Saturday, August 27, 2011

Die wysheid wat ontvang word...

Die wêreld het in die afgelope tye enorm ontwikkel en vooruitgegaan. Kommunikasie met epos, internet en skottel-televisie is maar een voorbeeld van blitsige verkeer wat tussen mense moontlik is en vertel van verstommende tegnologiese ontwikkelinge wat alles eenvoudig makliker en opwindender maak. Medisyne en operasie-tegnieke ontwikkel by die dag, red mense se lewens, versag lyding en gee aan mense 'n besondere lewenskwaliteit.

En tog kan ons enorme vooruitgang nie al die vrae omtrent die mens beantwoord nie. 

Byvoorbeeld: Wie  in die wêreld kan uitspel wat die sin van die lewe is? Waar kom lyding vandaan? Hoe verstaan ‘n mens geweld van mense teen ander? Hoe sou ‘n mens die dood kon verklaar?

Die vrae wys op sake wat vir die mens te groot is om te begryp of te verklaar. Hulle toon dat ons nie regtig die dieper dinge van die lewe met ons rasionele insigte kan uitpluis nie. Daar is die verborge dinge wat ons ywerige kennis-grepe gedurig bly ontglip.

Tog is daar antwoorde – en dit is antwoorde wat binne geloofsgemeenskappe ervaar word: wanneer ‘n mens God, groot bo alles, se onnaspeurlike genade ervaar, verander alles en kry die lewe rigting en sin. Die mens wat op ‘n keer deur God in die hart van sy of haar bestaan aangeraak word, begryp sy of haar lewe nuut.

Boeke en lewens van die geloofsgemeenskappe vertel oor en oor die verhaal van nuwe dinge wat deur die Verborgene aan die gang kom. Waar hierdie Liefde sy mag uitoefen, word wêrelde omgekeer. Die krag van die Verborgene en die uitwerking van die Heilige is onstuitbaar.

Die aanraking word as liefde aangevoel – ‘n onvoorwaardelike uitreiking van God, noem mense dit, van God wat soek om die mens te omhels. 


Dit gaan om die mistieke.


Dit is dan dat die mens al hoe meer, onkeerbaar, ingetrek word in ‘n steeds groeiende liefdesverhouding wat verder wil bly soek na die dieper, verborge dinge. 


Vele vind en vertel dat hierdie onnaspeurlike aanraking - soms oorweldigend, soms net 'n sagte sprong - betekenis aan hul lewe gee. 

Die aanraking van God wat nie met die enomre intellektuele kragte van mense verstaan kan word nie, maar tog innerlike en intiem ervaar word, dryf  ‘n mens byvoorbeeld om verlangend te vra na die herkoms van die liefde. “Wie is die Een wat so vrylik en verlangend soek en uitreik na mense?” soek die aangeraakte vraende na die groter verstaan. Die aanraking laat mense vra na die liefde – hoe lyk hierdie liefde as dit in menslike lewens inkom? Die mens wat liefde in God se teenwoordigheid herken, word ‘n kruisvaarder, iemand wat soek na die self-opofferende weg van die Ewige in die teken van die kruis. En die gelowige mens staan gedurig verwonderd by die besef dat hierdie kruisweg ‘n weg is na die volmaaktheid deur die onvolmaakte heen, 'n pad van self-prysgawe is. 


Elke keer weer word dit ‘n weg waarin die mens nader kom tot God, gevorm word deur God se goedheid om ook self goed te wees.

Op die manier word die geestelike mens deel van ‘n proses wat die wêreld omsluit.

Die medisyne, die tegnologie, die intellektuele vernuf van ons tyd laat ons soms oorbluf staan voor die enormiteit van die menslike vermoëns. Ons word geboei deur al die kennis waartoe die mens in staat is.

Nêrens kry ons die antwoorde oor die sin van ons goeie, verbluffende lewe wat ons in ons voorspoedige tyd kan beleef nie – en dit terwyl ‘n mens inherent ‘n soeker bly totdat sy of haar hart tot rus kom.

Ons ontdek die sin juis buite ons vernuf en ons verstand om.

As ons al die slimmighede van ons tyd bedink en beheers het, laat dit ons wel oorbluf en beïndruk. Dit is egter by die Wysheid wat buite ons lê, wat van buite onsself tot ons kom, wat groter en meer as mens is, dat ons hartsvrae vir ons uitgepluis word.  Die Wysheid, soms maar eenvoudig en dwaas in die oë van hulle wat met hulle brein die streep trek, kom tot die mens in die liefde, reik uit na die hart, en dra daarmee ‘n Werklikheid in mense-lewens in wat al die werklikhede van ons tyd transendeer.


Hoe groot is hierdie Verborgenheid, wat alle verstand te bowe gaan en wat alles nuut maak. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive