‘n Paar maande terug het daar ‘n artikel in ‘n Suid-Afrikaanse koerant verskyn van iemand wat ‘n nuwe boek bespreek het waarin die skrywer argumenteer dat daar niks goeds aan die lewe is nie. Om gebore te word – en dit sonder dat ‘n mens ‘n keuse het – is al sleg genoeg. Om dan deur die lewe te moet sleur, is ‘n lang uitgerekte, dodelike proses van lyding. Die lewe is ‘n uitmergelende proses van bestaan.
Dit was vir my ‘n ervaring om te sien hoe totaal negatief iemand oor die lewe kan dink, maar ook om te beleef hoe iemand so ingrypend al die bestaande opvattings oor die “goedheid” en “mooiheid” van die lewe kan verwerp.
Want is dit nie ‘n ongetoetste siening van vele mense wat eenvoudig daarop aandring dat die lewe kosbaar is? ‘n Mens kry baie aanhalings van groot denkers waarin op verskillende maniere oor die lewe as ‘n spesiale gawe geskryf word.
Hierdie twee perspektiewe hoef egter nie noodwendig teenoor mekaar te staan nie. Die laaste een vier die lewe. Dit laat die moontlikheid oop dat ‘n mens met groot blydskap soggens kan opstaan met ‘n innerlike waardering vir die lewe met al sy geleenthede en gawes. En dit hoef nou nie ‘n dramatiese, spesiale lewe te wees – asof slegs mense van roem en faam sinvol leef nie. Ek self hou van wat Charles Schulz, die skepper van Peanuts, geskryf het:
My lewe het geen doel, geen rigting, geen eindpunt, geen betekenis nie. En tog is ek gelukkig. Ek kan dit nie verstaan nie. Wat doen ek reg?
Vir hierdie mense is die lewe self spesiaal. Die blote feit dat ‘n mens bestaan, met jou twee voete op die aarde kan rondloop, is al vir hulle rede om dankbaar te wees. Al is ‘n mens nie noodwendig bewus van “groot dinge” wat met jou aan die gebeur is nie of groot ideale wat ‘n mens op pad is om te bereik nie, kan die blote, eenvoudige feit van die lewe ‘n mens telkens weer oorweldig.
Trouens, dit is die hart van spiritualiteit: wat tel is nie wat ons doen nie, maar wie ons is as mense aan wie God die kosbare gawe van die lewe gegee het. So, sommer so, kom God, onverwags, genadig, en gee aan ons die lewe, onverdiend. So hoog ag God mense.
Maar die ander kant is ook werd om goed bedink te word. Soms is die lewe pynlik, ‘n kruis, vol lyding en donkerte. Dit is wanneer ‘n mens die lewe vul met onsin, negatiwiteit, kwaad en geweld, dat dinge begin verkeerd loop.
Vir sommige beteken dit dat dit nie die lewe, maar die lewe soos ons dit verwring het, wat sleg is.
Die uiterste is egter wanneer ‘n mens vanuit ‘n konsekwente pessimisme ontken dat ‘n mens die lewe as gawe en die lewe as lyding kan skei. Dit twee is so ineengestrengel, dat die pessimis niks goeds aan die lewe kan ontdek nie. Die lewe is sleg – nie net wanneer ons dit verwring nie, maar bloot omdat ons leef is ons met ‘n kruis opgesaal.
En, laat ‘n mens dan nou eerlik wees: die geweldige vlaag van depressie en die slegte menseverhoudinge van ons tyd – ook en veral onder gelowige mense – gee ‘n mens nie veel vertroue dat daar tog ‘n “goeie” lewe kan wees wat mense gelukkig maak nie.
En tog is die Bybelse perspektief dat die lewe inherent goed is, juis omdat dit as gawe aan die mens geskenk word. In die Bergrede het Jesus dit so belangrik gevind dat hy ‘n belangrike deel daarvan afgestaan het om met sy dissipels daaroor te praat. Jesus vertel aan hulle van die lewe as iets wat ‘n mens nie aan bekommernisse mag oorgee nie. Die lewe is vir Jesus ook nie ‘n blote bestaan – maar net om te eet nie (Lukas 12:23). Daarom moet ‘n mens jou nie oor jou lewe bekommer nie (Lukas 12:23). ‘n Mens moet ingestel daarop wees om sorgvry, voluit te lewe. Dit is vir Jesus juis die kenmerk van ‘n volgeling.
Wanneer ‘n mens die lewe op hierdie sorgvrye manier omhels, is dit omdat ‘n mens besef het dat dit as ‘n gawe aan mens geskenk word. Die Bybel beklemtoon dat die lewe uit God se hand kom. 1 Petrus 3:7 praat daarom van die lewe as ‘n genadegawe. Gelowiges het juis daarom vir eeue lank ‘n Bybel gelees waarin die skeppingsverhaal as die ontstaan van die lewe aan God verbind word. Dit is veral waar van mense: die gawe van die lewe aan mense is vir die Genesis skrywer die kroon van God se skepping. En, beklemtoon gelowige skrywers, aan die einde van alles sal die lewe, ewig, onbesmet, weer die mens se deel word.
Agter ons lewe, aan die begin en aan die einde daarvan, herinner die Skrif ons, is ‘n genadige Vaderhand te bespeur.
Op die manier omkring die goddelike, suiwer lewe die lewe in al sy pynlikheid soos wat die mens dit met die sondeval verwring het. Die lewe wat vir sommige mense te veel word, het nie die laaste sê nie. Wanneer mense hoop opgee op die lewe, is dit eintlik die vernietiging wat die lewe aantas, wat sy tol eis.
Maar hoe lyk die sinvolle lewe dan – die lewe soos God dit aan die mens gee? Hieroor is die Bybel heel aards. Kyk hoe bedink 1 Petrus 3:10 die lewe:
Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. Daar staan geskrywe: As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!
In Spiritualiteit sal ‘n mens veel waarde aan hierdie gedeelte heg: hier word (aan gelowiges!) uitgewys hoedat die goeie lewe ‘n genadegawe word vir mense wat op ‘n heel eenvoudige manier rein voor God en voor ander leef. Om naby aan God en in goedheid teenoor ander mense te leef, is waarom die lewe gaan. Wie naby aan God leef, wie antwoord op God se roeping, sal ryklik met ‘n lang lewe geseën word. Die lewe het alles te doen met hoe ‘n mens met God op wandel is.
Miskien is, in tye dat mense die sin van lewe totaal ontken, die taak van die geloof om die lewe voluit te vier. Geloofsgemeenskappe word geroep, uitverkies, om die lewe as 'n gawe te onderskei en voluit te omhels.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.