Wednesday, September 28, 2011

Groter

Ek het op 1 April 2010, in die lydenstyd, oor Picasso se Guernica geskryf. Dit word as een van die beroemdste skildery uit moderne tye  beskou. Picasso het dit uit woede geskilder as protes teen Hitler se lugaanval, aangespoor deur Franco, op die Baskiese stad Gernica, waarin 2 000 mense gedood is. 

Picasso het geweier dat hierdie beroemde skildery in Spanje hang. Dit is eers oorgeplaas nadat Spanje 'n demokrasie geword het.


Vanmiddag besoek ons die Reina Sofia Kunssentrum waar die skildery op die tweede verdieping in kamer 10 hang. Dit is 'n oomblik waarop ek lank gewag het.


Ons is nuut en onbeholpe en vind dus soek-soek ons weg deur die massiewe plek. Dit is al 'n kuns net om die roete deur die reuse-gebou te vind. Die roete neem ons verby wonderlike versamelings van Miro, Picasso en Dali se skilderye. 

Ek verlustig my van skildery tot skildery. Tyd verdwyn soos 'n mens jou verloor in die werelde wat die kunstenaars geskep het. Ek vergeet eintlik, soos ons aanloop, dat ons daar is om die Guernica te gaan kyk.


Die besoek word veel langer as wat ons gedink het. Ek besef nou veral eers waarom Dali as een van die groot kunstenaars van die twintigste eeu beskou word. Van al die kunswerke wat ek die afgelope twee dae geskien het, is syne in die volste, ryk kleure en met perfekte tegniek uitgebeeld. Ek neem 'n paar foto's uit sy mistieke fase af.


Maar, so loop ons van kamer tot kamer. Die Guernica hang in 'n groot lokaal wat uit twee sale bestaan. Ons kom dus in kamer 10 aan en stap maar geduldig deur die eerste saal. Die oomblik is dus naby, maar ons is geduldig.


Halfpad is daar 'n groot deurgang van die een saal na die ander. Ek is nog nie op soek na die skildery nie. Ek wag my kans af. 

Maar dan - heel toevalling en sonder dat ek dit antisipeer kyk ek om en my oog val op die Guernica.

Dit word bykans 'n mistieke oomblik.


Die skildery is reusagtig groot. Omtrent twee keer so groot, dog ek, as die Nagwag. En ek onthou toe ek destyds die Nagwag vir die eerste keer gesien het. Dit het my getref dat dit so massief groot was.


Twee wagte pas die Guernica op. Hulle staan weerskant van die skildery. Jy mag ook nie nader as so 2 meter daaraan kom nie. Die besoekers drom saam, ry op ry op ry. Die verwondering is tasbaar. Die stilte swanger.


Ek sien die geweld in die skildery, maar die droefenis van die treurende vrou oorheers die skildery.Ek sien die stukkende swaard en die blomme wat uit hulle opkom - Picasso se verlange om vrede. 


Maar wat my dadelik tref is die kleur: Die skildery is in 'n grysblou kleur geskilder. Daar is nie 'n teken van enige helder kleur in nie. Dit is die kleur van droefheid. 


Terwyl ek die skildery bekyk, bedink ek die ironie. Dit is Hitler se sinlose aanslag op 2 000 onskuldige mense, 'n oorlogsvergrype van die ergste graad, waaraan hierdie skildery sy ontstaan te danke het. Die skildery is een van die mees aangrypende protesgebare teen geweld. 'n Mens kan nie Europa en sy toenemende verset teen oorlog  begryp as 'n mens nie die skildery gesien het nie.


Maar die kleur van die skildery... Soos van 'n donker hemel as dit aand wil word en 'n mens, byna soos in die aandgesang, sag wil sing van treurigheid en verganklikheid. Egte droefheid, oor menslike wreedheid en berekende vernietigingsdrang. En oor die seer wat dit oproep. 


Die treurende vrou se gesig is oopgevlek na die hemel toe. Sy stort haar rou voor God uit.





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive