Friday, July 14, 2006

Ingeland, geluk en spiritualiteit

Saterdag 8 Julie 2006 land ons 06h40 op Heathrow, 'n seepgladde, rustige vlug van die moederstand agter die rug en Ingeland nog diep vervalle in die naweekroes. Die vrindelike allogtone Asier agter die inligting-toonbank beduie ons heel simpatiek hoe om by Ely uit te kom sonder om die volgende ses maande van my inkomste aan 'n kaartjie af te staan. Ek wou nog op King's Cross 'n ordentlike bagel koop. (My lus is intens: In die hoogburg van fynproewersland, die S., is bagels mos witbrooddeeg wat jy in 'n bagelgrote rol saambol en 'n halwe gat daarin probeer druk). Maar ons trein vertrek binne minute en ek moet teensinnig en met die smaak van die vliegtuig se brekfis-plastiekeier vasbyt en die Drakensberg oor.

Alles back "Home" is nog in plek, ontdek ons gou-gou. Die somer is volstoom aan die gang. Die sokkerwonde van die WB word nog rouer gelek. En ek koop Ingelse koerante. My oupa, volgens die familie se meester-narratief, wat op sy dae met die vryheidsoorlog so goed as 'n onverskrokke rebel in die kolonie was, het altyd vertel dat die enigste ding wat "die Engelse" goed gedoen het, was Austin karretjies. Maar ek dink hulle koerante verdien deesdae ook 'n ereplekkie. Dis altyd my plesier om te kan kies tussen die Guardian, Times, Independent, Daily Telegraph - een elke dag om die beurt. Sondag is dit die Independent se beurt - en hierdie blog is gebore uit die kopie van 8 Julie wat ek aangeskaf het: Die rede vir my keuse is die voorblad-berig met die opskrif, "Happiness lessons for all. Schoolchildren (sic) will take self-esteem classes to raise standards and cut crime. US guru called in to pioneer radical scheme that could enter the school curriculum." Dit is 'n nuwe program vir elfjariges om depressie, selfvernietiging en anti-sosiale gedrag onder jongmense te bestry. In die program word onder leiding van Prof. Martin Seligmann van die Universiteit van Pennsylvania, "one of the most influential psychologists of his generation," 2000 onderwysers vir die klasse in geluk opgelei. 'n Gevoel van selfwaarde word gestimuleer en tegnieke om negatiewe gedagtes te bedwing, aangeleer. Die program het blykbaar in die V.S.A. tot beter skolastiese prestasies gelei. Die program is gebore uit 'n krisis-situasie: Drie uit elke klas van 30 kinders wys simptome van ernstige depressie, met selfmoordgedagtes, diepe wanhoopsgevoelens en daaglikse neigings om in trane uit te bars. Terwyl sommige mense 'n kwarteeu gelede eers op die gemiddelde ouderdom van 30 jaar aan depressie gelei het, is die gemiddelde ouderdom tans 14 jaar. Dit is, kortom, 'n program wat gerig is op die emosionele toerusting van kinders - en die gedagte is om alle kinders so te begelei, nie net stoute kinders nie. Trouens, die gevoel is dat onderwysers te veel aandag gee aan probleem-kinders en in die proses nie die emosionele nood van die "ordentlike" kinders raaksien nie.


Waarom interesseer die berig my so? Uiteraard die ervarings wat ek die afgelope paar jaar met diep ongelukkige en depressiewe studente (en mense) meegemaak het wat nie weet waarnatoe om met hulle lewens te gaan nie. Maar daar is ook 'n meer formele rede: Ek het die afgelope tien jaar 'n redelik skerp skuif in my teologiese denke gemaak en het al hoe meer oortuig geraak dat ons met ons fokus op die rasionele en verstandelike 'n godsdienstige woestyn begin ingaan het. Dit was reg en goed dat die teologie (dikwels baie dapper) bygelowe en kerklike wanpraktyke van die verlede probeer besweer het. Ons het 'n ver ent gevorder om te verstaan wat godsdiens nie behoort te wees nie en ook bloot net om die Bybel op 'n bevrydende manier te lees. Dit is nie altyd so maklik om 'n teologiese pad te loop nie, maar dit kan wonderlike bevrydend werk. Maar al die tekens is daar dat dinge nou draai.

My skuif na spiritualiteit het te doen met my "gevoel" dat die volgende groot fase in die godsdienstige denke op die mens se geloofservaring sal fokus en dat die emosionele in hierdie fase 'n kerntema sal wees. Op belangrike plekke in die teologiese wereld is godsdienstige "ervaring" toenemend onder die loep. Hierdie verskuiwing hang vir my saam met 'n baie basiese vraag: watter verskil maak my godsdiens? Dit gaan naamlik nie net om die ervaring nie, maar veral om transformatiwe ervaring.

Natuurlik het spiritualiteit met veel meer as die emosionele te doen. Die woord ervaring hou dit al in. Ek glo byvoorbeeld dat die estetiese 'n ander brandpunt in godsdienstige besinning en spesifiek in spiritualiteit sal wees: hoe gebruik ons musiek, die visuele, die kuns, om ons godsdiens te beleef as 'n transformatiewe stukrag? (Dink maar Gibson se Passion of the Christ). Maar die emosionele bly 'n kernsaak.

Onthou ons nie almal die (destydse goedbedoelde en tog geldige) waarskuwings: die prediker loop met jou emosies op tou en more sit jy met die kater en die ontnugtering. Of: die destydse kerklike suiwering van die Halleluja-bundel. Dit was die soort van opmerkings wat, saam met ons "objektiewe" ondersoek van die Bybel, emosies verdag gemaak het.

Interessant genoeg vind die herwaardering van die gevoelslewe nie net op godsdienstige vlak inslag nie. Onlangs het ek Goleman se twee trefferboeke oor Emosionele Intelligensie gelees. Dit was belangrike leesstof wat vir my 'n lekker raamwerk vir die Independent se artikel gebied het, maar wat my betrokkenheid by spiritualiteit ook gevoed het. Goleman spreek vir my dieper dimensies van ons bestaan aan. Ons emosionele lewe, ons ervaringswereld is fundamenteel vir wat en hoe ons dink.

Op my lessenaar het ek 'n spreuk uitgedruk en vasgeplak: "Ons leer net van mense vir wie ons lief is" - wat vir my iets verbeeld van hierdie waarheid. Met ander woorde, ons ervarings en ons emosies stuur in baie opsigte ons denke. Ons verwerp dikwels die meer logiese en rasionele omdat die een wat so logies en rasioneel probeer om ons te oortuig, ons "afsit." Ek weet dit is nie heeltemal so maklik soos dat emosies rasionaliteit bepaal nie. Die program in Engeland gaan byvoorbeeld werk met die belangrike kognitiewe gedragsterapie, wat dus rasionaliteit en emosionaliteit paar. Hierdie "rasionele" kognitiwiteit se fokus bly die affektiewe, die emosionele. Dit is dus nie dinge wat teenoor mekaar staan nie, maar wat mekaar aanvul en in 'n onlosmaaklike verband met mekaar staan (soos teologie en spiritualiteit).

Hieroor wil ek in die volgende paar dae meer skryf: oor die klomp boeke wat in 'n ander koerant-artikel geresenseer is wat almal oor geluk handel. Oor 'n koerant-artikel wat skryf dat kinders wel vandag in 'n baie meer kindervriendelik omgewing word (die eeu van die kind), maar dat asosiale gedrag nie noodwendig daarmee afneem nie en dat hulle al hoe meer depressief raak. En so bietjie meer oor spiritualiteit in 'n poging om die baie voorlopige gedagtes hierbo verder te neem. En oor die groot vraag: is dit goed om geluk te jaag? Is geluk die hoogste goed? Laat ons sien...

'n Totsiens-paragraaf: die naweek het ek toe elke dag my bagels ge-eet, gekoop by Tesco's. Dit het my salig gelukkig gemaak. Maandagoggend het Elsje ons 5h30 Luton toe geneem en op die lughawe vertel die vrou agter die inweegtoonbank vir al ons vreemde gesigte in die ry hoogs gelukkig en opgewonde: Nadal het blykbaar kort tevore by dieselfde toonbank ingeweeg en loop glo iewers op die lughawe rond. Sy was in die wolke. Ek het gekyk of ek hom sien want ek het gedink dalk kan ons 'n bietjie squash gesels en miskien sy wedstryd teen Federer saam ontleed. Maar hy was skoonveld. Het hy my gedagtes gelees en hom uit die voete gemaak? Wat ek net glad nie kan dink nie is dat hy Easyjet gevlieg het? Puzzle.

Cherete - geluk toegewens! (soos ons Griekse voorouers dit al uitgedruk het....)

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive