Ek het in my aftye al halfpad gelees aan die beroemde Tant Alie Badenhorst van Transvaal. Dagboek van Alie Badenhorst oor die Boere-oorlog wat ek, van alle plekke, na lang gesoek op ons onlangse studiereis in Philippolis raakloop.
Dit is destyds deur Emily Hobhouse in Engels vertaal is en het opslae in Engeland gemaak omdat dit die toestand waarin vroue deur die oorlog gelaat is, so konkreet uitgebeeld het en omdat dit die wrede behandeling so duidelik gedokumenteer het. Dit is nie ‘n boek vol syfers en name nie. Dit is die vertelling van ‘n vrou se lewe in ‘n oorlog wat trekke van volksmoord vertoon het.
Die boek is in 1939 deur M.E.R. vanuit die Nederlands in Afrikaans vertaal. Ek sou graag ook die Nederlandse teks naas die Afrikaans wou lees (soos in Rensche van der Walt se dagboek), maar M.E.R. het nietemin vir ‘n gladde, lekker leesbare teks gesorg.
Ek het gemengde gevoelens oor die boek. Tant Alie sal dalk vir sommige lesers ‘n bietjie van ‘n smartlap lyk as hulle die boek op sy oppervlakte bekyk. Maar in werklikheid is sy so keihard soos ‘n klip in haar lojaliteit aan die Boere-saak en in haar voorneme om nie swak te lyk nie. Wanneer sy dikwels haar innerlike eerlik en sonder om doekies om te dra, blootlê, is sy versigtig om na buite te wys dat sy sterk is en vasbyt.
Sy is inderdaad die prototipe van die Boere vrou wat, toe die mans aan die oorlogsfront gevestig is, die plase aan die gang gehou het. En dit was nie sommer sulke plase nie. Op ‘n stadium vertel Tant Alie hoe sy 100 osse op ‘n keer moes versorg, en hulle was blykbaar nie sommer brandsiek nie. En dit was ook nie sommer groentetuintjies wat sy moes versorg nie. Sy noem heel indrukwekkende watter oeste sy moes inbring en hoeveel werkers sy daarvoor aan die gang moes hou.
Verder het sy die plaas per perd gepatroleer, die sake van die dag gehanteer – soos belastings betaal, inkopies doen, kinders versorg, bure besoek, soldate wat huis toe kom met verlof of op patrollie is, iets te ete gee en met ‘n honderd en een ander dinge besig gebly.
Dit is egter nie eintlik waarom ek die boek lees nie, hoewel die boek vir my ook al weer nuwe kyke op die oorlog gee.
Ek stel in die boek belang om Tant Alie se spiritualiteit te begryp, want sy is duidelik ‘n godsdienstige vrou wat dikwels oor haar geloof skryf. Sy ken die Bybel en haar liedere, is betrokke by die kerk en bedink gedurig alles wat met haar gebeur in die lig van haar verhouding met God.
Maar daaroor miskien later meer.
‘n Mens lees graag hoe mense orent bly as hulle geloof op die uiterste beproef word. Dit is dan dat hul diepste oortuigings getoets word. En een insident in die boek onthul op ‘n boeiende manier iets hiervan.
Op ‘n stadium word tant Alie se susterskind ernstig siek. Alie kan nie gaan help nie, want haar vier kinders is almal ook erg koorsig aan masels in die bed en sy moet hulle bystaan, veral omdat vele kinders aan masels sterf. Mooi is haar storie oor haar verpleging en haar raat: sy vat warmwaterbottels en sit dit voor en agter die kinders se bors dat hulle liederlik die koors uitsweet. “Daar was vier siekes, dus agt bottels” laat weet sy presies. Die “behandeling” (vir masels) werk en toe hulle nie meer kritiek is nie, sit sy af om haar susterskind te gaan help.
Daar aangekom, is die kind sterwende. Die ma sit langs haar bed en hou elke asemhaling van die kind dop.
Die ma keer onmiddellik dat tant Alie, geskok deur toestand waarin sy die vierjarige kindjie aantref, enige trane stort. Hier is Alie se beskrywing van haar woorde toe Alie by die bed aankom:
“Alie, nie ‘n enkele traan nie, hoor! Tant Alie, Dirkie gaan na die hemel toe, waar al die engeltjies is en waar al die kindertjies in die Nuwe Jerusalem aanland. Daar speel die kindertjies in strate van goud en daar sal sy by haar sussie en boetie wees.”
Duidelik is die ma ‘n gelowige vrou wat besig was om haar kind op die naderende dood voor te berei, want, skryf Alie in die volgende sin die woorde wat die kind saggies en fluisterend byvoeg by haar ma s’n: “Mammie, kom gou en tant Alie ook!”
Die volgende sin is eintlik hartverskeurend: “Toe sing ons saam: Loof, loof die heer!”
Dit is hier waar die boek my aandag meer as andersins trek. Hier is ‘n vrou wat hulpeloos toekyk hoe haar kind weggly in die dood, wat begryp dat sy niks daaraan kan doen nie en wat daarom ‘n situasie skep waarin die kind rustig en in vrede kan sterf. Sy, soos tant Alie skryf, “help haar kind oor die Jordaan.” In die desperate situasie is dit die ligte beelde van engele, goue strate, stil vloeiende waters, Bybelse troosbeelde, wat die hart bymekaar hou.
Dus, vir haar, geen onsteltenis van mense wat om die kind se bed sit en huil nie. Die kind sterf nie in angs nie. Ma sit langs die bed, praat oor die alternatiewe tuiste, die plek van lig.
Wat die verhaal soveel integer maak, is dat die ma in die vorige paar maande reeds twee van haar ander kinders sien sterf het en dat haar man, op die oorlogsfront, nie by is om te help of om afskeid te neem van hulle laaste lewende kind nie.
In die situasie van ellende kom daar dus ‘n oorvloed van godsdienstige taal na vore: so sterf ‘n mens, as jy gelowig is. Daarmee word die sterwende kind omring en gesteun.
Op die trant word die sterfbed-verhaal verder vertel. Maar dit is die slot van die toneel wat ‘n mens ‘n insig gee van die ervarings wat die vrou in die oorlog deurgegaan het en hoe hulle, in ‘n vernietigende stryd, in ‘n situasie van ‘n barre oorlewingstyd, sonder mediese hulp, ontsê van hul naaste dierbares, oorlaai met oorlogsellende, oorleef het en deur hul geloof gesteun is.
As Alie terug is huis toe, kry sy later in die dag die volgende briefie van haar suster waarin die ma, al skrywende, haar emosies vasbind in ‘n narratief wat vertel van hoe fyn sy waarneem en hoe styf sy vashou aan die goeie woorde, die nagsê-oomblikke, die beelde van rustigheid, die vreedsame, stil lyftaal. Sy skryf – nie ‘n dankwoord vir Alie se besoek nie, niks oor begrafnisse of oor haar eie smart nie – maar bloot net hoe goed die laaste oomblikke was:
“Sy is heengegaan, sag en stil. ‘Nag, Ma,’ het sy gesê en met haar vingertjie na bo gewys; ‘die engeltjies het gekom,’ en toe ‘n suggie; haar handjie sak; en sy was nie meer nie.”
Die foto hierbo is van Tant Alie (sy vertel heel ydel aan die begin van die boek hoeveel mans haar lastig geval het om met hulle te trou) en haar man, Frikkie, wat, uit sy briewe in die dagboek, ‘n ware, vrome patriarg was).
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.