Om die belangrikheid van onderskeiding te begryp, moet ‘n mens die groter prentjie onthou: Spiritualiteit gaan oor God se verhouding met die mens wat alles verander en wat die mens vir altyd op reis neem. Die geestelike weg is ‘n steeds voortgaande verdieping in ‘n mens se verhouding met God.
Wanneer ‘n mens hierdie reis begin loop, begin ‘n mens al dadelik met die proses van onderskeiding. Jy onderskei al klaar tussen ‘n goeie en ‘n slegte rigting wat ‘n mens kan inslaan. Die een sal goed wees, die ander gaan net in ellende eindig. ‘n Mens moet dus heel eerstens onderskei of ‘n mens op reis is met God, het ons gesien. Want ‘n mens kan op jou lewensreis dikwels ‘n afdraaipaadjie neem, weg van God af.
Hierdie eerste saak hang saam met die volgende kwessie: as ‘n mens op reis is met God, is ‘n mens gedurig die dieper dinge agter die oppervlakte van jou ervarings te onderskei. ‘n Mens “interpreteer” dan alles wat oor jou pad kom. Jy kyk na jou lewenservaring in die lig van die Skrif en in die lig van God se perspektief. Gedurigdeur kyk ‘n mens na alles wat in jou lewe gebeur om onderskei waarom hulle gaan. Jy doen dit omdat jy weet dat hierdie daaglikse gebeure op baie maniere gelees kan word. Maar vir ‘n gelowige gaan dit daarom dat hierdie dinge ‘n mens by God uitbring en jou van God se werking in jou lewe bewus maak. Dit is die tweede saak.
Maar die groot vraag is nou, derdens: hoe reis ‘n mens saam met God? Hoe weet ‘n mens dat ‘n mens in God se wil leef? En hoe onderskei ‘n mens.
Die antwoord hierop is: ‘n mens reis saam met God in gedurige interaksie met ander oor wat in jou lewe gebeur. Jy kyk na jou lewenservaring saam met hulle wat kan onderskei hoe om hulle te verstaan. ‘n Mens leer uit die geestelike ervaring van ander mense.
As ‘n mens hierdie vraag begin vra, is ‘n mens besig met die groot kwessie van onderskeiding.
Hierdie laaste bespreking oor die onderskeiding van God se wil het gegaan oor ‘n derde aspek daarvan, naamlik insig: iemand moet leer om God se wil te onderskei. Om God se wil te onderskei is nie iets wat ‘n mens sommer so uit die lug oorval nie of wat jy maar op jou eie of op enige manier kan doen nie.
As ‘n mens God se wil wil leer ken, gaan ‘n mens “leer” by of word ‘n mens geskool deur mense wat ‘n mens die beste sal kan bystaan. ‘n Mens sit aan die voete van die wyses en jy is gedurig met hulle in gesprek daaroor.
Nou is daar egter ‘n verdere vraag: wat leer ‘n mens wanneer jy besig is om dieper te groei in die onderskeiding van God se wil.
Hiervoor kan ‘n mens gaan kers opsteek by die vroegste spiritualiteitsdenkers.
Die antwoord op die vraag is in die eerste plek ‘n negatiewe een: wat leer ‘n mens om nie te doen nie. Die wyses het byvoorbeeld mettertyd uit hul ervaring geleer om die uiterstes af te wys. Dit is nie God se wil, het hulle agtergekom dat ‘n mens ekstreem moet optree nie.
As voorbeeld kyk Waaijman na die woestynvaders en hulle geestelike oefeninge, soos byvoorbeeld die vas. Sommige van hulle het op ‘n ekstreme manier gevas. Hulle het selfs die minimum gebruik van twee rolletjies brood elke dag geïgnoreer. Daar was onder hulle ‘n gebruik dat ‘n mens se vas nie jou liggaam moet benadeel nie en jou helder moet laat bly – vandaar dat jy ten minste ‘n minimum broodjie moet eet. Hierdie eet van broodjies tydens die vas was hulle manier om ‘n goue middeweg te vind. Daardeur het hulle onderskei tussen ‘n totale prysgawe van voedsel en die normale, daaglikse gebruik van voedsel. Hullle het min geëet, ja. Maar hulle het ook nie heeltemal opgehou met eet nie.
Sommige onder hulle wou groter presteer: In hulle oordadige vas het hulle selfs die twee rolletjies gelos, met die gevolg dat hulle totaal uitgeput geraak het. Hulle het so verswak dat hulle aan rowers of deur wilde diere ten prooi geval.
Maar hierdie liggaamlike gebruik van die vas het ander slegte gevolge gehad. Deurdat hulle matigheid nagelaat het, het hulle, soos Waaijman dit stel, ‘n ongesonde verwaandheid oor hulself ontwikkel. Hulle word onstabiel, lei selfs aan hallusinasies.
Maar dit is nie net vas wat ‘n mens ongebalanseerd kan doen nie. Die woestynvaders het gevra dat ‘n mens ook met wysheid moes omgaan met gebed, met waak en met die lees van die bybel. Net soos wat ‘n mens te min kan doen, kan ‘n mens ook te veel doen.
Deur te let op die ekstreme posisies waarin ‘n mens kan verval, leer ‘n mens. ‘n Mens besef dat die geestelike reis nie gedryf word deur oordadigheid nie. Dit stuur altyd weg van te veel, van oordoen, van ongebalanseerdheid.
Die geestelike reis vra dus om gematigdheid, soberheid, die goue middeweg. Oordadigheid aan albei kante kan ‘n mens se geestelike reis verongeluk. Wanneer ‘n mens te veel vas, word jy swak. Wanneer ‘n mens te veel eet, is dit ook ‘n teken van jou swakheid, skryf Cassianus. Dus soek ‘n mens altyd om uiterstes te vermy. ‘n Mens loop jou geestelike reis terwyl jy gedurig onderskei tussen oordrewe uiterstes.
Op die manier onderskei ‘n mens dus gedurig tussen die uiterstes die goue middeweg. Hier is God se wil te vind.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.