Monday, August 29, 2011

Hoe meer lig, hoe meer duisternis.

Hoe lyk die mens en die geloofsgemeenskap se verhouding met God? Op watter manier knoop God ‘n verhouding met die mens aan?

Wat die vraag beteken, blyk uit die antwoorde wat mense gee oor hoe hulle God ontmoet. Ons hou daarvan om te dink dat God met ons deur die Woord spreek. Die Bybel as teks is dus vir ons die “woord van God” en – hierdie Woord stel God “teenwoordig” onder gelowiges. Wie die Woord hoor, raak bewus van God se teenwoordigheid.

Maar dit is duidelik dat die Bybel veel meer as net op hierdie indirekte manier oor God se aanraking van die mens skryf. Dit beeld self ‘n veel direkter verhouding met God uit. Behalwe dat individue soos Abraham, Jakob en Samuel direk vir God ontmoet (en selfs met God stoei), is daar ook ontmoetinge van God met die volk.

Daar is met die gee van die Tien Gebooie op die berg Sinai ‘n opvallende verhaal hieroor. Na die gee van die gebooie in Exodus 20:1-17, word vertel hoe die volk donderslae en ramshoringklanke, weerlig en rook op die berg hoor. Dit is duidelik dat dit die plek is waar God teenwoordig is. Maar vir God se teenwoordigheid is die volk besonder lugtig. Hulle is so angstig dat hulle sal sterf as God met hulle praat, dat hulle vir Moses vra om liewer vir hulle toe te spreek.

Ook hier word ‘n bepaalde karaktertrek van God uitgebeeld, want Moses troos die volk dat God hulle op hierdie manier toets om “ontsag” te hê en nie te sondig nie.

Dit is uit die teks duidelik dat die volk Israel geglo het God praat met en ontmoet hulle direk, onmiddellik en sonder tussenkoms van ‘n bemiddelaar of die Skrif. Ander tekste wat dieselfde gedagte oordra kry ‘n mens in Exodus 24 (bv vers 9-11)

Maar oor God se verhouding met die mens kan 'n mens veel meer nadink. Die Bybel beeld die teenwoordigheid van God en die ervaring van die ontmoeting met God op ‘n mistieke, selfs ontsagwekkende manier uit. 'n Mens moet nie te gou te veel dink van hierdie geleentheid om God te ervaar nie. Trouens, daar sit in die ervaring van God 'n onpeilbaarheid wat 'n mens gou op sy plek sit:

In Exodus 20:21, nadat die volk so versigtig was, volg ‘n teks wat in die loop van die eeue groot aandag getrek het:

“Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.”

Die ou vertaling praat van die “wolkedonkerheid” waar God was.

Dus: wanneer God mense ontmoet, is dit ontsagwekkend, maar terselfdertyd ook ‘n Verborgenheid. Net die gedagte om God te ontmoet, kan 'n mens al op 'n afstand hou - soos die teks wys.

Dit is ‘n opvallende beskrywing van God wat ‘n mens in Eksodus 20:21 aantref. Veral as ‘n mens dit begin kontrasteer met sulke uitsprake soos 1 Johannes 1:5: “God is lig en geen duisternis is in God nie.”

‘n Mens kan God ontmoet en onder die indruk kom van die goddelike heerlikheid. Maar ‘n mens kan God ook ontmoet en verstelpt staan voor die duistere kant van die Goddelike verborgenheid.

In Exodus 20:21 is daar geen twyfel nie. Duisternis word beskryf as die plek waar die mens vir God ontmoet. Wanneer ‘n mens God ontmoet, tree jy die nag van onbekendheid binne.

In ‘n sekere sin is dit nie nuut nie. Elders in die Ou Testament word die wolk dikwels as simbool gebruik vir die verborge teenwoordigheid van God. In Exodus 24:16 word vertel hoe die heerlikheid van die Here deur die wolk bedek is. Maar wat wel besonder is in Exodus 20:21 is dat God as wolkeduisternis uitgebeeld word.

Om die impak hiervan te ervaar, moet ‘n mens onthou hoe noukeurig die vroegste Bybellesers hul tekste gelees het – oor en oor, uit hulle kop, woord vir woord. Die Joodse interpretasies van die Ou Testament en ook byvoorbeeld Paulus se allegoriese interpretasie bewys duidelik hoeveel betekenis hulle daarin raakgesien het (Gal. 2:24-26 gee so ‘n “figuurlike” verstaan). Vele lesers het hierdie motief van “duisternis” skerp raakgesien. Dit het ‘n topos in die resepsiegeskiedenis van die Bybel geword.

Om God as wolkeduisternis te sien, het ingehaak op die manier waarop lig en duisternis in die Bybel en in die antieke verstaan is. Die Ou Testament ken ‘n wonderlike, paradoksale spel van lig en duisternis. In Psalm 139:12 staan daar: “maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed as lig.” Dit gee ‘n kykie in die manier waarop latere Psalmdigters duisternis op ‘n ander manier kon lees. Op ‘n heel, basiese vlak sou ‘n mens begryp waarom lig en duisternis vir die antieke mens in sy wêreld sonder elektrisiteit ‘n groot rol gespeel het en geliefde motiewe/besprekingsmateriaal was.

