Wednesday, August 31, 2011

Wat die duiwels skroei....







William Blake, die bekende Engelse mistikus, digter en kunstenaar se twee voorstellings van Satan wat probeer om Job te oorwin en sy geloof te vernietig, is onder sy beroemdste werke. Dit twee werke deel dieselfde vorms, maar verskil ook opvallend.

Die Satan, afgeëts teen donker wolke en 'n ondergaande son, en, uitgebeeld as 'n jong man, met sy arms sterk en kragtig uitgesprei, skiet in albei uitbeeldings pyle met sy regterhand en gooie sere met sy linkerhand uit, terwyl hy triomferend op Job staan. 'n Mens sien in die forsheid van die Satan-figuur, maar self ook in Job se lyf onmiskenbaar Michelangelo se invloed op Blake se skilderkuns.

Die Satan se aanslag is fel en suksesvol. Job ly intens: sy kop ruk agteroor en sy hande is vertrek van die pyn. Die lig val in albei uitbeeldings op die kop van Job, agteroorgekramp in felle lyding.

In die tweede uitbeelding is die kleure veel feller, onder andere met Satan wat twee skrikwekkende rooi vlerke het wat in 'n magtige uitgespandheid oor die hele breedte van die uitbeelding strek. Job wil die mag van die bose/Bose in epiese vorm uitbeeld. Teenoor die sterk Satan, is Job 'n hulpelose mens, uitgelewer, 'n slagoffer. In die tweede uitbeelding is Job se hulpeloosheid sterker gemaak deur sy treurende vrou aan die linkerkant en die vaal, doodse kleur van die aarde teenoor die helder, byna prositituerende kleure van pers, rooi skakerings wat die Satan in sy mag uitbeeld. Teenoor die fel, sterk, wyd uitgespande lyne van die figuur van die Satan is Job verder die vaal, lydende een, met 'n ineengekrimpte liggaam. Hy is platgeslaan, uitgelewer aan die lyding wat op hom neer reën. 

Juis daarom is die uitbeelding so groots en aangrypend: dit is hierdie oorweldigende Mag wat Job uiteindelik oorwin deur aan sy geloof vas te hou. Hy skroei die Satan.


Maar terwyl ek bietjie terugsit voor die impak van die tweede uitbeelding, is dit die eerste een wat my raak. Blake se gebruik van sagte kleure, meestal net skakerings van groen, wat ineenvloei met die komplementêre kleur van grys en geel in die eerste uitbeelding trek my oog telkens weer op 'n spesiale manier. Dit is nog meer mistiek, nog meer raaiselagtig, hierdie aanslag van boosheid in lyding wat in die sagte geel van geloof afgeweer word. 

Harder as in die tweede uitbeelding, is die donker dreiging van die sere wat uit die Satan se linkerhand, die vervloekte kant en daarom veel dreigender, op Job uitgegiet word.  

Anders as in die tweede uitbeelding is dit of die sere nie kan deurdring en land op die liggaam van Job nie. Dit breek nie deur die ligkring nie. Die lyding word uitgegiet, maar geloof kan dit teenhou - al is 'n mens neergevel en al sien ander, jou geliefde, hul gesigte oorweldig, toegemaak deur hul hande asof hulle nie verder kan aanskou nie, alleen maar jou lyding.


Die voorstelling het my laat dink aan die volgende mistieke uitspraak: 


Die woestynvader, Jesaja, skryf:


Die een met nederigheid en trane skroei die duiwels - hulle kan nie naby so 'n mens kom nie.


OF: 


One who has humility with tears scorches the demons, and they cannot them come near him.

Abba Isaiah, Matericon

(met erkenning aan Mark Sedrak). 

Hoe verryk die teks van Blake se mistieke resepsie van Job nie tog 'n mens se verstaan van die boek Job in die Bybel nie. En, as 'n mens weet dat Blake in armoede geleef het, desperaat oor sy onvermoë om mense deur sy kuns te beïndruk, word die eksistensiële nood in die uitbeeldings meteens persoonliker, en, aangrypender. Job en Blake, Blake en Job in 'n mistieke broederskap. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive