Dorothee Sölle skryf ‘n paar bladsye waarin sy egte en valse mistiek van mekaar wil onderskei. Sy beklemtoon ‘n saak wat vir baie mense na aan die hart raak. Maklik kan mense van “mistiek” praat, terwyl die dinge waaroor hulle dan skryf oor iets heel anders gaan. Sy wil dus hê dat ‘n mens van die begin af weet wat mistiek beteken.
Om van mistiek te praat roep boonop dikwels weersin op, want mense vereenselwig ten onregte sekere uitsonderlike dinge met die mistiek. Die gevolg is dan dat mistiek misverstaan word as alles wat “vreemd” of “snaaks” is. Party oningeligte menses sal die mistiek met sulke dinge soos die okkulte, met die oproep van geeste (spiritisme), met die lees van teeblare of die voorspelling deur die sterre verbind. Sommige meer “nugtere” mense praat dan sommer van mistieke dinge as onsin of twak.
In sommige kringe word al die vreemde en aweregse dinge inderdaad bymekaar in een groot hutspot gegooi. Daar is baie “progressiewe” mense wat enige iets wat die skyn van godsdiens het, onder een sambreel bymekaar wil bring en dit dan as mistieke dinge wil beskryf.
Maar sulke dinge kan nie as mistiek beskou word nie. ‘n Mens sou eerder van spiritisme kon praat, as jy dan nou wel ‘n woord daarvoor wil vind.
‘n Mistikus is anders as ‘n spiritis wat enige vorm van geestelikheid omarm en goedkeur. ‘n Mistikus is nie ‘n tipe mens wat eenvoudig alles wat oor sy pad kom as goed en waar en reg aanvaar nie.
Die mistikus weet eerder dat die evangelie in vele opsigte ‘n dwaasheid is. Dit staan ‘n klomp mense nie aan nie, omdat die evangelie en die mistiek vir hulle voor uitdagings stel. Die mistikus is nie ‘n ankerlose mens wat hom of haar oorgee aan die een gril na die volgende een nie, asof die een ewe veel werd is as die volgende een nie.
Die mistikus is iemand wat ten alle koste die verborge teenwoordigheid van God soek, al moet ‘n mens daarvoor opoffer en al moet ‘n mens soms bereid wees om alles as hoogste prys op te offer. Alles is vir die mistikus op die spel as dit by sy of haar diepste oortuigings kom. Die mistiek gaan nie maar net om interessante dinge wat die lewe so bietjie opkikker nie.
‘n Mens kan soms ‘n duur pryse betaal ter wille van die verhouding met God.
Tog moet 'n mens ook weer hier versigtig wees. Want om alles vir die Groot Saak op te offer, kan ook weer tot 'n valse mistiek lei.
Maar, skryf Soelle dan, ‘n mens moenie te gou hierdie kenmerk van mistiek romantiseer nie. Dit is waar dat die mistiek van ‘n mens soms ‘n baie duur prys kan eis. Maar slegte mistiek kan dit ook doen. ‘n Mens het baie voorbeelde uit die geskiedenis van mense wat bereid was om vir ‘n skewe, bevooroordeelde en selfs bose mistiek te sterwe.
Daar is mense wat in ‘n sekere dodelik en negatiewe mistiek ingetrek word waarvoor hulle bereid is om hulle lewens af te lê.
Soelle, ‘n Duitse teoloog wat intens bewus was van haar problematiese Duitse konteks, verwys as ‘n voorbeeld na die onstellende feit dat die Duitse fascisme in Hitler se tyd so ‘n vernietigende mistiek ontwikkel het. Nazi’s het gebruik gemaak van bekende mistici soos Meister Eckhart en Jacob Böhme om hul spesiale, intieme gevoelens vir die Duitse ryk, vir die Leier (Hitler), vir die Duitse volk, vir die vaderland en vir die martelare van die volk uit te druk. Hulle het die Duitse ras en volk, die Duitse bodem, kultuur en selfs die materlaarsgesindheid as goddelik ervaar. Om Duitser in die Nazi tyd te wees was iets unieks, wat ‘n mens in ‘n heel verhewe sfeer van ervaring laat deel het.
En gedurigdeur, skryf Soelle, het dit ten koste van reg en geregtigheid gebeur. Dit het, veral, die menslikheid van ander mense verloën. “Ander mense”, veral van die “joodse ras”, is uitgesluit en selfs doodgemaak omdat hulle menslikheid ontken is. Vir Duitsers was die saak helder: as jy tot die Duitse ras behoort en jou lewe feil het vir jou land, jou bodem en jou Leier, het jy die reg om te besluit wie mag lewe en wie moet tot niet gemaak word.
Soelle wys daarop dat mistici vanuit ‘n etiese hoek gedryf is om te beklemtoon dat alle mense voor God gelyk is (Ruysbroeck). Niemand het groter voorrang bo ander in die verhouding met en soeke na God nie. Niemand kan sy eie konteks verabsoluteer nie. Niemand kan God toeëien vir hom- of haarself nie. Alle mense het toegang tot die intieme, lewegewende verhouding met God.
Op die manier kan ‘n mens dus valse mistiek uitken en afwys. Mistiek wys op die eenwording, die intieme verhouding van God met die mensdom. Egte mistiek verstaan presies wat “mensdom” beteken. Dit is nie ‘n klompie mense van dieselfde kleur, kultuur, biologiese eienskappe, werk, kerk nie. Dit verwys na almal wat deur God geskape is.
Mistiek is dus alleen eg wanneer dit begryp hoe God na alle mense, ongeag wie hulle is, in Liefde uitreik.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.