Thursday, August 25, 2011

Die liefde kom tot hulle wat dit deel....


As ‘n mens al die gewilde liedjies, die vele liefdesgedigte en die baie romans glo, is die wêreld vol van mense met pyn oor onvervulde liefde, oor liefdesteleurstellings of liefdesverlange. Die sangers, digters en skrywers beeld die gewone mens se greep na die liefde op baie maniere uit.

Hoe meer mense probeer om naby aan hul geliefdes te leef, hoe meer ervaar hulle egter ‘n onvermoë daartoe. Hoe meer mense oor die verlange na die liefde sing, skryf en praat, hoe minder ervaar hulle die bevrediging van lief-wees vir die ander.  Hoe dieper die verlange na nabyheid, omgee en die liefde, hoe meer lyk dit buite bereik te wees.

Mense kan selfs op ‘n baie intieme vlak met mekaar saam leef, dieselfde huis deel, selfs dieselfde bed deel – en tog volkome vreemdelinge vir mekaar wees.  Selfs in die allernaaste omstandighede kan ‘n mens met desperaatheid voel asof jy myle ver is van hom of haar langs jou om die tafel, by jou in die huis, saam met jou in die bed.

Dit gebeur hoewel mense tog inniglik begeer om in liefde met mekaar te lewe.

Dit is asof hulle net nie kan uitkom by wat hulle in hul harte begeer nie.  Hoe krampagtiger die uitreik na die ander, hoe leër die innerlike gevoel.

Hoe word die verlange na die liefde ‘n werklikheid in ‘n mens se lewe?

Hierop sou ‘n mens baie antwoorde kan gee: Wees bedagsaam, wees minder selfsugtig. Gee meer tyd vir mekaar. Sê vir die ander dat jy hom of haar lief het. Dink positief oor die ander en moenie hom of haar afbreek nie.

Allerhande wenke word kwistig uitgedeel om mense te help om tot die liefde te kom.

Tog lê die beginpunt van die liefde juis buite onsself, buite die mens se kragte en vermoëns. ‘n Mens ontdek die liefde slegs deur die werking van die Heilige Gees. Die Gees van God lei die mens in die liefde in. ‘n Geestelike mens se lewe word gevul deur die liefde waarmee God hom of haar aanraak en tot nuwe lewe bring.  ‘n Mens, het Jesus wyslik gesê, gee baie liefde omdat ‘n mens veel liefde ontvang het.

Daar is talle voorbeelde van mense wat God ontmoet het en daardeur in ‘n lewe van die liefde ingetrek is. Waar God ‘n mens aanraak, soek ‘n mens nie meer krampagtig na liefde nie. Op ‘n verborge manier word ‘n mens ingetrek in die goddelike sfeer van die liefde. Waar God se Gees ‘n mens aanraak, gaan ‘n mens die woning van liefde binne.

En wie in die goddelike liefdeswoning leef, sal leer om eg lief te hê.  Dit sal nie anders kan nie. Wie God se waters van liefde drink, strome van liefde sal uit sy binneste vloei. Immers, in die deel van liefde, is die mens die ewebeeld van die God wat liefde is.

En, as ‘n mens dan begin nadink oor hoe hierdie inwoning by God in liefde werk, kom ‘n mens met verrassing agter dat die liefde kom tot hulle wat nie daarvoor vra of daarna verlang nie of dit wil afdwing nie, maar dit vloei in strome na hulle wat liefde graag gee en kwistig deel.

Dit is mos juis ‘n beeld van hoe God is – die Een wat die mens eerste liefgehad het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive