Tuesday, September 20, 2011

Deernis.


In tye van my kort, maar seker dalk nodige ballingskap van ‘n paar jaar, weg van my see, die weidse pieke, die geborgenheid van bloedbande, die nat wintertye met tussen-in daardie oop, helderblou wintersdae as die son snoesig en Kaaps skyn en skyn, het ek in die donker dae soms by my digtersvriend en vakkollega, Johan Steyn, in sy kantoor laer af in die gang, gaan inloer – nie om te kla of om te kerm nie, maar bloot net om by sy menslikheid weer te kan asem skep vir die voortbeur van die res van die vaal dae.

Dan het ons ‘n halfuurtjie gelag, bietjie gespot oor die vanitas van die vele, eintlik verdrietige lewensreisigers, maar het ons ook oor die teenpool, die dieper dinge gepraat, of soms sommer net oor die lewe, oor sy vriendskap met van ons voorste digters wat in hom ‘n onkonvensionele, vry mens raakgesien het. Hy was toe al gedebuteerd as ‘n digter. En sy woordkuns is miskien ook deel van die rede waarom dit vir my lekker was om by hom te kan inloer. Op my rak staan vandag nog my getekende eksemplaar van sy digbundel, wat hy op ‘n dag, vrolik, kennelik so bietjie trots en tog ‘n bietjie ydel, vir my geteken het. En sprekend van sy skerpheid en intellektuele rigeur, was dit nie amateur-gediggies nie. Dit was digkuns wat in die literêre wêreld erken en bespreek is.

Ons kon dinge weeg, van mekaar verskil, wonder oor onduidelike sake en dan beloof om weer te praat oor sake waaroor ons anders gedink het.

Maar altyd weer was daar ‘n onderlinge ervaring van geloofsverbondenheid, van goedheid, omgee en begrip, van ‘n goeie vriendskap.

Sy kunstenaarstemperament het hom nooit toegelaat om ‘n dapper kantoor-muis te word nie. Hy was nie die konformis nie, die netjiese bestuurder, die burokratiese pennelekker, die aangewese hoof van ‘n departement nie. Hy, met die skerp brein, het uiterlike godsdienstigheid, "wetenskaplike" pretensie en vakdissiplinêre politiekery herken vir wat dit is. Hy het geweet godsdiens moet groter wees en dieper gaan.

Ek lees die onderstaande bydrae van hom vir die eerste keer vandag. Hy het dit blykbaar twee dae voor sy dood geskryf. Dit is, soos hulle vandag sou sê, “vintage” Johan, al staan ek opnuut en miskien nog meer as tevore, verwonderd en geraak voor die verlange en die insig wat daaruit na vore kom. Dit is sy deurwinterde gedagtes, geskryf toe hy al dekades lank die kerk en die teologie in die oog gekyk het en geweet het, geweet het.

Maar wat ek nie toe geweet het, die tye van ons geselse nie, was dat hy, lank voor ek ooit van Meister Eckhart geweet het, reeds vir hom gelees het. Hier ontdek ek dit, vandag, postuum, noudat daar nie ‘n opsoek-kans is om met hom daaroor te gaan praat nie, om te gaan hoor wat hy gelees het en nog meer om te gaan verneem wat hy daaroor bedink het nie.

Ek sien met verwondering dat hy in die artikel ook fokus op die mistici, en veral op ontferming as dit wat ons lewensreis sinvol maak. “Deernis”, noem hy, die digter, die woordkenner, dit. Hoe omstrede sy artikel ook al vir sommige mag lyk, iemand wat so oor ontferming skryf, weet wat spiritualiteit is.

‘n Mens lees iemand wat jy goed ken, iemand wie se hart jy dikwels in sy goedheid bewonder het, agter al sy of haar brawade’s, ten spyte van sy minder goeie oomblikke, se skryfwerk oor wat regtig saak maak, altyd met aandoening. Dit is ‘n wonder-gawe wanneer jy, as die mens nie meer daar is nie, tog sy stem weer kan hoor.

Maar ek lees ook die artikel met ‘n gevoel van onbehaaglikheid. Daar is my gevoel van opstand oor die tipe teologie en die kerklike lewe van hardheid wat in Johan se tyd so maklik en gou mense verstoot en afgestoot het. Dit was die tyd waarin die teologie en die kerk dikwels sonder deernis ‘n klomp mense verwerp het.

Ek sou graag weer wou afsit na sy vriendelike kantoor onder in die gang om met hom te kon praat oor die twaalf artikels wat, katafaties, tog ook iets egs oor God wil sê. Ek sou vir hom wou vertel van Henri Nouwen se Dagboek, waarin Nouwen elke dag, op een enkele bladsy, ‘n jaar lank, ‘n paar vonk-gedagtes neerskryf oor hierdie klassieke belydenis van die Christelike geloof vanuit ‘n spiritualiteit van intimiteit. En ek sou wou hoor hoe hy reageer op die professor aan die Universiteit van Yale en Harvard, die man met die L’Arche-hart, wat die ou inhoude van die twaalf artikels op nuwe maniere oorgedra het vir mense in ons tyd wat die lewensspoor nie altyd meer kon raaksien en naloop nie. Ek sou vir hom ‘n paar plekke in die Dagboek uitwys waar Nouwen oor die harde gesig en woorde van mishandeling van die kerk praat en ook uitwys hoe vernietigend pastores se woorde kan wees. Maar ek sou ook my vinger sit op die dele waarin Nouwen ook weer aan die kerk vashou – as die kerk maar net die kerk van diens en ontferming word. Want altyd weer, glo ‘n mens aan die “heilige, algemene” kerk, die kerk wat so enig en liefdevol soos God is en so wyd uitreik na almal soos die Vader van die skepping.

Hierdie stuk is waarskynlik een van die mooiste, maar ook treurigste testamente van ‘n Suid-Afrikaanse teoloog. Dit spreek boekdele oor teologie wat in die Aufklärung vassteek. Dit vertel van ‘n mistieke vashou, apofaties, aan die Oneindige wat troosryk by mense bly, ten spyte van hul (miskien goedbedoelde) pogings om die Verborgene die gevangene te maak van hul konstruksies en hul woorde.

Oor baie dinge, oor die skerp formuleringe, sou 'n mens kon aanhou praat, maar mooier as die volgende opmerking kan dit nie: “Ek is onherroeplik in my hele menswees aan Hom verbind. Hy is in elke versugting van blydskap of leed, die krag van my rus en my opstand.”


Die regverdiging van geloof
Johan Steyn

In 'n onlangse praatjie voor die Filosofiekafee het ek die argument gevoer dat die lewensskip ligter is sonder geloof. 'n Vriend het my herinner aan 'n boek van Kuitert jare gelede met die titel Zonder geloof vaart niemand wel. Bewustelik het die titel egter aangesluit by 'n vertaling van Boeddhistiese gedigte deur JS Krüger: Skep die skip leeg. Vanuit daardie impuls het ek vertel hoe daar ligtheid kom met elke stuk dogma wat oorboord gegooi word. Uiteindelik het ek gesê dat ek gemeet aan die Twaalf Artikels nie meer as 'n Christen kwalifiseer nie.

Hierdie punt wil ek graag beklemtoon. Ek doen dit met Feuerbach in gedagte. Hy kon nooit genoeg daarvan kry om die liberale Christendom van sy tyd te kasty nie. Die liberale Christendom het hy teenoor die klassieke Christendom gestel wat hy as Bybels-Reformatories gedefinieer het. Met 'n wye en diep kennis van die tradisie wat vanaf die kerkvaders strek het hy geredeneer dat die Christendom van sy tyd alleen maar die objek van spot en satire kan wees. Hierin is ek dit met hom roerend eens.

Kyk ek nou direk na vandag dan kan ek my veragting nie verberg vir Christene wat een na die ander van die Twaalf Artikels weggooi, maar as dit puntjie by paaltjie kom nog die troos van geloof wil behou nie. Hierdie verskynsel het veral by die Nuwe Hervormers na vore gekom. Ek wil my hier direk daarteenoor stel. 'n Mens sonder 'n tradisie, het Van Ruler gesê, is 'n barbaar. Ek staan die tradisie en daarmee saam die troos wat dit bied af. Daarom noem ek myself ook nie meer 'n Christen in die klassieke sin van die woord nie. Ek het die aartsbuitestaander geword. Ek bevind my in die geselskap van Franz Overbeck, vriend van Nietzsche, met 'n slegte gewete agter die kerklike kateder.

Die afskaffing van die Twaalf Artikels onder moderne Christene het nie met luide geskal plaasgevind nie, maar as 'n gefluister in die skemer. Ek kan die presiese volgorde van afskaffing nie onthou nie, maar ek dink die eerste artikel wat geval het was die hemelvaart van Christus. Die afskaffing van Hemelvaart as vakansiedag het sonder enige protes plaasgevind. Daarop het die wederopstanding van die vlees gevolg. Ek het onlangs met 'n gelowige wetenskaplike gesels wat vir my verduidelik het waarom hierdie artikel sinloos is. Daarmee saam verval natuurlik ook die artikel van die ewig lewe. Ek sou bladsye kon skryf oor die konsekwensies van die afskaffing van die Geloofsbelydenis.

Maar daar is 'n ander kant en 'n baie belangrike kant van die saak. In sy boek The God Delusion betoog Richard Dawkins dat die Christendom in 1800 jaar nie vorentoe beweeg het nie, maar gestagneer het. Hoe bring 'n mens nou die kloutjie by die oortjie? Dit was my probleem vir veertig jaar. Omdat ek nie hou van herhaling nie, gaan ek die storie nie weer vertel nie. Genoeg om te bevestig dat in my skip nie meer Die Heidelbergse Kategismus, Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Die Leerreëls van Dordt, die drie geloofsbelydenisse en die formuliere van die kerk gevind word nie. 

Maar beteken dit nou dat ek nie meer in God glo nie? Nee, want ek glo nie; soos Jung gesê het, ek weet. Daar is vir my niks sekerder nie as dat daar hoër en dieper as enige formule 'n draende en verheffende Grond van die bestaan is. Hy is Meister Eckhart en Paul Tillich se GOD above God, bo die geformuleerde, gedefinieerde God. Ek is onherroeplik in my hele menswees aan Hom verbind. Hy is in elke versugting van blydskap of leed, die krag van my rus en my opstand.

Maar: ek verwag nie om met hierdie geloof erkenning in die kerk te kry nie. My gemeenskap van gelowiges is die mistici van alle eeue en tradisies. Dit is 'n interessante verskynsel: hoe hoër of dieper gevors word, hoe meer vind die verskillende tradisies van die verskillende religieë vrede met mekaar. En waaraan het ons vandag meer behoefte as aan vrede, veral die vrede wat alle verstand te bowe gaan? Dit is waarom ek so 'n geswore vyand van alle fundamentalismes is, van watter vertakking van godsdiens ookal. Mense skort hulle denke op in die hoop om daardeur gered te word, maar is dan kwaad vir almal wat hierdie weg nie wil bewandel nie. Fanatisme is geweld en aan niks het ons minder behoefte as nog geweld nie. Ek droom van 'n wêreld waarin verkeerde opskorting 'n einde kry, waarin denke as die juweel van die diepste vertroue verwelkom sal word.

Maar dobber 'n skip sonder vrag nie rond in elke bries wat daarteen aanstoot nie? Die lading van my skip is die gewiglose lading van deernis. En vreemd genoeg, hier sluit ek weer aan by 'n tema in die klassieke Christelike geloof. Die teks vir my proefpreek was: Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. Die ongedogmatiseerde Christus. Maar ek sluit terselfdertyd aan by die universele denker Schopenhauer. In 'n essay oor die grondslag van die etiek oorweeg hy verskillende opsies en kom dan tot die gevolgtrekking dat deernis of medelye die egte sin van die Bybelse begrip van agape is. Want die diepste van die lewe is lyding. Die hele skepping sug en is in barensnood tot nou toe. Die diepste en spontaanste van die siel is inderdaad verdriet. Geen ander emosie word so spontaan opgeroep nie. Laat ons dan in Godsnaam goed wees vir mekaar. Met die ontwaking van deernis verdwyn die afguns wat so maklik kop uitsteek. Met deernis word die ander in sy ondeurgrondelik eie leed as mede-mens omhels.

Nou sal daar mense wees wat sê dit is 'n gebrek aan takt dat ek hierdie dinge so opsigtelik en so hard op die tafel neersit. Moet 'n mens nie liewer jou mond hou en formuliere toelaat om 'n stil dood te sterf nie? Ek verset my daarteen in die naam van integriteit. Ek hou nie van 'n stilte wat die stilte van die dood is nie. Ek wil hê dat niks aan die debat onttrek word nie. Daar is juis al te veel double speak in die politiek van die dag. Ek hou daarvan dat die son die oes toets, of dit 'n goeie of 'n misoes is. Ek dink dat die publieke oorweging van dade en gedagtes die enigste voordeel van demokrasie is.

Die voorhangsel het geskeur. Dit kan nie weer toegewerk word nie. Daar is niks meer heiliger as iets anders nie en daar is niks wat nie ook heilig is nie. Ek dank hierdie gedagte aan my vriend, Erasmus van Niekerk. Wat ek graag wil sien is die heilige deug van waaragtigheid in die alledaagse oop gesprek. Waarna ek verlang is dat anatema deur sjaloom vervang word. Dit is die eerste en laaste regverdiging van geloof in ons tyd. Mag die Onsienlike ons daartoe sterk en steun!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive