Thursday, August 18, 2011

Reinheid van hart


Reinheid van hart

In die bergrede is daar ‘n opvallende uitspraak van Jesus:

Geseënd is hulle wat rein is van hart, want hulle sal God sien (Matteus 5:8).

Hier word twee belangrike uitsprake gemaak:

1. Die eerste uitspraak gaan oor reinheid van hart. Reinheid van hart sou ‘n mens miskien kon laat dink aan iemand wat ‘n goeie lewe lei, wat die regte dinge doen en wegbly van oortredinge van God se wil.

Maar hierdie siening moraliseer Jesus se uitspraak, so asof ‘n mens eers ‘n stukkie werkheiligheid moet vertoon voordat ‘n mens vir God kan sien. ‘n Mens, word dan gedink, moet eers 'n klomp goeie dade kan aanbied om God te kan sien.

Maar as dit die geval is, sal niemand God kan sien nie. Dit leer Romeine 1-3 te duidelik, maar dit weet die earlike, self-ondersoekende mens ook.

Reinheid van hart is veel eerder daardie innerlike drif wat die tollenaar gehad het die dag toe hy die heilige plek van God ingegaan het. Hy was daar, in die plek van God se heiligheid, innerlik volledig op God ingestel. Met die gebed dat God hom genadig moet wees, was alles binne in hom op God gefokus. Hy was gereinig van alles wat voorheen tussen hom en God gestaan het en wat hom weggehou het van God se plek. En, het Jesus oor die tollenaar geleer – dit is hy wat geregverdig is. Nie die Fariseër met sy netjiese sondelose bestaan nie.

Dit word in Jakobus 4:8-10 verder duideliker gemaak. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!"  

Sonde word hierdeur verduidelik as alles wat tussen God en die mens staan – alles wat die mens daarvan weerhou om hom of haar oop te stel vir God. ‘n Sondaar is iemand wat dubbelhartig is, wie se hart nie op God alleen gerig is nie. Dit is iemand met dubbele lojaliteite, wat 'n Mammon as 'n ekstra god koester.

Maar van alle tye af, reeds in die eerste testament, is geleer: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie (Ps 24:3-4).

Sonde, dus, is om aan nietige dinge vas te hou, om nie tot God te nader nie. 

Die teendeel hiervan is om tot God te nader, om net op God ingestel te wees, om op pad te wees, berg-op, gedring daardeur om by God se plek uit te kom. Dit is sulke mense, beloof Jesus, wat God wel sal sien.

Jesus wil dus deur hierdie woord ‘n mens leer hoe totaal Liefde moet wees en hoe kompleet 'n mens daarop verlief moet raak.

2. Die tweede deel van Jesus se uitspraak gaan oor die eenvoudige frase dat ‘n mens God sal (en kan) sien.  Dit is die kontemplatiewe kant van geloof: die mens wie se hart totaal op God gerig is, sal nie teleurgestel word nie. God sal God se gelaat tot daardie mens keer en die honger hart tot bedaring bring.

Daar is ‘n rykdom en verborgenheid in die mistieke uitspraak van Jesus: wie rein van hart is, suiwer ingestel op God se dinge, sal God sien. Daarmee kom in hierdie Bergrede-woord die oratiewe – die hart wat volledig op God ingestel is – en die kontemplatiewe dus bymekaar.

Dit is die groot belofte: die een wat verby al die nietige dinge wat sy of haar lewe vol sit, kan kyk en aanbeweeg is die een wat vir God sien. En God, wat die binneste van die hart ken, sal God nie onbetuig laat teenoor hulle wat rein van hart is nie. God kyk met welbehae na hulle wat suiwer op die dinge van die Here ingestel is.

Klink dit alles nou so maklik, maak 'n mens 'n fout. Om rein van hart te wees oorval 'n mens sommer nie net wanneer jy moeg gesondig is nie. In Spiritualiteit word reinheid van hart met geestelike oefeninge verbind, want reinheid van hart, soos Jesus se woord in die Bergrede impliseer, is iets wat 'n mens moet soek! 

Daarom is reinheid van hart 'n komplekse motief. Dit is deel van daardie groot avontuur waarin 'n mens die dinge van God soek en deel maak van 'n mens se lewe. En die soeke na 'n rein hart - soos die Psalmvers ook impliseer - het vele kante. 

Juis daarom is dit nodig om gedurig na te dink oor reinheid van hart. En om 'n mens in te oefen daarin. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive