Friday, August 19, 2011

Toe kinders begin oorlog maak het: oor die dolk in die hart.








Die bekende “Vader” Kestell was die predikant uit die Vrystaat wat die boere-krygers tydens die Anglo-Boere oorlog geestelik bedien het.


Hy word dikwels "die vader van die volk" genoem. Ek onthou die benaming selfs uit my kinderdae.

Hy is saam met President Steyn en Christiaan de Wet by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.  Ek het al die gedenkplaat vir hom daar gesien en ek het geweet van hom, veral dat hy ‘n legendariese mens was en latere ‘n prominente leier. Maar dit is eers onlangs dat ek hom deur sy geskrif oor die oorlog van nader leer begin ken.

Hy skryf ‘n dagboek, maar nie ‘n persoonlike, vertroulike dagboek soos die van Ds Luckhoff oor wie ek ‘n paar artikels geskryf het nie. Sy boek, getitel, “Met die Boerekommando’s” is bedoel om die gebeure tydens die oorlog vir die nageslag te dokumenteer.

Dit is ‘n insigryke boek wat ‘n mens op allerhande manier inlig oor die situasie waarin mense oorlog gevoer het. Wie sou nou kon dink dat die Boere ‘n hele biblioteek met hulle saamgekarwei het? Kestell, wat maklik Franse en Latynse frase’s in sy vertelling inwerk, vertel dat die tyd soms vinnig verby gegaan het omdat hulle soveel leesstof gehad het. Behalwe vir die Engelse koerante was daar boeke soos Tolstoi se Oorlog en Vrede, Anna Karenina, digbundels, boeke oor fisika, ‘n geskiedenis van die Amerikaanse vryheidsoorlog, ‘n paar godsdienstige boeke, Seneca-uittreksels en ‘n lewensverhaal van Savanrola.

Dit is ‘n ewewigtige boek van Kestell oor die kommando-lewe. Daarin word die mooi en donker kante van hierdie geskiedenis blootlê. Hy skryf oor die oorwinnings en die nederlae van die Boere. Hy lig hulle dapperheid uit, maar vertel ook van die verraaiers, die banges en praat ook van die kere dat hulle wild en hoogs onordelik op vlug slaan.

Dit is nie mooi om te lees hoe sommige Boere op kritieke tye en as hul lewens in gevaar geraak het, hulle self vinnig uit die  voete gemaak het en toe deur hul mede-burgers terug na die slagveld gaan haal is.

Kestell dokumenteer versigtig die heldemoed van vroue, die ontbering wat hulle lei en vertel telkens met afgryse hoe die vyand hulle huise afgebrand het, hulle kos vernietig het, hulle huisware stukkend gebreek het en hulle sonder heenkome op die plase agtergelaat het.

Hy vertel hoe ‘n vrou uitgeroep het dat sy nooit so swaar gehad het as toe haar kinders haar, na ‘n strooptog van die vyand, vir kos gesmeek het en sy niks gehad het om vir hulle te gee nie (212).

Hy beskryf ook hoe kerke se plankvloere uitgekap is vir brandhout (214).

Kestell, die godsman, maak nie van sy hart ‘n moordkuil nie. Hy steek nie sy veragting vir die vyand weg nie. Hy vertel byvoorbeeld hoe hy op ‘n stadium met groot blydskap gehoor het dat krygsgevangenes in Bermuda geweier het dat hulle makkers deur die Engelse met militêre eerbewyse wat gewoonlik vir Britse soldate bewys is, begrawe word. Daarmee wou die Boere “onversoenlik en openbaar hulle bitterheid en vyandskap op allerlei wyses” teenoor die Engelse toon, skryf hy kwaai. Dit was vir hierdie Boere ondenkbaar dat die Union Jack oor ‘n kis van hul mede-burgers gedrapeer wou word of dat drie salvo’s oor die graf afgevuur word.

Kestell voeg by dat sy hart by die lees hiervan “gejubel het van vreugde.”

Maar ‘n mens besef eers werklik sy integriteit wanneer hy elders die Engelse jammer kry nadat die Boere ‘n groot buit van hulle gemaak het.

Hy skryf hierdie woorde:

“Arme Tommie – ja, laat ek met teerheid van hom praat, hoe anders ek my ook sou uitdruk wanneer ek in die abstrakte oor die Engelse volk praat of in die konkrete oor Chamberlain, Milner en talle offisiere van die Britse leer – arme Tommie het sy Kerspoeding, tabak en nuwe uniform (Kersgeskenke) die vorige aand ontvang en hy het ‘n pakkie daarvan gemaak en dit by sy koppenent neergesit met die doel om dit die oggend aan te trek en te geniet. Vir menige Tommie het die môrelig nie gekom nie en vir nie een vreugde of genot nie. “

Om met teerheid oor jou vyand te kan praat….

Die toon van die boek is saaklik en eerlik. Dit is ‘n manne-boek hierdie. Dit gaan oor oorlog wat tot die bittereinde geveg moet word. Die vyand, juis in sy harte- en gewetenloosheid, moet verdryf word. Kestell het nie baie tyd, kom ‘n mens agter, vir Transvaalse vegters wat kort-kort hier teen die einde van die oorlog wou vrede maak nie. En wanneer hy die moed van die Vrystaatse bittereinders en hul vroue beskryf, besef ‘n mens dat hy nie veel simpatie het vir boedel oorgee nie. Al is die lyding groot, is die prys nie te hoog om te betaal nie.

Dit is Vrystaatse heldemoed wat in die boek uitslaan, besef ek skielik vir die eerste keer dieper kante van die Boere-oorlog. En besef skielik waarom Pres. Steyn en Kestell by die Vrouemonument begrawe is.

Maar Kestell is nie ‘n sitkamer-skrywer of stryder nie. Getrou het hy van slagveld tot slagveld saam met die burgers getrek, saam met hulle in die oop veld gebly, ontberings gely en in bitter koue in die nag gemarsjeer of onder die oop hemel geslaap. Hy het vir hulle dienste gehou, vir hulle begrawe en op baie maniere vir hulle geestelike begelei. Hy is nie die kapelaan veilig en ver agter die linies nie. Hy is oral by, ook in die hitte van die stryd.

Geen wonder dat hulle hom as ‘n veggeneraal wou aanstel nie.

Hieruit sou ‘n mens nou maklik wou aflei dat die kerkman ‘n oorlogsugtige mens was.

Dit was hy nie. ‘n Mens sien hoe hy telkens die hoë tol wat die oorlog eis, aanteken en bedink. Hy hou ook nie van die lelike dinge wat mense aanvang as hulle eers begin oorlog maak nie. Dikwels skryf hy met groot afkeer oor die Boere-vegters wat huise en winkels stroop.

Soms sien ‘n mens die ontsetting oor die omvang en gevolge van oorlogvoering deurskemer. Om dit te verstaan moet ‘n mens weer eens die toon van die boek bekyk:

Luckhoff skryf nie baie oor sy interne gevoelens nie. Hy wil gebeurtenisse aanteken. Terwyl hy byvoorbeeld praat oor hul kersdagvieringe, voeg hy heel onverwags by: “Te midde van al die vreugde het ek nie geweet dat my seun reeds elf dae dood was nie!” (206).

Dan vertel hy verder van hulle volgende aksie teen die vyand. Een enkele paragrafie waarin hy noem dat sy seun dood is. Die uitroepteken is al aanduiding van die intensiteit wat hy beleef.

Eers op bladsy 219 vertel hy hoe hy op “n uiters droewige dag” van sy sewentienjarige seun se dood gehoor het toe hy op 8 Februarie 1902 deur Marthinus Snyman daaroor ingelig is. Dan skryf hy weer ‘n kort paragraaf:

“Ag, wat het deur my hart gegaan! Maar hierdie is nie die plek om gewaarwordinge van die aard aan te teken nie.”

Sy persoonlike verlies word in stilte, weg van paper en ink, beleef.

Juis daarom is die volgende paragraaf vir my so insiggewend. In die laaste jaar van die oorlog skryf Kestell van ‘n proklamasie wat die krygsraad uitgevaardig het. Daarin word gewettig dat seuns van 14 jaar opgekommandeer kan word.

Dan skryf hy:

“Ons owerheid het aangedui dat die vaderland nie slegs van ieder man nie, maar ook van elke kind verwag het om sy plig te doen.”

Hy begin sy hoofstuk 22 met hierdie berig. En hy begryp goed tot watter vlak die oorlog die republieke gebring het. Die ondenkbare het begin: selfs kinders is nou soldate…

En duidelik, helder is sy verstaan hiervan wanneer hy skryf:

“Vir my was dit asof ‘n dolk deur my hart gesteek is toe ek van hierdie proklamasie hoor.”

Met hierdie woorde het Kestell sy onsetting oor oorlog helder deurgegee…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive