Friday, September 09, 2011

Hammerskjøld: wanneer die dood die verlange van die hart vervul

Hammerskjold se Markings (Merkstene) is een van die beste voorbeelde van moderne mistiek. Dit word as een van die meesterwerke in spiritualiteit van die twintigste eeu beskou. Hierdie man wat die Nobelprys vir vrede in 1961 ontvang het, het 'n besondere sin vir sy roeping gehad. Vir hom was die roeping wat God vir hom bepaal het, iets wat hy in die openbare, politieke sfeer wou uitleef. Hy was intens daarvan bewus dat sy werk nie maar net vir 'n salaris is nie, maar dat dit 'n self-prysgawe is waarin hy die wil van God vir sy lewe uitgeleef, gehoorsaam en gesoek het. 

Hy het die volgende geskryf:  

Do not seek death. Death will find you. 
But seek the road which makes death a fulfillment.

Die aanhaling (raakgesien deur Louis in sy werkstuk van vandag oor Hammerskjøld) laat my besef hoedat ons tradisionele siening van die dood as die laaste vyand tog iewers vanuit 'n mistieke hoek gerelativeer word. 

'n Mens staan wel voor die onvermydelike: die dood is ons aller lot. Maar die geheim is om nie daarop vas te kyk nie. Moenie die dood soek nie. Moenie geobsesseerd, selfs angstig wees daarvoor nie. 


Dit is hoogs mistiek.


En die mistieke word dan verduidelik deur die laaste sin: mense kan vry wees van doodsangs deur 'n bepaalde weg te kies. Dit is uiteraard die weg na God. Hierdie weg wat die mens uit liefde vir God opsoek en waarheen die mens dan sy of haar hele lewe deur op pad is, eindig by God. Al 'n mens se verlange is uitgestort op die weg na God. Om by God te kan wees, om by die Ewige te kan woon....


Daar is net een ding wat ons hiervan skei: die dood. As die dood kom, kom die vervulling van ons begeerte om by die Ewige te wees. Want as die dood gekom het en die vervulling van ons verlange na God aangebreek het, ontdek 'n mens die onbegryplike: niks kan 'n mens skei van die Liefde nie. Die dood bring die vervulling van die Liefde.


Soek dus daardie weg wat die dood 'n vervulling maak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive