Sunday, August 21, 2011

Onverbonde. Om waarlik vry te wees.


Vader Kestell vertel teen die einde van sy boek dat hy tydens die Boere-oorlog op ‘n dag beroof is. Dit het kort voor die einde van die oorlog gebeur.

Hy het teen daardie tyd darem nog  ‘n tas of twee met besittings gehad.  Dit het vir hom in die oorlogsomstandighede darem nog ‘n bietjie gerief gegee.

Al wat hy na hierdie insident oorgehad het, was die klere aan sy lyf en ‘n enkele besitting in sy perd se saalsak. Hy het dus letterlik niks oorgehou nie. Alles is van hom weggeneem.

Hy skryf nie lank oor die insident nie.  Dit kom sommer so terloops uit in sy boek, in ‘n enkele paragraaf. Hierdie oomblik waarin hy van die laaste bietjie aardse sekuriteite gestroop is en waarin hy besef het dat hy niks meer oor het nie, word op ‘n halwe bladsy genoem en vertel en afgehandel.

Hoe kan ‘n mens dan so, bloot terloops, oor so ‘n ramp praat?

Hy self gee die antwoord. Hy besef, skryf hy, dat sy verlies hom vrygemaak het. Hoewel hy van alles gestroop het, het hy nog genoeg oorgehad.

Sy verlies het hom einlik ryker gemaak oor wat dit aan hom gedoen het: dit het hom geleer wat werklik saak maak.

Dit is ‘n mistieke insig en ‘n mens kom dit nogal dikwels teen by mense wat alles verloor het.

Ek herinner my die verhaal van ‘n vrou wat vertel het hoedat hulle alles verloor het. Nadat hulle hul besittings kwytgeraak het, het hulle hul mooiweersvriende wat nie met hulle in hul armoede wou assosieer nie, ook verloor.

Maar dit is toe dat hulle agtergekom het wie was hul egte vriende en watter mense vir hulle lief was ter wille van hulle self en nie ter wille van hul besittings nie. En dit is toe dat hulle ook besef het hoe ryk die liefde hulle maak en hoeveel die omgee van egte vriende vir hulle beteken.

Stroping werk so: dit kan baie erg wees, maar vir die gelowige mens kan die oomblik dat ‘n mens niks sigbaars het om op terug te val nie, soms bevrydend wees. Want dan kan ‘n mens besef hoe kosbaar eenvoudige dinge is – die lug wat ‘n mens inasem, die gesondheid wat ‘n mens kan geniet of die vriendskap van mense wat omgee.

Dit is ‘n spirituele gawe om jou vryheid van die onnodige dinge te behou.  Dit beteken dat 'n mens 'n lewe van onverbondenheid leef. 'n Mens is deur niks gebind nie. Jy is werklik vry van verstrikking.

Dit bring ‘n mens tot die besef hoedat  ‘n mens verskriklik min nodig het. En tog is daardie “verskriklike min” lewensbelangrik. In die grootste armoede, in die gestroopste vorme van bestaan kan ‘n mens nog innerlik vervuld leef. Honger, dors, moegheid en treurigheid  hoef ‘n mens nie te breek nie. Solank ‘n mens in die liefde leef en woon.

Maar dit sou ‘n fout wees om te dink dat ‘n mens bloot gesuiwer moet word van uiterlike dinge, soos besittings, of selfs van mooi dinge soos roem, eer en erkenning. ‘n Mens moet ook van die self gereinig word. Hieroor wil ek meer dink.

‘n Mens moet nie afhanklik wees nie. In Engels word van hierdie onverbondenheid gepraat as detachment – en dit is veral in spiritualiteit ‘n belangrike woord. 

Alleen maar verbind aan die gewer van alle goeie gawes.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive