Die Prado Museum in Madrid, sê ons gids, is een van die belangrikste museums in die wêreld. Die versameling beslaan minstens 7000 skilderye, waarvan net die helfte uitgestal word. Baie mense besoek Madrid spesifiek om die museum te sien. Maar min verwag seker die oorvloed van indrukke wat deur die reuse-versameling op hulle uitgestort word.
Die blote gebou is al oorweldigend. Oorspronklik ‘n paleis, onder andere gebruik as barakke vir Napoleon se berede troepemag, is dit uiteindelik in 1819 in ‘n kunsmuseum omskep. Intussen is ‘n hele vleuel aangebou.
Daar is ‘n fenomenale versameling van kuns met skilderye van die bekendste van bekende kunstenaars. Goya se skilderye sien ‘n mens om elke hoek en draai. Raaiselagtig en totaal uniek is sy Las Pinturas Negras (die swart skilderye) deurtrek met lyding en vervolging. By Hieronimus Bosch se Tuin van Aardse Plesier staan rye mense en staar na sy vreemde uitbeelding van die vervlugtende aardse genietinge waaraan die mensdom hul vergryp en waarvoor hulle dan in die hel gaan boet, gekontrasteer met ‘n eerste paneel waarin die paradys en die opregte lewe uitgebeeld word. Dit is so vreemd, skryf iemand, dat ‘n mens wonder watter dwelms Bosch ingehad het toe hy die tonele geskilder het. Daar is die pragtige, lewensgrote uitbeelding van Dürer se Adam en Eva. Maar dan is daar ook nog bekende werke van Greco, Rubens, Rembrandt, Rafael en vele ander.
Ons neem die hele oggend en middag om van kamer tot kamer te stap.
Die Spanjaarde besit inderdaad een van die indrukwekkendste museums in die wêreld, besef ons ook. Wat ons sien, is van die allerbeste.
As alles so oordadig op jou sinne inwerk, sou ‘n mens afgestomp kon word. En tog – in elke lokaal kom ‘n mens iewers tot stilstand. Dit is asof die mooi nooit te veel word nie.
As ek vanaand terugdink, is dit veral die werk van Velasquez wat ek onthou. Mense kom die Praedo besoek om sy Las Meninas (die kinders) te sien. Maar die skildery, hoe ook al tegnies perfek en histories boeiend, raak my nie. Velasquez was, vertel die skildery, so behep met koninklikes en erkenning dat hy homself in die skildery ingeskilder het – en dit nogal met die Kruis van die Orde van Santiago op sy bors. Hy het die kruis eers baie later ontvang, maar met die skildery gesorg dat niemand vergeet dat hy dit graag wou hê nie. Die Hollanders sou praat van ‘n ydel tuit.
Ons stap van kamer tot kamer en bekyk Velazques se skilderye. En elkeen is besonder. Ek verstaan nou meer waarom Dali gesê het dat hy een van die grootste kunstenaars ooit was.
Tog bly iets anders by my omtrent Velasquez en, trouens, omtrent die Prado, oor, terwyl ek nou nadink oor hierdie besoek aan die merkwaardige plek. Velasquez het ‘n magdom menigte skilderye geskilder en baie daarvan is in hierdie museum. Maar hy het net ‘n paar religieuse skildery gemaak. Die laaste daarvan ongeveer 20 jaar voor sy dood.
Daarom dan die verrassing, wanneer ek om ‘n draai loop – vas teen sy beroemde kruisigingstoneel. Ek het al voorheen daaroor geblog en is nog steeds verras oor hoeveel kere mense kommentaar lewer daarop, veral wanneer hulle in die lydenstyd nadink oor die kruisiging.
Ek het nou al baie jare lank ‘n baie klein weergawe daarvan wat in my studeerkamer hang.
Die skildery is ‘n mistieke interpretasie van Christus se kruisiging. Die uitbeelding het onder andere vir Dali in sy beroemde voorstelling van die kruisiging beïnvloed. Velasquez teken Christus teen ‘n swart agtergrond, hangend aan die kruis, met helder lig wat op sy liggaam skyn. Hy teken met absolute presisie, die mate en verhoudinge van die liggaam volgens Renaissance invloed. Hy teken selfs vier spykers in plaas van drie, skryf die museum, op advies van die mense wat hom van raad bedien het.
Ek wil nie weer alles oorskryf van my blog oor Velasquez nie. Om een of ander rede het ek nie geweet dat die skildery in die Prado hang nie. Dit was dus vir my ‘n groot verrassing om daarop af te kom. Ek het ook nie geweet die skildery is so groot nie. Dit is lewensgroot en hang ‘n hele muur vol.
Hoe anders is dit om so ‘n skildery “in lewende lywe” te sien, veral as ‘n mens oor baie jare vanaf ‘n verre afstand daarmee saamgehang het.
Hoe beleef ek die skildery vandag, nadat ek dit gesien het?
Die eenvoud daarvan, besef ek egter dadelik, val my op. Die swart agtergrond rondom die kruis laat die lig wat op die liggaam van Christus fokus, nog sterker uitstaan. Dit is nie ‘n verwronge liggaam nie. Daar is onmiskenbaar bloed wat in fyn strepies uit die wonder aan sy hande, sy voete afstroom. Die aksent val egter nie daarop nie. Dit sê net hoe hy dood is, maar wroeg nie oor sy lyding nie.
In die middelpunt van die skildery is eerder die kop van Christus Christus se kop, met ‘n sagte, byna weggesteekte ligkring daarom, hang vooroor. Die skildery vertel onmiskenbaar dat Hy dood is. Sy regterkant is bedek met sy hare wat sag oor die een kant van sy gesig val.
Die gevoel wat ‘n mens kry is dat die taak volbring is. Die lyding is verby. Dit is nie meer die wonde wat tel nie. Die bloed is klaar gestort. In die skildery lees ‘n mens van totale oorgawe, van ‘n taak wat goed gedoen is, met getrouheid. En ‘n mens voel hierdie innerlike aanraking van ‘n Vader wat die seun in helder, mistieke lig omhul.
‘n Mens staan voor die skildery terwyl jy al hoe meer aanvoel dat daardie laaste gebed verhoor is: “Vader in u hande gee ek my oor.”
Dit is die verhaal van die volkome eenheid in liefde, tussen Vader en Seun.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.