Thursday, August 04, 2011

Wanneer die kerk genade kwyt raak. Oor die doop (1).

Dit is ‘n kuier-aand en, ontspanne, na die dag se bedrywighede, sit ek en my vriend en gesels oor dit en nog dat. Ons het albei ‘n taai week agter die rug. Nou wil ons terugsit en rustig, op ons eie, as ou vriende, sonder dat ons woorde hoef te tel, met mekaar net praat oor dinge van die dag of sommer net dinge na aan ons hart. 

Ons beland by die kwessie van die doop. 

Hy het, sê hy vir my, soos maar in alle gemeentes, ook ‘n groep mense in sy gemeente wat baie toegewyd is. Hulle is kerklik baie aktief. Hulle neem aan alles deel, neem inisiatief in die organiseer van sommige groot aktiwiteite, lees graag en baie geestelike boeke en hou daarvan om met mekaar en met hom diepsinnige gesprekke te voer. 

Dit is hulle, voeg hy by, wat dikwels die gemeentewerk die moeite werd maak en waaroor hy sy bediening as vrugbaar en vol betekenis ervaar. 

Maar, vertel hy – en ek kan sien dit lê maar swaar op sy gemoed –, vroeër vanjaar, toe hy na die groot stad moes gaan om van sy sake met ‘n deskundige te bespreek, loop hy in die gange van die groot maatskappy iemand raak wat voorheen lid van hierdie groep was en nou in die stad vir die maatskappy werk. 

Hulle is albei verbaas en verras om mekaar so onverwags te sien. My vriend, het ‘n jaar of vier vantevore laas te doen gehad met hom. Intussen het hy uit hulle gemeente verhuis. 

My vriend onthou hoe hy en Johan lang gesprekke in sy pastorie gevoer het. As daar ‘n saak op sy hart was, het Johan by hom opgedaag. Dan het hulle ‘n aand lank ernstig, eerlik en soms selfs keihard oor dinge gepraat. 

Hy het altyd veel aan hulle gesprekke gehad. Daar was min mense, het hy uit hierdie gesprekke afgelei, in die geskiedenis van sy bediening wat sy geloof so ernstig opgeneem het. Daar was min mense wat so uitgestyg het in sy diens aan die kerk en aan ander. 

Na die aanvanklike vriendelike oor en weer gegroetery in die gang van die groot maatskappy se gebou, besluit hulle om ‘n koppie koffie later in die dag wanneer hulle programme rustiger is, te gaan drink. 

Die atmosfeer tussen hulle is vriendelik, toegeneë en nog hartlik. Maar daar was tog ook in sy oud-lidmaat se houding iets wat hom opgeval het en wat hy nie eintlik onder woorde kon bring nie. Hy het probeer dink dat dit sy gesig is wat soms ‘n indruk van afstandelikheid geskep het.  Maar toe weer was dit asof daar ‘n stuk ongeërgdheid, of miskien, het hy gewonder, selfs oomblikke van irritasie uit sy lyftaal gestraal het. 

Seker maar die werk, het my vriend gedink en uitgesien na die koffie en die middag se gesels.

By die Waterkant het hulle die middag om vier uur vir hulle by die vrolike eetplek tuisgemaak. Die dag was volmaak. Die vriendelik, net-warm son het in die vroeg lentedag die atmosfeer nog gemoedeliker gemaak. Mense om hulle het luilekker rondgesit of rondgeslenter. ‘n Orkes in die klein ouditorium naas hulle eetplek het lui jazz musiek uitgekreun terwyl ‘n skaflike skare soms hande geklap het, soms bietjie lyf geswaai het en ander kere weer net saamgeneurie het. 

Daar, in die gemoedelike plek, het hulle twee oor Johan se werk gepraat, oor sy familie, sy vrou wat pas ‘n nuwe werk begin het en al die doen en late van sy kinders.

Toe, uit die bloute, vertel Johan vir my vriend in een konfronterende sin, so heeltemal uit pas met die vriendelikheid van die lente in die lug, dat hy nie meer gelowig is nie. 

Sommer net so.

Hy het my vriend nie kans gegee om iets te sê nie en begin vertel: nadat hy in die groot stad aangekom het, het hy by die naaste gemeente aangesluit. Vol ywer en oorvloediglik, soos ‘n mens dit in Bybelse taal sou kon uitdruk, het hy hom in die kerklike lewe ingewerk. 

Maar gou het hy gevoel dat die geestelike dieet in die gemeente bedoel is vir mense wat ‘n geestelike hongerloon verdien. Hy het na die dieper ervaring gesoek en dus by ‘n charismaties-gesinde gemeente van die kerk aangesluit. Daar het hy uiteindelik “gevorder” tot die organiseerder van die liturgie en veral van die sang. Sy lewe was ‘n dolle tog van godsdienstige ywer. 

Maar ook hier is sy geestelike honger nie gestil nie. Sy verlange wou nie bedaar nie. Hy het meer as ooit gebid, geestelike oefening soos vas probeer en veral ook baie boeke gelees om te oorleef. 

Maar ook die sake kon hom nie innerlik verryk nie. 

Hy het hieruit afgelei dat hy of die kerk iets verkeerd doen. Dit was vir hom asof hy meer, asof hy iets groters moet kan aanbied en beleef. 

Uiteindelik het hy by ‘n onafhanklike kerk aangesluit, oortuig dat sy eie kerk nie meer by was nie – selfs in die sogenaamde ywerige, geesvervulde gemeentes. 

Die nuwe kerk het hom geesdriftig verwelkom. Die tye was opwindend. Die dienste was barstens vol van mense en alles was voorspoedig aan die geloof. 

Dit is hier waar hy hom toe laat doop het, aangevuur deur die groot appel deur die leier van die gemeente dat ‘n mens vir die Here moet kies en dat ‘n mens bewustelik en met eie instemming deur die doop jou deel van die ooreenkoms met God moet nakom. 

Dit, het hy gevoel, sou die groot verskil maak. Alles wat altyd by hom ontbreek het, al sy verlangens wat altyd so onbevredigd was, sou daarmee vervul word. Dit sou hom tot rus bring en vir hom gee waarna hy altyd verlang het.

Dus is hy gedoop. Dit was vir hom ‘n unieke ervaring en hy het met ‘n spesiale gevoel die nuwe fase in sy lewe begin. Wat getel het, het hy toe gedink, is dat hy uiteindelik sy geloof kon anker aan sy doop waarvoor hy hom aangemeld het en waarvoor, het hy gedink, God hom sou reken. Hy was ‘n dankbare mens dat hy sy geestelikheid voor God en die gemeente kon uitwys.

Sy emosies en gevoelens het sterk geloop. 

In die volgende paar maande, vertel hy aan my vriend, het hy sy nuwe gemeente van nader leer ken. 

Die terugkeer na nugterheid in die tyd na sy groot doop het begin koers kry na ontnugtering, ten spyte van sy nuwe gemeente en al die ywerige gelowiges.

Mettertyd het hy hulle van baie naby leer ken met hul gevestigde idee’s en hooggekoesterde voorliefde’s onmiskenbaar herkenbaar. Toe al, kon hy sien, het die doop geen magiese krag gehad wat sy verlangens vanself gestuit het nie. 

Hy was gedoop. Hy was lid van ‘n voorspoedige gemeente. Hy was ywerig. Hy het God gedien met noukeurigheid en met toewyding. En tog het die ou gevoel hom al hoe meer bemeester dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die geknaag het nie opgehou nie. 

Tot hy op ‘n Sondag weer in die kerk gesit het en die prediker begin het om die Woord te bedien. 

My vriend sê Johan sit en kyk so verdiep na die see asof hy terug is in daardie erediens. 

Dit is asof hy nie veel sin het in sy storie nie, asof hy net verder vertel omdat hy al so ver met sy storie gevorder het.  

Die prediker, vervolg hy, het daardie Sondagoggend ywerig begin om te vertel hoe ‘n geestelike mens se lewe moet lyk. En geestelikheid het vir hom ook ingehou dat ‘n mens God se reguit pad moet loop. En toe begin hy praat oor mense wat nie God se reguit pad loop nie. 

Die prediker raas nie voor sy groot gehoor oor  die sondaars van die wêreld nie. Hy ban nie die moordenaars en diewe tot binne in die buitenste duisternis of in die binnekamers van die hel nie. 

Hy praat met sagte stem oor mense wat aanspraak maak daarop dat hulle Christene is en oor kerke wat vertel dat hulle Christelik is maar wat die pad byster is. 

Hy veroordeel hulle in geen onduidelike taal. 

In soet, vriendelike woorde speel hy die rol van God wat verdoem. Dieselfde hande wat Johan op ‘n keer in die water ondergedompel het, swaai vriendelik, maar sonder genade in die lug rond, terwyl hy beduie watter onwaardige Christen-mense en hulle kerke nie tuishoort in God se gawe span van gelowige goeie mense nie. 

Mooi netjies kon die prediker uitspel waarom hy weet wie God gaan begenadig en wie nie. Sy teologie was perfek. Die knaldemper-koeëls waarmee hy die sondaars en kerke wat sulke sondaars duld, omgeklits het, was keiharde, pittige Bybelverse, netjies bedink en aanmekaar geryg. En hy het dit so stemmig en ordentlik gedoen. 

‘n Mens moet God se genade nie onwaardig wees nie.  

Dit was nie ‘n dramatiese oomblik nie – asof Johan daardie Sondag uitgestap het en nie weer sy voete in enige kerk gesit nie. Dit is ook nie dat hy die kerk haat nie. Of dat hy God verwerp nie. 

Dit was net ‘n merkbare versnelling van ‘n proses van ontnugtering wat gou en vinnig vir hom sover gebring het dat hy geen erg mee aan die geloof wat aan hom voorgehou is, gehad het nie. 

Ek beluister my vriend se vertelling. 

Ek sit en bedink die situasie. Hoe sit ons nie almal raadop met hierdie verlange na die dieper dinge nie. En ons wil daardie verlange aanspreek deur te presteer, deur vir God op ‘n verskuilde manier eintlik te wil wys hoe mooi gelowig en goed ons is. Asof genade nie genoeg is nie en ons uitreik na God die tekort gaan goeddoen.  

En dan ontdek ons selfs hierdie greep na God bevry ons nie van die verlange nie en laat ons steeds weer met die groter wordende leegheid. 

En al die tyd, in ons verlange, selfs voor ons verlange, van die skoot van die moeder af, leer die mistici van alle tye ons, is God daar vir ons.  Juis in ons verlange, wanneer ons gestroop word van alles wat ons is, is God daar. Want verlange veronderstel dat daar iemand in ‘n mens se lewe is na Wie ‘n mens verlang.

Daarom, juis ook, is dit nie net ‘n mens se eie doop nie, maar die doop wat in die erediens gereeld plaasvind, wat as sakrament die hele gemeente keer op keer aan God se genade op ‘n sigbare, mistieke manier herinner en laat deel. Elke keer weer wil die doop ‘n mens herinner dat God, ondanks ons eie gevoelens, ons eie emosies en ervaring van ons tekortkominge, aan ons geskenk word. Des te meer wanneer die doop genadiglik geskenk word aan mens ten spyte van hul kleinheid, onmag en onvermoë.

Trouens, die genadige nabyheid van God stroop ‘n mens van alles in ‘n sinvolle nietigingsproses. In die diepste vorme van mistiek, wanneer dit gaan om die nag van die gees, leer ons dat ons moet toelaat dat ons selfs van ons geloof gestroop word – wel wetende, teen alles in, dat niemand ons van die genadegawe van onverganklike Liefde kan beroof nie.  Dit, hierdie Liefde, is al wat ewig bly. Daarom is die diepste moment in die erediens en in die geestelike reis wanneer mense aan God alleen die eer bring – soli deo Gloria. Hy moet meer word… Hy, wat ons eerste liefgehad het…

Ek bedink hoe ironies dit is dat die een sakrament wat bedoel is om sigbaar die genade helder en onomwonde vir mense uit te wys, soveel so dat dit selfs buite enige toedoen van ons kant af vir ons bedien kan word en deur ons ervaar kan word, die speelbal van twis geword het en die slagoffer van ons verskuilde prestasiedrang geword het. 

Die kerk wat genade begin kwytraak, verloor dit nie net in die sakrament van die doop nie. Die verlies aan genade-bewussyn kring onverbiddellik uit na ander kante van die kerklike lewe en sal ook, byvoorbeeld, in die deurslaggewende en lewegewende bediening van die Woord sy tol eis wanneer menslike voorwaardes aan God se onpeilbare genade verbind word. 

Dit is nie nuut nie. ‘n Mens moet maar net Galasiërs lees om te besef hoe oeroud dit in die beste van ons verskuild lê om God se genade ondergeskik te maak aan menslike magsgrepe.

Dit is wanneer die kerk genade begin kwyt raak, dat gelowiges die ongenade in die kerk se prediking as vernietigend begin ervaar. Die boodskap van genade wat die enigste wesenlike verskil tussen kerk en wêreld is, is dan immers uit die weg geruim. Dit is dan dat lidmate begin agterkom dat die kerk voorwaardes vir die genade stel wat niks met die evangelie te doen het nie. En dit is dan dat die een plek waar hul ‘n tuiste van behoort, van genade sou kon vind, vir mense al sy betekenis verloor. 










No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive