Die verwoestingswerk van jongmense tussen 12 en 20 jaar oud in Londen wat ‘n mens oor die nuusuitsendings bekyk, is hoogs verontrustend.
Sommige kommentators wys daarop dat die kloof tussen ryk en arm in Londen die afgelope paar jaar sterk toegeneem het. Die geweldenaars is mense wat in opstand is oor hul agterstand wat so gewelddadig geword het, beweer hulle.
Ander verklaar die onruste deur te verwys na polisie-geweld, sosiale konteks en verval in die Britse samelewing.
Maar dit was die woorde van ‘n ooggetuie wat my bybly:
Kyk, sê sy, die jong kinders het veral die telefoon-winkels en televisie-verkoopplekke aangeval en gestroop.
In die kultuur waarin hierdie jongmense leef, voeg sy by, word status en identiteit aan hulle toegeken op grond van die telefoon wat hulle het.
Haar woorde bly my by omdat dit vir my ‘n egtheid het en omdat dit ‘n unieke insig in die situasie in Engeland gee. Hierdie jong mense steel nie omdat hulle honger is nie. Hulle steel nie kos, brood, melk of vleis nie.
Maar hier is 'n verdere woord nodig: ‘n Mens moet nie net die jongmense op die manier beskryf nie. Terwyl jongmense hul wilde drif van toeëiening op die gewelddadige manier laat botvier, is ander mense na my gevoel nie minder belas deur hierdie tipe van identiteitsvorming nie.
Ons almal vind identiteit en status in die materiële dinge wat ons besit en in wat ander mense van ons dink op grond van wat ons besit.
Dit is hoe vlak ons geword het.
Spiritualiteit wil juis dat mense presies die teenoorgestelde beleef: ons is nie wat ander mense ons toelaat om te wees nie. Ons kry ook nie ons status en identiteit van uiterlike dinge soos besittings nie. Daarom kan ‘n mens, soos iemand vanaand op die televisie in Engeland sê, arm wees sonder om te wil steel, stroop en roof. Arm, maar gelukkig, sê die volkswysheid.
Die teendeel is egter waar van die geestelike mens: Wanneer ‘n mens die sinvolheid van die lewe ontdek, wanneer jy agterkom hoeveel rykdom ‘n mens innerlik kan besit en deel, kan dit selfs vir ‘n spirituele mens belangrik word om arm, sonder uiterlike dinge te leef. Dan word eenvoud ‘n hoë ideal en ‘n nederige lewensstyl word die hoogste vorm van geluk.
Wat in Engeland gebeur wys vir ons hoe gevaarlik dit kan word wanneer mense versot op uiterlike dinge raak. ‘n Maatskappy met ‘n gebrek aan spiritualiteit leef op die rand van geweld.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.