Die antieke mens, wat die tekste dikwels gememoriseer het, het hierdie gedagtes oor lig en duisternis op ‘n ingrypende manier verinnerlik en toegeëien deur daaraan geestelike betekenis te koppel.

Die bekende Joodse skrywer, Philo, het die verhaal van Moses wat die wolkeduisternis ingaan, gebruik om sy Godsbegrip met die simbool van duisternis te verbind. Daarmee het hy ‘n belangrike punt gemaak: God is absoluut anders as God se skepping en skepsels. Daarmee wil Philo God se transendensie uitdruk. In tye dat mense God maklik die gevangene van hul taal, konsepte, simbole en menslike voorstellinge maak, word dit ‘n manier om te verduidelik hoe God al ons menslike verstaansgrepe te bowe gaan. Wanneer ‘n mens oor God praat, tas jy dus feitlik in die duister rond. God, soos God werklik is, transendeer alle menslike taal en woorde. Die insig het te doen met die "apofatiese" Godsbeeld ('n God wat verby alle woorde bestaan). 

Dit is ‘n boeiende gesprek wat Philo aan die gang gesit het. Hy het geweet hoe gemeenplasig mense oor God kan praat en hoe naïef, onreflekterend mense se godsbeeld was. Hulle het immers in sy tyd nog afgodsbeelde op groot skaal gedien. Hy sou sekerlik veel simpatie met Paulus se Areopagus-ervaring gehad het.

Hier moet ‘n mens mooi onderskei: Niemand ontken dat ‘n mens oor God kan praat in menslike taal nie. Aangrypend kan ‘n mens die liefdevolle karakter van God beskryf aan die hand van woorde soos liefde, ontferming, goedheid en vergifnis. Daar is baie woorde wat ook effektief God se andersheid in woorde kan uitdruk.

Maar die deurslaggewende punt is dat God die een is wat woorde skep en gee, maar teselfdertyd daarmee buite woorde bestaan. God staan buite ons taal en al die woorde wat ons kan opkommandeer kan die karakter van God nooit uitputtend beskryf nie.

Dionusios die Areopagiet het byvoorbeeld in die sesde eeu n.C. sy beroemde bespreking gegee van die motiewe van duisternis en lig. Hy het onder andere heel boeiend gewys op Genesis 1:2 waar duisternis prominent genoem word voordat die skepping begin. Reeds die Bybel, wil hy sê, probeer vertel hoedat die duisternis reeds van die begin, die skepping voorafgaan. Iewers wou hy beklemtoon dat God al ons menslike beskrywing te bowe gaan. Niemand durf waag om te dink dat God die gevangene van ons menslike konsepte is nie. God is nie gelyk aan die skepping nie.

Dit het bevrydende implikasies: Omdat al ons verstaansgrepe so beperk is, ontdek ons telkens nuwe werke van God. Die verskil tussen Ou en Nuwe Testament bewys dit. God se karakter is so groot, dat ons altyd maar net stamelend kan nadink oor wat dit vir ons verhouding met God beteken. Steeds weer, wys die werklikheid uit, ontdek ons hoedat God nuwe dinge vir ons lewe beskik.

Hier het ek geleer van Gregorius van Nissa – daardie groot skrywer uit die vierde eeu wat met soveel respek deur baie mense gelees word. Hy het ook daarop gewys hoe God aan Moses in die brandende bos as lig geopenbaar is. Maar dit is maar die begin van Moses se geestelike groei, redeneer hy. Later het Moses op die berg vir God as duisternis ervaar. Gregorius het gedink ‘n mens kan daarmee die geestelike reis illustreer en sy diepsinnige toepassing is dat ‘n mens, soos jy geestelik op reis gaan, al hoe meer begryp hoe min ons van God beleef. Dit is dan die groot ironie: ‘n mens ontdek die duisternis soos jy meer en meer deur die Gees verlig word. Hoe meer lig, hoe meer duisternis.

Juis daarom die passende oproep: God neem die gelowige op die reis om hom of haar elke keer weer te laat besef wie die Skepper is en wie die skepsel. Dit is ontsagwekkend, ja. Maar teselfdertyd wil dit ook ander waarhede onderstreep: hoe veilig is die mens in die hande van God wat alles gemaak het.

Paulus het op sy manier hierdie dinge besing toe hy oor God se ondeurgrondelikheid gesing het en vir sy lesers vertel het van die onnaspeurlikheid van God se weë.


Miskien moet ons juis in ons tyd, waarin ons God gemeenplasig onder ons ystgergreep-beheer wil bring, in ons slim woorde wil vasvang en in ons enigste ware dogma's wil opsluit, juis meer van die groot tradisie van die wolkduisternis nodig.

Maar dit is nie maklike stof nie. Om in ‘n verhouding met God te leef, is ‘n avontuur, ‘n viering, maar ook ‘n stroping. Dit sou die mistici as ‘n verdere konklusie uit Exodus se wolkduisternis trek. Terwyl ek hierdie saak bedink het, byvoorbeeld, het die vertelling van die duisternis wat die kruis oorval het, op Golgotha, telkens by my opgekom. En, uiteraard, ook die woorde van Jesus oor God wat hom verlaat het. Sou ‘n mens hierdie gebeurtenis en hierdie woorde nie veel, veel ryker kan lees as wat ons wel doen nie? Daaroor wil ek meer dink.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive