Thursday, September 01, 2011

Hooglied as mistieke Liefdeslied.


Die Westerse rasionalisme en sy medeboelie-boetie, die historisme, het ons in vele opsigte vrygemaak van ‘n nare fundamentalisme, maar in die proses dikwels ongelukkig ook vir ons weer aan ‘n nuwe fundamentalisme verbind. Die bougrond van die rede en van die (historiese) feite word as heilig beskou deur die intellektueel verligtes, en tragies, selfs ironies, selfs ook deur hulle opponente, wat (met goeie bedoelings) ongelukkig dieselfde historistiese taal as hul vyande wil hanteer. En dan bly hulle almal steeds slagoffers van ‘n hongerdieet as dit by die toeëiening van die Skrif in ons dag kom.

Willem van Sint-Thierry het, soos vele ander uitleggers ‘n kommentaar oor Hooglied geskryf. Hooglied was, vreemd genoeg, ‘n besonder gewilde boek vir spiritualiteitskrywers, veral omdat dit die Liefde in sy mees intieme vorm besing het en omdat hulle daarmee die opwindende, noue band tussen die goddelike en die menslike wou illustreer.

Anders as modern eksegete wat Hooglied dikwels net wil sien as ‘n prikkelende seksboekie, het hierdie antieke eksegete miskien beter ingesien hoe, selfs al sou dit die fisieke besing, die boek Liefde in sy mees lewegewend vorm verstaan en begeer.

Twee ander Bybelboeke was vir die spirituele eksegete belangrik: Spreuke, het hulle gedink, is ook ‘n belangrike boek: daarin ontdek ‘n mens die wysheid wat ‘n mens nodig het om op ‘n etiese manier te leef. Daar ontdek die geestelike mens reg en verkeerd.

Hulle ander gunsteling boek was Prediker. Hulle het gehou van die manier waarop Prediker ‘n mens bewus gemaak het van die verganklikheid van alle dinge en om, gevolglik aan God alleen vas te hou (Pred.1:2: alles is tevergeefs!).

Maar die liefste van alles was hulle vir Hooglied. Dit was vir hulle die kontemplatiewe boek. Dit is ‘n boek van intense verlange na die koms van die Bruidegom. Alles is ingestel op die kontemplatiewe, op die mistieke, naderende belewing van die teenwoordigheid van God. Soos in Hooglied kom die verlangende hart van die Bruid alleen maar tot volkome liefde wanneer die Bruidegom uiteindelik vir haar in sy omhelsing neem. Daardie klimaktiese oomblik, die volkome eenwording, die kontemplatiewe – dit is waaroor Hooglied wil skryf.

Willem van Thierry skryf dus ‘n kommentaar op Hooglied. Hy is een van die bekendste skrywers in die geskiedenis van Spiritualiteit. Wie sy werke lees, ontdek egte Godservaring. Maar Willem van Thierry het begryp dat ‘n mens nie sommer ‘n boek soos Hooglied optel en lees nie. In egte lectio divina-styl begin hy die kommentaar met die volgende klassieke, liefdesgebed. Voordat 'n mens 'n enkele woord in Hooglied lees of weeg, besef hy, moet 'n mens ingestel wees om die rykdom van die teks te laat insak in jou binneste. Eers dan sal die egte trefkrag van die teks ervaar kan word. 

Vele mense voel so. Dit is egter die enkele, begaafde mistikus wat die innige verlange na God se stem op so 'n wyse in hierdie gebed kan verwoord (Dankie, Kobus, wat vir my die gebed aangestuur het!).

Terwyl ons die Bruidslied benader, die huwelikslied, die lied van die Bruid en die Bruidegom, om dit as U werk te lees en te weeg, roep ons U aan, o Gees van Heiligheid.

Ons verlang dat U ons vul met U liefde, O liefde, sodat ons die lied van die liefde sal begryp – sodat ons ook kan deel as deelgenote in die gesprek van die heilige Bruidegom en die Bruid, en sodat dit waaroor ons lees, in ons sal gebeur. Want wanneer dit gaan om die siel se gevoelens, sukkel ‘n mens om te begryp wat gesê word wanneer jy nie deur dieselfde soort gevoel aangeraak word nie.

Keer ons daarom na U, o Heilige Gees, heilige Pleitbesorger, heilige Trooster; troos ons in die armoede van ons afsondering waarin alleen maar U vertroosting verlang word; verlig en ontsteek die begeerte van die soeker om vreugde te kan ervaar.

Kom dan, sodat ons in waarheid kan bemin, sodat wat ons ook al dink of sê uit die fontein van U liefde sal opkom. Laat ons die lied van U liefde op so ‘n manier lees dat dit die liefdesvuur in ons sal laat ontbrand; en laat die liefde self vir ons u Lied uitlê.


Op ‘n ander keer moet ‘n mens meer skryf oor hoe die rasionalisme en historisme ons in ons lees van Hooglied verarm het. Ek lees Willem van Thierry se gebed en Skrifuitleg as die sleutel tot die verskil tussen die gereduseerde Bybelresepsie van ons tyd en die verrykte mistieke resepsies van lesers soos Willem van Thierry. Die gesprek met modern eksegese kan egter nie regtig oop wees en sinvol verloop totdat ‘n mens die passie agter hierdie gebed herken en metodologies verreken nie. Dit is ‘n passie om ‘n transformatiewe lees van die Bybel. En wie op die manier tot die Bybel nader, sal verstaan waarom dit vir eeue soveel rykdom vir lesers gebied het.

Hier is die Engelse vertaling:

As we approach the epithalamium, the marriage song, the song of the Bridegroom and the Bride, to read and weigh your work, we call upon you, O Spirit of holiness. We want you to fill us with your love, O love, so that we may understand love’s song — so that we too may be made in some degree participants in the dialogue of the holy Bridegroom and the Bride; and so that what we read about may come to pass within us.  For where it is a question of the soul’s affections, one does not easily understand what is said unless one is touched by similar feelings.  Turn us then to yourself, O holy Spirit, holy Paraclete, holy Comforter; comfort the poverty of our solitude, which seeks no solace apart from you; illumine and enliven the desire of the suppliant, that it may become delight.  Come, that we may love in truth, that whatever we think or say may proceed out of the fount of your love.  Let the Song of your love be so read by us that it may set fire to love itself within us; and let love itself be for us the interpreter of your Song.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive