Ek het Saterdag ‘n uurtjie afgeknyp om na die regstreeks uitsending van die onderhoud met die genomineerde kandidaat vir die voorsitterskap van die Konsitutsionele Hof te kyk.
Dit is ‘n haai-nes waarin daardie man rondswem, besef ek.
Op ‘n stadium verwys ‘n bekende advokaat na ‘n koerant-berig waarin gesuggereer is dat daar ‘n korrupte verhouding tussen die benoemde en President Zuma sou wees. Die koerant publiseer bewerings van ‘n persoon wat vertel dat hy hulle aan mekaar op ‘n partytjie in sy huis voorgestel het.
Die regter, wat toe al amper 5 uur meedoënloos ondervra is, is duidelik ontsteld oor die artikel en antwoord duidelik en samehangend. Hy gee toe dat hy by die partytjie was, maar vertel dat hy daarna slegs vir baie kort tye in die geselskap van die president was – en beslis nie as vriend of gas by partyjies nie. ‘n Mens kan sien hoe die verontwaardiging oor die berig in elke woord deurslaan. Hy is gekwets deur die bewering dat hy ‘n korrupte man is wat deur gunstes en gawes van die president genomineer is.
Helder bewys hy hoe onwaar die aantygings teen hom is.
Maar hy doen meer, Hy vertel toe dat die man wat die bewerings oor hom in die koerant-artikel gemaak het, na daardie partytjie vir hom gaan vra het om as waarnemende regter aangestel te word. Die regter vertel met passie hy het die versoek afgewys, omdat hy, in sy woorde, hom dan aan korrupsie sou skuldig maak – veral omdat een wat die guns gevra het nie die 8 jaar minimum ervaring van verhore gehad het nie.
Die verrassing is dus dat die regter juis nie korrup is nie. Nie net was die beweringe teen die regter vals nie. Dit kom toe uit die reaksie na vore dat hulle kwaadwillig lyk omdat dit uit frustrasie en weerwraak gedoen word.
Ek verwonder my oor hierdie onthulling en voel in my ook ‘n verontwaardiging opkom, al stem ek met sommige van die kritiek teen die regter saam. Hoeveel koerantberigte soos daardie het onnoembare skade aan mense gedoen en word nooit reggemaak nie? En ek besef weer hoe belangrik dit is dat ‘n mens alles wat ‘n mens lees, met ‘n knip sout moet verteer. En ek ervaar ook simpatie – vir weke lank moet hierdie regter deurloop onder die swaar vrag van ‘n kwaadwillige koerantberig.
Dit is ‘n haai-nes waarin daardie man rondswem, besef ek. Hy mag hom teen al die ander bewerings vir ‘n lang tyk ook nie verdedig het nie. En wanneer hy vandag die kans kry, is die druk geweldig groot, die vrae baie en intens en die sake moeilik en omstrede. Hy moet tog onvergenoegd huis toe gaan, dink ek, want hoe kan hy homself teen alles wat oor hom kwytgeraak het, voldoende verdedig.
Ek bekyk die hele affêre met verwondering. Hoe maklik is dit tog om iemand se integriteit verdag te maak. En hoe korrup is die motiewe van mense wanneer hulle daarop uit is om ander by te kom.
Dit illustreer gemeenheid.
Hoe junior die regter ook al mag wees, hoeveel argwaan ‘n mens ook al oor sy lekeprediker-status in sy voorspoedskerk mag hê, hoe betreurenswaardig sy foute in sy regsloopbaan ook al sou kon wees – hy verdien nie sulke behandeling nie.
Maar, aan die ander kant, bekyk ek die haai-nes en dink: in watter ander land in die wêreld sal so ‘n gesprek so openlik en so krities plaasvind? In die VSA? Miskien. Maar dat dit hier by ons gebeur, is eintlik ‘n wonderwerk – en die tragiese sou wees as ons dit ook nie raaksien nie: Hier, in die haaines, is nie sprake van swart teen wit nie. Hier is alleen maar ‘n heftige, kritiese, harde openbare debat waarin knap mense uit alle bevolkingsgroep in ons land, oor die belangrikste en diepste kwessies van die grondwet, die reg en die politieke toneel praat. Dit is merkwaardig. Ek is meegevoer deur die openheid, maar ook deur die kwaliteit van alles wat hier gebeur. Dit word net ontsier deur gemeenheid, maar origens is dit volwasse, sterk debat en opklaring.
Hoe verontwaardige ‘n mens ook al is, hoe dankbaar is ‘n mens ook dat soveel kragte loskom op so ‘n dag. Daar is tog veel meer mense wat omgee vir die regstaat, besef ek. En ek besef ook dat ‘n mens nie te dikwels ‘n te swaar kruis moet wil dra nie. Dit groot getal mense en die heftige debate wys een ding: daar is ‘n groot klomp mense wat die welsyn van hierdie land op hulle hart dra en wat hard saam met jou gaan veg. Hulle is almal bekwame mense, wat op hoë vlak oor uiters omstrede dinge openlik kan gesels. In die swaar tye, die donker oomblikke, sal ons almal saamkom en ons sal die wa deur die drif trek.
Ek beluister die gesprekke, dankbaar dat ons die vryheid het om te kan kyk wat in die hoogste gespreksale aangaan, dankbaar dat ons in ‘n vry land woon (dink Ghadaffi en Soedan), dankbaar vir mense wat uit alle groepe na vore tree as intellektueles, as leiers, as gesprekgenote. Dankbaar oor die kwaliteit van mense wat daar tog nog op ons regbank is. Dankbaar ook, dat die regter sy kans kry om sy onskuld te bewys en sy integriteit uit te wys. Dankbaar dat 'n klomp mense almal saam deur hul kritiek wys hoeveel hulle omgee vir ons regbank, vir ons land en vir ons regstaat.
My gebed is egter meer as een van dankbaarheid, vanaand. Ek bid ook om wysheid dat reg sal geskied, dat ‘n wyse besluit geneem sal word en dat ons regbank verder sal gedy. Dit is goed om te merk hoeveel mense vir die onafhanklikheid van die regbank stry.
Miskien is ‘n haaines dan ook nie die slegste van plekke nie. Solank as wat daar iewers ‘n net is wat kan keer dat daar enige slagoffers is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.