Die kontak-sessie verby, al my afsprake daarna agter die rug, en met – vir ‘n verandering – ‘n nag se goeie rus agter die blad, is ek, tevrede met alles, met die goeie dae van gesels, met goeie werk van die deelnemers en met nuwe insigte, op pad, lughawe toe.
Ek gaan huis toe.
Die taxi is bietjie gehawend, soos ook die Afrikaanse bestuurder. Hy het, sien ek aan sy gesig, nie ‘n sagte lewe agter die blad nie. Die spore van sy verlede lê op sy gesig uitgetrap soos die van voortrekkerwaens op die Drakensberg.
Gou-gou knoop hy ‘n geselsie aan. En ek wil meer oor hom weet, want ek kan my mos nou indink hoe dit moet wees as allerhande soorte mense van alle volke, nasies, tale en oorde oor die drempel van jou ryding klim. Dit is ‘n lewe vol van dinge vir die een wat nuuskierig is, soos ek.
Gewone mense, sê hy, vat nie sommer ‘n taxi nie. En dit is ook net naweke dat hy nie ‘n oomblik iewers sit en wag vir kliënte nie. Dan is dit besig. En ook, sê hy, die middel van die maand. Hier op die vyftiende van elke maand kry ‘n klomp staatswerkers hulle tjek en dan ry hulle taxi asof hulle nog nooit ‘n paar wiele gesien het nie.
Dadelik verwonder ek my oor die mensdom wat hul salaristjektyd op taxi’s uitry en wonder wat hulle doen as die geldjies op is? Loop hulle dan? Sit hulle eerder by die huis? Of ry hulle fiets? Kry geleenthede van die bure en kollega’s?
Dit is nou alles kort ritte in die stad, vra ek. Maar wat van langafstande? Die is daar ook, vertel hy ywerig. Maar dis die vreemdes van die land en die besoekers uit verre oorde wat sommer maklik vir jou sal vra om vir hulle van Bloemfontein na Kaapstad te neem. En R8000 daarvoor sal betaal.
R8000? My ma het altyd gesê: “Nou staan my verstand stil.”
Wat praat ‘n mens nou met sulke vreemdes as jy honderde kilometers vir hulle moet rondry, wil ek weet. O nee, vertel hy my dadelik, hy skakel sy radio hard aan en ry maar net. Maar hy hou hulle in sy spieëltjie darem dop. En hy sien hoe hulle soms vinnig om en agter hulle kyk, asof hulle onrustig is. En as hulle dit doen, weet hy dit is ook nie verniet dat hulle ‘n taxi vir die trippie huur nie en dat hulle genoeg geld het om te betaal. Hulle wil hul spore agter hulle uitvee of is bekommerd oor wat hulle in hul tasse het.
Ek sê maar niks nie. Wie is ek nou om te spekuleer oor die verborge doenigheid van daardie uitlanders met duisender rande se taxigeld in hul beursies waaroor hy praat.
Die lekkerste trippie ooit, vertel hy dan met kennelike genoeë, was Durban toe. ‘n Man en sy vrou het hom gevra om hulle die oggend te neem en die volgende oggend terug te bring. Hy moes in Durban dus vir hulle wag. Hulle het hom sommer saam met hulle in die hotel ingeboek en uitgevat vir ete. En, boonop, het hulle al die tolgelde betaal – wat normaalweg in die prys ingesluit is.
Ek hoor aan sy stem dat hy inderdaad goeie herinneringe aan Durban het.
Toe, uiteindelik, vertel hy my dat hy voorheen in die konstruksie-bedryf was waar hy ‘n goeie werk gehad het. Ewe skielik hoor ek sy stem kry ‘n effens donkerder kleur, maar hy bly nietemin ongeërg. Dinge het erg skeef geloop, sodat hy sy werk verloor het. En hy kon geen ander werk kry totdat hy later, 600 kilometer ver, darem weer as taxi bestuurder op ‘n kommissie basis kon begin werk. Al die pad het hy uit sy tuisdorp gery en sedertdien is hy die bestuurder van die gehawende motortjie waarin ons op pad is lughawe toe.
Die spore van die lewe besef ek, wat so diep lê, is die houe wat ons tyd aan Afrikaanse mense van sy soort uitdeel: aflegging, sukkel om weer werk te kry, maar dan eenvoudig vat wat beskikbaar is en die beste daarvan maak.
By die lughawe vertel hy my vir oulaas van die Hollandse toeriste wat hy lughawe toe moes neem. Daar aangekom wou hulle nie uitklim nie. Nee, sê hulle, ons moet Nederland toe vlieg. Neem ons na die groot lughawe! Ek vernkneukel my aan sy humor. Saam lag ons en dan betaal ek hom sy geldjie.
Op pad die lughawe gebou in, ry my gedagtes saam met die taxi terug na die stad. Daar lê in my, besef ek skielik, nou soveel gevoelens – byna ‘n tederheid oor ‘n mens wat in sulke slegte tye daarin slaag om kop bo water te hou en al pratende, in die skedonk-taxi, vir hom ‘n bestaan uitkerf.
Ek besef skielik, dink ek, so bietjie waarom die spore so diep oor sy gesig getrap is.
En onwillekeurig kom ook ander herinneringe by my op: Vroeër die oggend loop ek ‘n ou bekende raak. Hy vertel my van sy familie in ‘n klein plattelandse dorpie waarvan die meeste Afrikaanse mense nou al weggetrek het. Al die sekuriteite van baie jare, al die instellings van weleer – skool, kerk, bank, het onder hulle weggeval. Hulle leef in ‘n ander, nuwe dorp. Maar hulle bly nog dapper daar aan. Hulle het dit nie breed nie, maar hulle kan darem ordentlik lewe. En hulle het hulle jare lange huiswerker darem ook nog behou sodat sy ‘n werk en ‘n inkomste kan hê.
En toe, onlangs, het hulle ‘n geldjie afgeknyp om vir haar ‘n huis te koop. Na al die jare wou hulle graag dat sy daardie sekuriteit ook het.
En hulle het ook nie net gesorg vir ‘n dak oor haar kop nie. Saam met haar het hulle gegaan dat sy vir haar huis meubels kan uitsoek.
Op die lughawe lees ek vir die eerste keer in drie dae weer koerant.
Daar is ‘n berig oor ‘n kwaai jong politieke leier wat praat van die ryk witmense in ons land, roep hy glo woedend uit, wat “ons” besteel het en teen wie “ons” nou ‘n ekonomiese oorlog verklaar het.
Dit is asof die taximan en die plattelandse huiskopers nooit bestaan nie.
Daar is ‘n berig oor ‘n kwaai jong politieke leier wat praat van die ryk witmense in ons land, roep hy glo woedend uit, wat “ons” besteel het en teen wie “ons” nou ‘n ekonomiese oorlog verklaar het.
Dit is asof die taximan en die plattelandse huiskopers nooit bestaan nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.