waarmee ons besig is.
Die gesprek loop uitstekend en dit is duidelik dat daar uit hierdie geledere belangrike nuwe kapasiteit gebied word vir ons werk aan spiritualiteit. Ek is baie dankbaar vir die konkrete resultate. Dit is duidelik dat ons kontak gaan opbou met ‘n groep wat nie net ‘n lang tradisie van ‘n unieke, oosterse, Christelike spiritualiteit ken nie, maar dat ons kontak maak met kollega’s van besondere akademiese bekwaamheid.
Maar daar is twee dinge wat my bybly:
Die een is dat hierdie mense in hul lewensstyl geïntegreerd is. Daar is ‘n afgerondheid, rustigheid en innerlike kompleetheid aan hul geloof. Ek kan dink dat daar die normale porsie van kompetisie, onenigheid en mislukkings is. Dit sou net maar moontlik wees. Daar is nietemin iets aan die Indiese leefwyse wat my boei. Die mense in die lokaal is daar vir die werk waarmee hulle besig is. Hulle is nie die base van die plaas nie. Daar is, eerder, ‘n plaas wat bewerk moet word en iedereen kry sy deeltjie uitgesit waaraan hy of sy moet werk. Hulle is ook slim mense. Hier word teologiese studente eers na 15 jaar studie – ja, vyftien – tot die bediening toegelaat. Hulle moet twee grade kry (o.a. in filosofie) voordat hulle teologie kan studeer en voordat hulle dan op die ouderdom van ongeveer 30 deur die kerk na ‘n werkveld uitgestuur word. Onder die deelnemers aan ons gesprek is daar mense wat aan die voorste instellings in die wêreld navorsing gedoen het.
Ons sou kon baat by hul kundigheid, besef ek. As Christene wat in hul konteks diep nagedink het oor hul eie baie ou tradisies, het hulle op 'n spesiale manier aan hul Christelike identiteit aandag gegee. Ek bedink die kundigheid van hierdie mense en vra myself af: hoe het dit gebeur dat ons in Afrika en in ons eie tradisie so eurosentries geraak het, en dit terwyl tradisies wat tot op die vroegste tye van die Christendom terug gaan, nie eers ons aandag getrek het nie.
Die ander ding wat my opval is hoe die geestelikes leiers verantwoordelikheid vir die akademiese werk op hulle neem. Die professore is almal priesters. Hulle het 'n roeping om uit te leef.
Tussen hulle is daar geen hiërargie nie: hulle kies die rektor en ander hoë ampte uit hul eie geledere en elkeen kry die kans om twee termyne te dien. Meer nog – en dit is die ongelooflikste kant van my onmoeting met die groep – die rektor en al die professore bly in klein kamertjies in hul gemeenskap se huise op die kampus. Nie een het ‘n amptelike woning met ‘n blink kar en allerhande afwyserighede nie. Die rektor nooi ons vir ete in sy “huis” vandag: en daar sit ons, die eregaste, aan by ‘n eenvoudige tafel in die studente se eetlokaal. Ons eet die kos van die studente. En dit is ‘n man met twee doktorsgrade – een daarvan in Oxford.
Veel gesê, dink ek, van mense wat dikwels praat van hul “roeping” en, lyk dit vir my, hulle verstaan goed dat dit ‘n roeping tot diens is. En dit besef ek, is waarom ek met verwondering na hulle kyk. Egte grootheid, word vir my geïllustreer, is nie in die uiterlike dinge te vinde nie. Dit word aangetref in die gee van jouself in diens van ‘n groter roeping wat van Buite jou kom. Egte spiritualiteit, al is daar sekerlik ook maar dorings aan die rose.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.