Friday, September 30, 2011

Die toe kerke....


Madrid raas en kreun onder al die mense. Van vroeg-af, maar veral as die winkels teen laat-oggend oop is, is die sypaadjies vol voetgangers wat in ordelose strome hul pad deur die groot stad loop. Om nie van die strate te praat nie. Dit wemel van die motors en busse.  Dit is ‘n besige, raserige stad wat oorloop van die mensdom.

Vanaf 1991 tot 2011 het die inwonertal van Madrid vanaf 4.9 miljoen tot 6.5 miljoen toegeneem.

Ek kry na drie dae die gevoel wat Opperman gehad het toe hy sy gedigte oor die grootstad gemaak het.

Ek soek bietjie ruimte om stil te word van al die geraas - want dit is oral en onontvlugbaar. Ons probeer om ‘n kerk of wat te besoek. Hulle is meestal toe. Ons gids skryf dat hoe leër die kerke word, hoe meer maak die priesters of hulle dit nie sien nie.

Sekularisering tref ook hierdie baie katolieke land.

Het die kerke ‘n lugleegte gelaat?

Op die oog af lyk dit nie so nie.

Op ons toer deur die stad klim ‘n groot groep mense by die sokker-stadium van Real Madrid af en net so ‘n groot groep klim op.  Hulle het so pas die museum besoek waar dekade’s se memorabilia van al die grootste spelers en wedstryde uitgestal is. In die stad is daar sokker-winkels wat goed besigheid doen.

En, op ‘n aand, terwyl ons die binnestad instap, loop ons verby ‘n baie lang ry van jongmense. Hulle staan seker ‘n 400 meter lange ry vol en wat om by ‘n groot geboue in te gaan.

Na ‘n ruk moet ek een van hulle vra wat hulle dan daar doen.  Dit  blyk dat hulle ‘n konsert van een of ander bekende band gaan bywoon. Geduldig staan hulle hul beurt en afwag.

En dan sukkel ‘n mens om by ‘n kerk in te kom net om dit te kan sien….

Hoe oorleef die stadmens hierdie lawaai?
By die lughawe, op pad huis toe, is daar al een antwoord. In die kleedkamer is 'n kennisgewing op die deur: "Hierdie kleedkamer is toegerus met houers om naalde en hul spuite in te gooi."

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive