In Deuteronomium word die Israeliete opdrag gegee dat hulle die gebooie op die deurkosyne van hul huis moes vasssit. Vanaf ongeveer die vierde eeu v.C. het dit 'n algemene gebruik onder Joodse gelowiges geword. Ek het hier onder geskryf oor daardie oomblik van toe-eiening wat somtyds oor jou pad kom waarin jy iets wat belangrik is, deel van jou bestaan maak. Dit dring deur tot jou binneste diepte en gaan lê daar as deel van die sentrum van jou bestaan, wat jou lewe stuur en rig. In spiritualiteit word gepraat van dit wat in jou hoof is wat tot in jou hart insak. Soms gebeur dit onverwags en onberekend. Soms moet jy bewustelik rituele soek sodat die geestelike dinge in jou hart kan afsak. Eredienste en sakramente is bekende rituele. Maar ons het duisend ander alledaagse gewone roetines wat die mag van rituele angeneem het: ek het "my" stoel waar ek gemaklik voel. As ek daarin wegsak, sak die vrede oor my toe. 'n Sjef-vriend van ons vertel hy moet altyd eers stort voordat hy rustig kan gaan sit en sy ontbyt eet anders is sy hele dag ontwrig. Die punt is dat jy jou instel op iets deur rituele - as dit ontbreek, haper iets by jou.
Die gedagte met 'n mezzuzah is dat jy daaraan raak as teken dat jy die Sjema-gebed bid elke keer as jy die huis ingaan (Deut.6:4-9):
Luister, Israel, die Here is ons God, die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op jou pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.Die Sjema is die hartaar van die Joodse gelowige se identiteit. Daarmee bely sy of hy 'n ekskulsiewe verbintenis met die een God wat alles tot stand gebring het en aan God se wil wat oor soveel eeue heen in die woorde van die profete aan ons deurgegee is. Jesus het hierdie gebed ook gebid. As 'n mens die mezuzzah op jou voordeur aanraak elke keer as jy jou huis ingaan, wy 'n mens daarmee biddend die huis as mees intieme lewenssfeer tot 'n lewensruimte waarin God die enigste Here is en waar God se krag die verskil moet maak. Dit is 'n appel dat 'n mens se lewe geinspireer sal word deur God se unieke liefde as voorbeeld vir hoe 'n mens self wil lewe.
Om daaraan te raak, is een manier om konkreet 'n mens se gedagtes op God in te stel. Die mezzuzah is vas op jou deurkosyn, die drumpel van jou voordeur, die toegang tot die hart van jou bestaan en lewe. Die ritueel van 'n aanraking van die mezzuzah soos jy by jou huis ingaan, kan 'n 'n geseende herinneringsteken word. Ons knoop daardeur onsself weer aan ons geskiedenis met sy argetipes en dieptestrukture, aan God en God se wil vir ons lewe, maar veral ook aan die vreugde dat ons geloof prakties en sigbaar 'n verskil kan maak aan so iets gewoons as die plek waar 'n dak oor ons koppe is. (Wat doen jy as jy nou net aan die mezzuzah geraak het en jy stap in jou huis waar jou vrou moeilik is en jou kinders stout?)
Die mezzuzah wat ek in Jerusalem gekoop het, is deur 'n Israeliese kunstenaar as 'n klein keramiekplaatjie gebak en in olyfhout geraam. Die tekening is 'n blik op Jerusalem, die stad waar die Here geleer het en self die Sjema gebid het. Die kleure daarop is 'n betowerende ligblou en groen. Vir my herinner die mezzuzah aan Jesus wat in Jerusalem op 'n radikale nuwe manier deur sy lewe van opoffering aan die eeueoue geloof van sy voorouers nuwe krag gegee het en dat daardie krag vir my beskikbaar is.
Die blote aanraking van die mezzuzah soos jy oor die drumpel van jou huis loop, is 'n gebed om die teenwoordigheid van die God van Israel wat getrou (op een keer al 40 jaar lank!) met die volk van God wandel. As iets haper in 'n mens se huis, het jy dalk nodig om weer aan die mezzuzah te gaan raak en na te dink oor wat God se wil vir jou en jou mense is. Dit is deel van die wandel met God dat jou gedurig weer kan konnekteer met en herinner aan dit wat jou inspireer en jou lewe verryk. Dan word dit 'n ritueel wat iewers mistieke krag het.
'n Mens kom soms op 'n plek waar mense iets hiervan begryp deur die bekende uitbeelding: "Die Here is die hoof van hierdie huis." Baie keer lyk dit nie juis of die Here as hoof van die huis enige sê het in wat daar aangaan nie. En 'n mezzuzah op die drumpel gaan nie noodwendig 'n ander stukkie muti wees wat 'n mens kan uitprobeer vir 'n gelukkige gesinslewe nie. Die intieme huislewe is 'n harde werklikheid, vol spanning, twis, seermaak, seerkry, ontrouheid, feilbaarheid. Die geskiedenis van God se volk, God se kinders, is juis tog die spieelbeeld hiervan. Mense, uitverkies bo vele ander, maar tog bedroewend en klaaglik in hul ongehoorsaamheid en mislukkings.
Op die boekrak van ons belese gasvrou in Amsterdam staan Anselm Grun se boek oor rituele: Een veilige schuilplaats. Meer levensvreugde door Rituelen. (Lannoo/Kok, 2002). Dit is 'n spesiale boek, wat my onder andere herinner aan die onvoltooide gedagtes wat ek hierbo geskryf het. Grün herinner my daaraan dat dit in rituele nie om leë handelinge gaan nie. In my storie is die punt nie eintlik die mezzuzah nie, dat ek dit aanraak nie, dat ek vroomweg die kwaad kan wegtower nie. 'n Ritueel vra volgens hom iewers 'n stuk goeie dissipline (50), wat niks met dwang te doen het nie: "Dissipline is volgens 'n Amerikaanse sielkundige die kuns om die verdriet wat die lewe jou bring, te verminder." 'n Ritueel wil juis vrome ontvlugting or persoonlike onverantwoordelikheid voorkom. Ons godsdiens is nie 'n doepa nie, 'n muti nie, iets wat dinge vir my moet "laat werk"nie. Dit betrek ons eerder aktief by die uitlewing daarvan. Dit gaan hier om spiritualiteit in sy mees wesenlike vorm. Spiritualiteit as die wandel met God, leef konkreet uit en ervaar prakties die krag wat God beskikbaar stel aan God se vriende. Die probleem is dalk dat ons te min mezzuzah's het en nie genoeg vir ons herinner aan die krag wat in God beskikbaar is om die verdriet te besweer nie.
Die herinnering aan wat God doen, bring egte geluk, hartsgeluk en inspireer 'n mens tot vreugde. Juis vanweë ons verdriet, moet ons ingestel wees op die krag wat ons daarteen nodig het. En om 'n mens in te stel, om elke keer nie die huis in te storm nie, maar doelbewus vir 'n oomblik stil te staan en te kies om jou vinger op God se hartklop te lê, vra dissipline. Dis 'n dissipline wat vryheid bring, maar veral "meer lewensvreugde." Die appel op God se mag moet so deel word van 'n mens se stap oor jou huis se drumpel, dat 'n mens onveilig moet voel as jy selfs maar net 'n keertjie vergeet of te haastig is daarvoor.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.