Ons is gewoond daaraan om te dink dat die skepping die voorwerp van God se hande arbeid is en dat daar daarom ‘n groot verskil is tussen hulle. En dit is sekerlik waar. Dit sou dom wees om te dink dat God en die skepping identies is. God kan onmoontlik in die skepping opgaan.
Maar daar is ook ‘n ander kant van die saak, waaroor ons te min dink. Want daar is ‘n noue eenheid van God met die skepping. Die skepping het sy bestaan in God. En vanuit die herskepping kan Johannes die volgende merkwaardige woord skryf: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore” ( I Joh. 3:9).
God se saad bly in die mens! Watter mistieke uitspraak waarin die noue, intieme en onlosmaaklike band tussen God en skepsel uitgedruk word. 1 Johannes 1 en 2 is hoofstukke wat herhaaldelik van hierdie band praat, om nie van die Johannes Evangelie se gedurige beklemtoning van God se inwoning in die mens te praat nie. ‘n Mens kan weke lank in mymering met hierdie hoofstukke besig bly, oorweldig deur die nabyheid van God in en by die skepping.
Daar is ander tekste van ander skrywers wat die gedagte ook beklemtoon. Paulus praat ook van hulle wat die Here aanhang, wat “een Gees met Hom word” (1 Kor. 6:17; N.V.: “is geestelike een met Hom”).
Eintlik is daar ook iets logies aan die noue band tussen God en die skepping. Dikwels, baie dikwels ontmoet mense God in hul daaglikse ervaring en lewe. Wanneer ‘n mens in die natuur is, wanneer ‘n mens die Bybel lees, raak ‘n mens soms op ‘n mistieke wyse bewus van die nabye teenwoordigheid van God. ‘n Mens kan jou heeltemal daarin verloor.
En kyk net na daardie hoogs mistieke vers in Kol.1:16: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.”
Dit is ‘n merkwaardige trits van frase’s: In Hom, deur Hom en tot Hom – dit is die verhouding van die skepping en skepsele tot God. Dit is die allernouste van denkbare verhoudinge. Om te dink: die skepping is in God geskape…. Sonder God kan dit nie. Weer eens beteken dit nie dat God en die skepping dieselfde is nie. Dit beteken wel dat God se teenwoordigheid in die skepping herken en ervaar kan word. Die sleutelwoord hier is dat God teenwoordig is. En dit beteken ook dat die skepping in God teenwoordig is.
Dit alles is wat mense nou katafatiese spiritualiteit noem. Dit is ‘n spiritualiteit waarin die verhouding van die geskapene met God in woorde uitgedruk word. Taal word gebruik om te vertel wie God is en hoe God na die mens in die allerintiemste manier uitreik.
Katafatiese spiritualiteit bevestig God in God se verhouding met die geskapene. Dit is 'n perspektief wat veral belangrik is vir Christene wat sosiaal bewoë is, wat die skepping vanuit God se heerskappy wil bekyk en beleef, wat stry om sosiale geregtigheid en menswaardigheid en wat hulle instel op ekologiese kwessies.
Naas katafatiese spiritualiteit staan nou apofatiese spiritualiteit. Apofatiese spiritualiteit laat vir ‘n mens die ander kant van God se wese sien: God is wel in die skepping te ervaar, maar God is ook baie meer en totaal anders as die skepping. Ons menslike taal kan vir ons help om iets te vertel van die verhouding van God met die skepping – en dit kan tot wonderlike ryk gedagtes aanleiding gee. Hoe aangrypend kan ‘n mens tog nie in menslike kategorieë praat oor God se liefde, God se geduld, lankmoedigheid, ontferming, bewoëndheid en vele ander menslike begrippe nie.
Maar God is ook baie meer en baie anders. Niemand moet arrogant genoeg wees om te dink ‘n mens kan God vasvang in sulke begrippe, woorde – in menslike taal nie. God is bo alle menslike verstand en begrip.
Hoe meer ‘n mens op pad is met God, hoe verder ‘n mens die geestelike reis loop, hoe meer besef ‘n mens die vreemdheid van God, die andersheid van die pad wat ons loop en hoe meer besef ‘n mens watter bevryding daar te vind is in die bevraagtekening van al ons menslike belangstellings, voorwaardes, grepe en gedagtes. Die pilgrim is op reis na die Onbegryplike, die Verborgene.
Dit is, soos Dionusios die Areopagiet geskryf het, om soos Moses in die donker wolk in te gaan. Die Israeliete, die oningewydes, staan eenkant, verbyster voor die Verborge gebeure wat op die Berg sal plaasvind. Maar Moses, hulle wat lei, die ingewydes, hulle wat aanstap op die geestelike reis, weet dat dit is waarom dit werklik gaan – dit gaan om die God wat ons nog net heeltemal ten dele ken en voor wie se Onbekendheid ‘n mens uiteindelik te staan sal kom.
Dit is eintlik waarom kontemplasie gaan: om by God te wees, buite alle begrip, verstand om. Om so naby aan God te wees, dat ‘n mens in totale nietiging alle aandag vir jouself en vir jou eie, klein, vaal wêreld verloor. Dit is dan die punt dat ‘n mens niks geword het, en God, die Onsienlike, die Onpeilbare, die Onmeetlike meer. Dit is dan dat ‘n mens begryp wat Paulus skryf: Ek leef nie meer nie… Dit is dan dat ‘n mens niks weet of verstaan of ken nie.
Die pelgrimsreis neem ‘n mens al hoe meer en al hoe dieper in hierdie vreemde toestand van niks-weet in, in daardie lewe waarna die mens se hart volledig verlang en waarin die hart eers werklik tot rus sal kom. Alles waaraan die mens so gewoond was en waaraan die mens so verknog was, sal verdwyn. Paulus praat selfs van geloof wat sal verdwyn (in 1 Kor. 13).
Dit is die oomblik waarin die pilgrim sal aankom en uiteindelik van aangesig tot aangesig sal wees.
Op die geestelike reis is beide elemente – die katafatiese en die apofatiese – twee noodsaaklike perspektiewe.
Want, dit is ook waar: 'n mens kan so omgee vir die skepping, vir sosiale geregtigheid, vir menswaardigheid dat 'n mens die Skepper kwyt raak, of vergeet dat God nie net die Skepper is nie. Maar veel, veel meer as die Skepper.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.