Tuesday, August 16, 2011

Oor 'n pypsteeltjie. By die afskeid van 'n vriend






Ek was destyds by ‘n noordelike universiteit toe hy pas aangestel is as piepjong dosent in Nuwe Testament en as ‘n kollega van my.

Ek onthou hom as jonk, ywerig, en, soos ‘n mens van jeug verwag, deurtrek met idealisme. 

Maar hy was ook die sportiewe een onder ons wat gehelp het om ons sportdae en krieketwedstryde te organiseer. Vol lewenslus en met organisatoriese drif vir die departement se sportdag het hy sy esse in die gange gegooi, deure beklop en vinnig oopgegooi om die kantoor-bewoner met sy lysies van spelers, tye, plekke en toerusting te voer. So was hy: lewensdriftig.

Humor het hy nooit in mindere mate gehad nie. Gedurig het die grappies uitgeborrel, met ‘n proes-lag vertel.

Hy wou graag sy proefskrif by my skryf. Ons het nie lank rondgesoek vir ‘n onderwerp nie. En dit het goed en vlytig verloop. Hy was nooit ‘n sukkelaar nie – veral nie as hy akademiese grade moes verwerf nie. En toe kry hy ‘n kleinsielige verslag van een van die eksterne eksaminatore, ‘n ou grompot – al was dit ‘n goeie proefskrif. Ek onthou hoe ek nietemin by hom aangedring het dat hy die inhoud daarvan vir publikasie moes verwerk. Hy wou nie, hoe ek ook al bly vra het.  

Ons paaie het geskei toe ek verhuis het. Maar ons het oor afstande egte vriende gebly en ons het op hoogte van mekaar se doen en late gebly. Hy het die groot oomblikke beleef toe sy kinders gebore is – oor wie hy altyd soos ‘n ware pa gepraat het. Later het hy sy kwota aan krisisse beleef. Maar jaar na jaar, gereeld as ons kon, het ons ‘n aandjie bymekaar gekom, vir mekaar geskryf of, het veral hy, soms net vir my ‘n SMS met ‘n gedagte of ‘n grappie gepos.

Ek was sy Doktorvader, het hy my elke keer weer gegroet of in briewe benoem, en hy was, op sy beurt, het ek die rollespel saamgespeel, my seun in die akademie oor wie ek altoos ‘n ogie van vermaning gehou het.

Hy het sy draaie wyd geloop, met altyd steeds verdere bevordering en met die een akademiese kwalifikasie na die ander. Sy woelige gees het nie gerus nie. Hy het die een projek na die ander met volslae geesdrif aangepak.

Hoe vlymskerp eerlik was hy nie, hierdie woelige mens met sy ondersoekende brein. Hy het die konvensies en die bestaande strukture gou deurgekyk. Met sy pasverworwe akademiese snymessie het hy flink en diep afgeskil aan al die groeisels wat hy gemeen het die boom van die lewe dood wou groei.

Oor die volgende jare het hy besig gebly met dinge wat hom in die kern van sy bestaan geraak het, met vrae en bedenkinge oor die teologie, die kerk en godsdiens. Ons het ook in die tyd vriende gebly en ek wou sy reisgenoot ook in hierdie tyd wees – in die vaste wete dat dit sy reis was en dat hy self daardie reis moes bly loop. Ons kon hierdie dinge bepraat, hulle so bietjie op ‘n afstand hou en bekyk. Ek het my dinge gesê, hy het sy reaksies gegee en ons is as vriende uit mekaar tot die volgende keer dat ons weer ‘n spreekwoordelike pypie voor die wigwam-tentjie kon aansteek en aan hulle steeltjies kou, al pratende, rustig, steeds weer met vertroue wat net tussen vriende kan bestaan, oor die dinge van die lewe.

En toe, ‘n jaar of drie gelede soek hy my op met die nuus dat hy aan ‘n ernstige siekte lei wat hom toenemend sou aantas en sou verswak. Dit was die volgende groot krisis in sy lewe.

Ek het hom nooit ‘n enkele klagte van hom daaroor gehoor nie.

En tog, soos ek vanaand aan hom terugdink, onthou ek die enkele keer of twee hoe ‘n vlugtige skaduwee op sy gesig gewys het as hy oor die simptome gepraat het.

En laas maand, onthou ek nou die byna teruggetrokkenheid waarmee hy my vertel het dat hy op 53 jaar gaan ophou werk omdat sy situasie vir sy kollega’s by die werk te moeilik raak. 

Dit het ons onder andere bepraat – kort gelede, op ‘n lang, rustige Julie-wintersaand in die restaurant oor ‘n stukkie steak en ‘n drinkdingetjie terwyl ek in die Noorde op besoek was.

Hy het darem een biertjie gedrink, al affekteer dit hom sleg, omdat ons nie so baie bymekaar kan wees nie en om darem die geselstydjie te vier, het hy my vertel.

Toe hy huis toe is, later die aand, en hy met moeite in die motor klim en met groter moeite uit die parkeerplek trek, het ek vir die eerste keer besef hoe siek hy eintlik was.

Dit was drie weke voor sy dood.

Maar, nadat ek die skok-nuus verneem het en my gedagtes deurblaai om oor die aanloop tot sy dood en oor sy siekte na te dink, dring dit op ‘n moment tot my deur watter onpeilbare gawe aan my daardie wintersaand geskenk is toe ek en hy vir oulaas van gelaat tot gelaat (Levinas…) kon praat.

Dit was die aand van afronding, van closure, van volmaakte afskeid.

Op hierdie laaste kuieraand, daar in die restaurant, ‘n entjie weg in ons geselstyd, het hy naamlik skielik met my begin praat oor my kursus. Hy wou met my oor spiritualiteit praat. Vir die eerste keer in ons vriendskap het ons aand se praatjies lank en aanhoudend daaroor gegaan.  

As ek nou aan daardie aand terugdink, hoor ek hom met ‘n deurwinterdheid praat van die wending wat daar in die laaste tyd in sy lewe gekom het. Die vrae was verby. Die dors was nou aan die beurt.

Mens weet altyd intuïtief wanneer iemand sy hart oopmaak.

Ek het vir hom vertel van Dorothee Soelle se boek wat ek lees. Sy, die geswore sistematikus wat later ook in haar lewe met verrassing die lig sien val het op ‘n nuwe koers wat die geestelike reis kan inslaan, het die wondere van die mistiek ontdek. Soelle, die deeglike Duitse teoloog, het daarmee juis gekies vir die mees ongewilde wat ‘n mens jou binne die Duitse teologie kan bedink. Sy, met ‘n gerypte, ingeligte en deurdagte teologie agter die blad, het nie daarvoor gekies as ‘n goedkoop, sentimentele ontvlugting nie. Sy het begryp dat die teologie wat sal oorleef, mistiek van aard sal wees. Haar anekdote’s, het ek vir hom vertel, maak haar vertelling oor die mistiek ook vir die oningewyde mens meer toeganklik.

Lank het ek en hy hieroor gepraat.

Op pad huis toe, bly ons gesprek in my gedagtes. Ek kry die volgende dag van hom ‘n SMS waarin hy die boek se gegewens vra. ‘n Week later laat weet hy my onverwags dat hy die boek deur Amazon opgespoor het, elektronies afgelaai het en met genot besig is om dit deur te lees.

Op die manier, op daardie aand, besef ek nou, verwonderd, het ek en hy ons pypsteeltjies gesit en kou, eintlik al pratende sonder soveel woorde en sonder dat ons geweet het dit sou ons laaste gesels wees, oor die Wonder dat ons reis so uitgelê word dat ons op die regte tyd, binne God se wil, opnuut in die ouerhuis tuis word. En dat dit dubbel, meer as ooit, waarde vir ons het – want dit is ‘n tuiskoms van die hart.

Maar ek is nog meer geseënd. Want ‘n week voor sy dood, voor-verlede Vrydag, aan ‘n hartaanval op die ouderdom van 53 jaar, skryf hy vir my dat hy vir die eerste keer ooit weer sy proefskrif gelees het en nou besef dat dit eintlik ‘n goeie stuk werk was!

En terwyl ek hier skryf, op die dag dat hy begrawe word, is ek verdrietig oor sy weggaan, oor my verlies. En tog is daar ook die dankbaarheid oor sy uiteindelike tuiskoms in die Verborgenheid van die volmaakte Liefde – vir ewig vry van die slepende dood wat ons hier met ons saamdra.

Tot siens – tot ons weer kan pypsteeltjies kou, seun. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive