Tuesday, August 23, 2011

Wederkerigheid: Paulus en die mistiek


Die liefdesverhouding tussen God en mens, weet ons, is besonder. Dit vertel van die sterk, spesiale band tussen God en mens.

Maar hierdie band is nie eensydig nie, asof dit net van God se kant af kom nie.

In 1 Korintiërs 13:12 skryf Paulus:

“Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Dit is ‘n opvallende uitspraak. ‘n Mens is nie altyd gewoond daaraan om jou gedagtes in te stel op 'n situasie wanneer die mens en God van aangesig tot aangesig teenoor mekaar sal staan nie.  God wat uitreik na die mens, ja, maar meer: die mens wat ook uitreik na God.

Aan die een kant is die mens dus ‘n ontvanger: passief geniet die mens God se liefde. Maar in hierdie passiwiteit word die mens ook die aktiewe een wat God kan lief het.

Hierdie situasie praat van volkome wederkerigheid.  

Die laaste deel van die teks wys ook op ‘n verdere aspek van die wederkerigheid. God “ken” die mens in volkome liefde. Net so sal die mens dan weer vir God ten volle ken - in volkome liefde lief hê. Om God te ken is moontlik omdat die mens deur God geken word.

Wederkerigheid is ‘n wonderlike begrip, want dit vertel van ‘n verhouding waarin die twee partye hulle self volledig aan mekaar gee en oorgee. Dit alles beteken dat niks meer die mens en God sal skei nie. Hulle verhouding sal intiem wees, sonder enige blokkasies en eie belange. God en mens sal in direkte nabyheid tot mekaar bestaan.

Die mens is dan op God ingestel met sy hele hart, siel en verstand. Net soos God ten volle op die mens ingestel is. Dit is ‘n intieme liefde waarin God en mens op mekaar in toegespitste wederkeringheid ingestel is. Die mens en God staan van aangesig tot angesig teenoor mekaar.  Hulle ken mekaar ten volle.

Steeds weer kan die mens uitsien na hierdie volmaak wederkerige verhouding. En steeds weer beteken dit dat die mens wat deur God aangeraak is, deur God al hoe nader getrek word in ‘n verhouding waarin die mens die goddelike Verborgenheid op ‘n heel spesiale en direkte manier beleef.

Paulus ken die mistiek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive