Wanneer 'n mens sekere besondere tye en veral treurige tye ervaar, is dit asof 'n mens meer sensitief is vir wat om jou gebeur. Jy onthou die enkele woord, die eenvoudige gebaar, die gesigsuitdrukking, die knipoog. Indrukke en ervarings bly hang en bly jou by, lank nog na die tyd.
Jy sien sekere dinge raak wat andersinds by jou verbygaan of beleef jou omgewing intenser as tevore. En dit is asof 'n mens se verlange na of vrae oor die grotere, dieper dinge, op vele, veral konkrete maniere oral antwoorde kry.
Onlangs, in 'n tyd van afronding, terwyl ons geweet het hoe kosbaar die lewe is, het ek by ons geliefde strandplekkie, waar ons wortels diep ingegroei het, hierdie volmaan-foto geneem.
Die maan het 'n lig-kring oor ons plek laat skyn. Deel daarvan het 'n spatsel-kol op die see gemaak.
Dit was boonop 'n aand dat die branders byna nie gebreek het nie, asof hulle nie nog geraas wou byvoeg in 'n tyd dat 'n mens van binne af soveel harde klanke moes verduur nie, soveel woeligheid moes besweer nie. Dit was asof alles stil geraak het sodat 'n mens ongesteurd die rustig ligspel kon bekyk.
Dit was tower-oomblikke.
So stil, in al ons donker tye, maar so onmiskenbaar lig, is die aanraking van die Ewige.
Wolke wou-wou die maan toemaak, die lig daarvan afsny, maar die lig was te sterk, te helder.
Die lig het van die wolke ligte watte-stukke gemaak, asof die maan 'n sagte plek soek om in toegedraai te word. Dit was asof alles ingestel was op troos in troebelheid, om skerp kante af te vyl en om seer plekke in watte toe te draai.
In die swart van die maanlig-aand herken 'n mens die afskeid, die donker, die swaar in die lug. En tog, wat ons aan die gang hou, was die spatsel lig van saam-wees. Selfs in die donker tye kan 'n mens in die lig wees.
En toe, 'n bietjie meer as 'n maand later, toe die dag van die finale afskeid aangebreek het, het ek vroeg, vroeg wakker geword, teen al my laat-opstaan gewoontes in.
Buite op die balkon, my gunsteling kyk-plek, nog in die skemer, waar ek op presies dieselfde plek 'n kort paar weke vantevore kon kyk hoe die lig tog in die swart tye kan bly skyn, het in die donker wat aan die wyk was, hierdie sonsopkoms voor my oë begin afspeel.
Weer was daar lig. Hierdie keer was die kleure in gloei-geel met 'n breë streep van oranje, van die kleur van kole wat deur vuur verteer word, wat na alle kante oor die gesigseinder bly hang.
Dit was of die son op daardie treurige dag dat ons sou groet en afskeid neem, in 'n groot vuurbal wou ontplof, asof dit lewe en energie op 'n groot skaal die lug in wou slinger. En alles het opgereik na Bo, na 'n wolklose, eindeloos oop, helder hemel. Dit was asof hierdie vuurkolom vanuit die aarde in die hemel, in Oneindigheid, ingebrand het.
So, het ek gedink - en dit was so oneindig stil, doodstil, daardie oggend met die sonsopkoms oor die treurige dag - sal ons, terwyl ander finaal van ons afskeid neem, die groot geheim ontdek: die nuwe, ander, durende, helder lewe, sonder die donker, wat vir ons op die gesigseinder van ons geestelike reis wag. Wanneer ons by die einde kom, is dit maar bloot net God se vurige begin.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.