Daniël en Openbaring is twee Bybelse “apokalipse” of “openbaringe.” Daniel is in die tweede eeu v.C. en Openbaring aan die einde van die eerste eeu n.C. geskryf. Daarin word veral oor die toekomsgebeure gepraat, maar ook God se wil vir die hede bekend gemaak.
Maar Joodse en Christelike gelowiges in Bybelse tye het baie ander soortgelyke openbaringe gehad. Dat daar so baie was, wys hoe gewild hierdie soort boeke in die tyd tussen die Ou en die Nuwe Testament was.
Sommige van hierdie boeke, soos 4 Esra, is in die Apokriewe Boeke opgeneem. Maar daar is ook ander met name soos 2 Barug, die Apokalipse van Abraham, 1 en 2 Henog, Die Apokalips van Petrus en vele ander.
4 Esra is ‘n wonderlike boek, geskryf na die vernietiging van Jerusalem. Daarin besin die skrywer heel aangrypend oor die ondergang van die stad en dink na oor wat nou op Joodse gelowiges wag. Dit is eintlik 'n treurige boek, want die vernietiging van Jerusalem het hierdie toegewyde skrywer se hart gebreek. Hy worstel met God omdat God dit kon toelaat. Uiteindelik vernietig die gebeure nie sy geloof in God nie. Hy hou vas aan God se beloftes dat daar tog 'n tyd sal kom dat God weer aan sy mense 'n nuwe toekoms sal gee.
Maar wat nou so boeiend is, is dat Christen gelowiges net so lekker aan die boek gelees het. Christene het hierdie Joodse boek van hoek tot kant bestudeer. Hulle het dit oorgeneem in hul eie geloofskonteks en dit voorsien van ‘n inleiding en ‘n slot (met verwysings na Jesus). Daarmee het hulle dit tot 'n Christelike boek gemaak. Hierdie Christelike aanhangsels het later bekend geword as 5 en 6 Esra. Vir Christen gelowiges is die verwagtings in die boek verbind met die lewe van Jesus.
Maar wat nou so boeiend is, is dat Christen gelowiges net so lekker aan die boek gelees het. Christene het hierdie Joodse boek van hoek tot kant bestudeer. Hulle het dit oorgeneem in hul eie geloofskonteks en dit voorsien van ‘n inleiding en ‘n slot (met verwysings na Jesus). Daarmee het hulle dit tot 'n Christelike boek gemaak. Hierdie Christelike aanhangsels het later bekend geword as 5 en 6 Esra. Vir Christen gelowiges is die verwagtings in die boek verbind met die lewe van Jesus.
As ‘n mens al hierdie apokaliptiese boeke met mekaar vergelyk, sien ‘n mens dat hulle veral in twee tema’s belanggestel het. Sommige soos Daniël en Openbaring het God se eindplan vir die wêreld aan hulle lesers onthul. Maar ander het nog ‘n tweede element gehad. Sommige geleerdes praat van “wetenskaplike spekulasies” waarin hulle belanggestel het. Die skrywers het naamlik allerhande kennis oor die skepping en oor God aan hulle lesers voorgehou. Die kennis gaan oor die kosmogonie (die wêreld se bestaan) en oor die teosofie (oor God se wese). Daarin word dan allerhande “geheime” oor die astronomie, die kosmologie, die geskiedenis en nog vele van die sogenaamde “heilige” wetenskappe opgeneem. Eintlik word daarmee bedoel dat agter alles wat ‘n mens waarneem, is daar verborge dinge wat gelowiges oor moet nadink.
Daar is ‘n besondere band tussen al hierdie apokalipse met die Bybel. Hierdie apokaliptiese boeke het naamlik almal ontstaan na aanleiding van twee bekende en sentrale hoofstukke in die Bybel, naamlik Genesis 1 en Esegiël 1. Genesis 1 met sy skeppingsverhaal was ‘n hoofstuk wat die toegewyde en ernstige gelowiges in die tyd van die Bybel graag bestudeer het om meer van God se skepping uit te vind. En in Esegiël 1 is daar die beroemde troonvisioen van Esegiël waarin die profeet God op sy troon ervaar en waarin dit lyk asof daar verskeie insigte gebied word oor wie God is en hoe God lyk. ‘n Mens kry dieselfde visioen in Jesaja 6 en Daniël 9.
Van die vroegste tye was latere Bybellesers van hierdie visioene geboei deur hierdie tekste. Sommige mense dink dat hulle hulle so ingeleef het in hierdie tradisies en dit so deel van hul geestelike reis gemaak het dat hulle self allerhande visioene beleef het. Hierdie visioene het hulle in hul boeke neergeskryf. Die visioene het oor die “verborge” dinge gegaan, byvoorbeeld oor hoe die wêreld geskape is, hoe die hemel en die hel lyk en hoe God lyk.
Maar nie almal was so entoesiasties nie. Sommige geestelike leiers en veral sekere rabbi’s het die entoesiasme van die sieners probeer demp. Hierdie leiers was krities oor die visioene en die bestudering van Genesis 1 en Esegiël 1. Hulle het gewaarsku dat nie enige een hulle met hierdie verborge dinge moet besig hou nie en het streng riglyne vir die studie daarvan neergelê. Dit was nie dat hulle die instelling verwerp het nie. Hulle problem was dat sulke spekulasies en vrome visioene die Naam van God oneer kon aandoen en God se heiligheid kon aantas.
Tog was hierdie apokaliptiese tradisie baie sterk. Vandag begin mense besef dat die apokalipse of openbaringe eintlik die eerste vorm van Joodse mistiek was. Dit was tekste wat die diepe verlange na ‘n intieme eenwording met God uitgebeeld het. Hoe kan ‘n mens, vertel die tekste, uit die moeras van jou alledaagse bestaan verhef word om ‘n besonder noue verhouding met God te kan ervaar?
Met ander woorde: hoe kan ‘n aardling in die teenwoordigheid van God op die troon kom?
Onmiddellik sal die opmerklike leser besef: Hier is ons by die agtergrond van belangrike Nuwe-Testamentiese tekste. Openbaring is ‘n boek wat eers vertel van die sewe gemeentes. Maar dan, as die sewe gemeentes bekend gestel is, begin die boek hoe Johannes, die profeet, die siener, in die hemel opgeneem word (Open.4:1) en in die teenwoordigheid van God kom. Hy ervaar dan die merkwaardige troonvisioen in Openbaring 4-5. Baie motiewe van Esegiël kom in die troonvisioen voor (bv. Die trishagion: heilig, heilig, heilig).
Hierdie mistiek in die apokalipse is “troon-mistiek” (merkebah mistiek) genoem omdat dit gegaan het oor sieners se ervaringe van God op sy troon.
Vandag verskyn die een publikasie na die ander oor hierdie vorm van Joods-Christelike mistiek. Dit is ‘n nuwe veld van ondersoek wat groot belangstelling wek.
Wat se soort spiritualiteit is daar in hierdie boeke? Dit is opvallend dat hierdie skrywers, in ‘n tyd toe mense geglo het dat God die wêreld opgegee het, vas geglo het God knoop nog ‘n verhouding met mense aan, openbaar God se wil aan hulle en bly by hulle op ‘n besondere manier in hul tyd van ellende en teenspoed. Dit gebeur, het hulle gedink, dat mense nog direk en op ‘n mistieke manier God se stem met hulle kan hoor praat.
In hierdie geskrifte kry ‘n mens dus ‘n besondere Godsbeeld: God is wel hoog verhewe, in die hoogste hemel, waar God se troon ook gesetel is – soos ‘n mens ook in Esegiël 1 en Jesaja 6 lees. Tog het die mens ook toegang tot God en kan God van naby ervaar. Net enkele mense het die voorreg om God te ervaar – soos byvoorbeeld die skrywers wat in ‘n visioen opgevaar het na die hemel en toegang tot hemelse verborgenhede ontvang het (kyk bv. Open. 4:1). Maar dit neem nie weg dat dit tog moontlik is en dat alle mense van hulle ervarings in hul boeke kan lees nie. Meer nog, ‘n boek soos Openbaring is in die erediens gelees. In die erediens, in die besonder, het hulle geglo, kan die gemeente die teenwoordigheid van God beleef. S
Agter hierdie boeke skuil daar dus ‘n besonder vroomheid. Apokalipse is tekste wat ‘n diepe godsdienssin weerspieël. Die skrywers daarvan was mense wat geglo het ‘n mens kan baie naby aan God kom en dat God die verlange van die regverdige mens aansien en met so iemand die verborge wyshede deel. Hulle is oortuig dat hulle geloof ‘n resultaat was van ‘n ontmoeting met God.
Dit het ‘n groot invloed op hul geloofslewe. Juis omdat hulle in ‘n visioen so ‘n intense en intieme ontmoeting met God gehad het, het hulle meer as ooit geglo in die waarde van hul geestelike tradisies. Hulle besondere ervaringe en ontmoetinge met God het die egtheid van die Bybel vir hulle bevestig.
Dit is ook een van die redes waarom mense die boeke skryf. Die boeke ontstaan in ‘n tyd toe Jode oor die wêreld versprei is en diep vrae oor God gevra het. Die worsteling om hulle lyding in hul tyd en situasie van vervolging te verstaan, bring hulle tot antwoorde wat ‘n mens in apokalipse vind. God, skryf die outeurs, gee nog om vir mense. God reik uit en kommunikeer nog met hulle wat regverdig is en God se wil soek. God het ‘n plan met die wêreld en sal daardie plan ten alle koste tot uitvoering bring. In hierdie tekste gee die skrywers uitdrukking aan hulle gevoel dat ‘n mens in hulle tyd van ontwrigting en vervolging, tog nog God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier kan ervaar. Al lyk dit nie so terwyl ‘n mens kyk na die situasie waarin hulle was nie, is God wel op die troon en kan mense wat na God verlang, op ‘n besondere manier God se teenwoordigheid beleef.
Dit is teen hierdie agtergrond dat ‘n mens boeke soos Openbaring en Daniël moet verstaan. Maar ook Jesus, Paulus, Lukas en ander Nuwe-Testamentiese boeke kan met vrug verstaan word in die lig van die Joods-Christelike apokalipse.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.