Sunday, September 04, 2011

Die genade sal spoedig daar wees, in oormaat. Markus 1:40-41

Dit is ‘n boeiende verhaal wat in Markus 1:40-41 vertel word: ‘n Melaatse man, word heel eenvoudig deur Markus opgemerk, het na Jesus gekom.

Markus se teks, so sterk simbolies, karakteriseer die man se optrede deur verskeie kriptiese opmerkings: hy kom smekend na Jesus. Dit is al die oratiewe moment, die oomblik waarin die man sy verlange na gesondheid teenoor Jesus uitspreek. In die konteks van sy tyd is dit opvallend: hy is melaats, daarom onrein en dus gedwing om hom te weerhou van enige kontak met mense. Hy, ontsê van die vertroostende blik, van die aanraking met ander, is die verstotene. Hy weet nie meer wat dit is om nabyheid te beleef, om intimiteit te geniet nie, om geborge by jou dierbares te wees nie. Dat hy smekend na Jesus kom, is ‘n teken van sy verlange na heling, om weer tussen mense te wees en om deel te wees van ‘n gemeenskap waarin hy sy volle menslikheid kan ervaar. Sy smeking vertel iets van sy vrees vir verwerping, van sy bewussyn dat hy die gebruike van sy tyd ignoreer, dat hy homself eintlik blootstel aan steniging, dat hy veel waag.

Maar sy smeking is veel meer. Dit is gemeng met die besef dat die heling, wonderbaarlik, van Jesus kan kom. In Jesus herken hy die Sterke, die Een wat die verwerping van mense ongedaan kan maak en deur wie hy volledig mens kan word. Sy smeking, sy gebed, is sy roep na genade. Hy weet, hier is Iemand wat die Gelaat nie van hom sal afwend nie, tot wie hy kan roep, wat Sy verantwoordelikheid nie sal nalaat nie, wat Homself sal gee, wat in intiemheid naby sal kom aan hom. 

Let op hoe dit deur sy simboliese daad bevestig word: hy val op sy knieë. Dit is in ‘n Joodse konteks ‘n aanduiding van aanbidding, van afhanklikheid, van verootmoediging voor God. Dubbeld gee hy dus aan Jesus die teken van sy innige verlange: smekend, knielend bring hy homself in die teenwoordigheid van die Genadige Een, staan hy voor Hom - van Gelaat tot Gelaat. 

Dit is egter nie al nie. Die verhaal is veel ryker in die manier waarop dit die man se diepe begeerte na God uitbeeld. Die blote feit dat die man na Jesus “kom”, is al ‘n teken van sy verlange. Hy nader tot Jesus.

En in sy versoek aan Jesus slaan sy verlange nog sterker deur: “as u wil, kan u my genees”. Sy woorde is ‘n hartskreet om ontferming. Hy praat, hy roep uit, sy taal vertel wat in sy hart leef.

Vierdubbeld dus, eintlik, is sy uitreik na Jesus. Dit is ‘n intense mens wat op die dag in Jesus se teenwoordigheid instap, wat van Aangesig tot Aangesig voor Hom staan.

En op ‘n mistieke manier reageer Jesus op die man:

Innerlik bewoë (sê die Griekse woord – diep uit sy binneste uit) antwoord Jesus die man se roep na Hom.

Meer nog: Hy steek sy hand uit na die man. Dit is ‘n teken van aanvaarding. Dit kon maklik ‘n hand gewees het, soos baie ander hande in daardie tyd, wat die man verjaag het, verwerp het of met klippe bestook het. Daar sit intimiteit, nabyheid, toeëiening, gemeenskap in hierdie gebaar. 

En, derdens, selfs nog meer: in ‘n intieme oomblik en gebaar, raak Jesus hom aan. Daarmee oortree Jesus die Levitiese gebod tot reinheid op meer as een manier. Jesus reageer anders as die Leviet en Priester wat ander mense, veral die uitgeworpenes, baie vroom vermy weens hul religieuse oortuigings. Jesus loop nie weg nie, maar kom baie naby aan die man. Hy reageer inderdaad meer as net bloot vriendelik, liefdadig. Hy troos nie net nie of belowe bystand nie. Hy raak die man, waarskynlik tot sy stomme verbasing, aan, soos wat niemand anders dit sou waag nie. Genesing, het die man verlang, aanraking het Jesus aan hom geskenk. 

En dan, vierdens, uiteindelik, die Woord van mag: Ek wil, word gesond. Vierdubbel reageer Jesus op die vierdubbele verlange van ‘n verworpene. God se genade is groot. Dit kom in oormaat tot hulle wat herhaaldelik om genade smeek. Wat Jesus doen, is nie blote tekens van sy goeie hart en sy gesindheid van ontferming nie. Dit is ‘n haastige, totale oomblik van toeëiening: wat Jesus doen, “wil” Hy doen. Dit kom uit die diepste sentrum van sy bestaan.

Ek kan my indink hoe ‘n mens, as jy vanuit lectio divina, jouself inleef in hierdie man se gedagtes toe Jesus vir hom baie meer gegee het as wat hy waarskynlik verwag het, jy sal moet bedink dat hierdie man skokgolwe oor hom moes gevoel gaan het daardie oomblik toe Jesus, skandelik vir sy tyd, ‘n hand op sy melaatse liggaam geplaas het. En toe daardie woord van mag, in sy ore klink en Jesus se aanraking verder bevestig…..

Genoeg om van gesond te word

Geen wonder dat die man hom nie aan Jesus gesteur het en wyd en syd gaan vertel het hoe hy genees is. "Kyk julle, kyk tog, sien my raak, ek is terug, ek is by julle, my ou self."


Of tog nie: "Kyk julle, die Ontfermende Een het my smekende Aangesig aangesien. Hoe kan ek swyg? Ek is terug, gesond, rein. Maar meer nog, ek is vol verwondering oor die Verborge Mag van Hom wat pure ontferming is." Die mistieke uitwerking. Om op pad te wees in teenwoordigheid van God.





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive