Die Concertgebouw in die hart van Amsterdam se hoofsaal het van daardie stoeltjies wat ons jare gelede in die Alhambra in die Kaap gehad het: koningsrooi, kiertsregop opklapsitplekkies in sulke regop boksvormpies. Tot hulle verlede jaar gerestoreer is as nuwe stoeltjies, replika's van die oorspronklikes, was hulle maar sukkelrig en selfs wankelrig. Gisteraand sit ons weer op hierdie sitplekke, nou lekker gemaklik. Ons hoogs musikale gasvrou en binne-kenner van die Concertgebouw se ryke musikale tradisies en kultuur, koop elke jaar vir ons 'n reeks kaartjies vir die Robeco Zomer Concerten. Robeco borg die reeks waaraan voorste kunstenaars en orkeste deelneem. Vanaand pak die lekkerbek en uitsoekerige Hollanders in hulle massas die saal tjok en blok, van hoek tot kant, selfs tot op die verhoogstoele langs die imposante orrel agter die orkes. Die musiek is gewild, die orkes befaamd: Die Wit-Russiese Simfonieorkes gee 'n uitvoering van Beethoven se Trippelkonsert vir klavier, viool en tjello, Tchaikowsky se Kroningsmars en sy Pathetique Simfonie.
Die akoestiek van die saal is volmaak, die konsertgangers informeel en waarderend, die orkes groot en duidelik goed. In 'n plek met volmaakte ambience, gretige luisteraars begin die musiek skielik met 'n oorvloedige rykheid. Dit is boonop Tchaikowski se Kroningsmars met sy vol, sterk beginklanke. Jy kry mos soms so 'n gevoel, diep binne-in jou, hier stol die lewe tot 'n oomblik van waansinnige heerlikheid. Laat my tog net eendag met so 'n gevoel doodgaan.
Ek ken nie die Trippelkonsert nie en is dus afwagtend. Die dirigent is Lev Liakh met 'n ordentlike bos grys hare, duidelik 'n man van jare se status. Die drie soliste is jonk, maar al drie pryswenners van faam. Die konsert het Beethoven in 1807 gekomponeer en daarin kamermusiek-instrumente vir die eerste keer as solo-instrumente gebruik. My oog vang die program-nota oor die konsert: "Soms lijkt het wel een stuk kamermuziek, zo intiem gaan de drie instrumenten met elkaar om." Ek bekyk die reuse orkes en wonder wat hier wag.
Hier sit ons in ry 4, stoele 19 en 20, reg voor, skaars vyf meter van die drie soliste wat reg voor die massiewe orkes sit. Die pianis is die aantreklike Tatiana Maschmann wat as sewejarige in Minsk gedebuteer het en verskeie toekennings verwerf het, met net langs haar Leonard Elschenbroich, tjellospeler, wat al van die ouderdom van tien jaar musiek bestudeer. Sy C.V. is net so indrukwekkend soos hare. En langs hom sit Erik Shumann, violis, wat onder andere klas loop by die vermaarde Shlomo Mintz wat ons voorverlede jaar self in die Concertgebouw in 'n merkwaardige konsert kon hoor.
Hier waar ons so naby aan die drie sit, sien 'n mens uit hulle strak lywe met die buigslag aan die begin, dat die nerwe skaaf. Die postuur is styf, die kakebene bietjie klem-in-die-kakerig en die gesigsuitdrukking strak. Die konsert se eerste deel, die allegro, word deur Elschenbroich begin. Hy is seker nog nie dertig jaar oud nie, die saal is stampvol, die Concertgebouw is een van die mees gerekende konsertsale op die aardbol en die Hollanders het hulle skouer-kepies. Arme kind wat nou as te ware noot moet insit.
Met sy eerste note is hy nie meer in Amsterdam nie. Hy is waarskynlik ook nie op die verhoog nie. Hy is in die musiek. Ons wat voor sit, kan sien sy oë is meestal toe. Af en toe loer-kyk hy vir 'n oomblik na plekke wat net hy van weet, wat net hy kan sien. En as sy weergawe van die melodie klaar is, draai hy sy oë vluggies regs na die vioolspeler en gee dit vir hom met sy blik aan sodat die viool, fyner, skrynender daarmee kan voortborduur - gedurig met die tjello en klavier as terughoudende, grouer begeleier en ondersteuner. In 'n samespel gee die viool die melodie aan die klavier aan totdat dit weer beurt word vir die tjello om oor te neem, om te anker. Die strakke lywe is weg, die nerwe vergete. Die liggame beweeg in stil ritme. En al die tyd is Elschenbroich vasgehou in sy woonplek van klanke, sy mistieke bestaan, 'n intieme deelwees met klanke uit sy Matteo Goffriler tjello van 1693. Hy maak nie musiek nie, maar is musiek.
Die allegro, die vinnige, opwindende eerste deel is inderdaad soos kamermusiek, "zo intiem gaan de drie instrumenten met elkaar om." Maar as 'n mens soos 'n voyeur in die eerste deel gevoel het, was dit met die largo dat ek besef het hoe intens intimiteit werklik kan wees. Die draende klanke van die tjello, die helder stem van die vleuelklavier (Steinway) en die meesleurende, hartverskeurende spel op die Pietro Guarneri-viool uit 1710, brand diep klankprente in jou herinneringe en maak innige, verborge, passievolle liefde. As Elschenbroich in sy eie wereld van musiek ingetrek het om van daaruit elke keer die melodie te deel met die ander twee deur die draai van sy kop, gebeur daar met die Largo iets anders. Terwyl hy speel, elke noot bedink, die klank tegnies perfek vorm, kyk hy in hierdie gedeelte vir die eerste keer op, boontoe, asof hy met God 'n psalm praat en deur die liriese sweef van sy musiek laat weet: dit maak ek net vir U, dit gee ek aan U, dit pas by U.
Ek het gedink die Tchaikovsky Pathetique kan as bekende, gewilde musiek net 'n anti-klimaks wees na hierdie musiek. Maar die interessante program-nota's het my geboei. Pathetique is in die negentiende eeu gebruik vir sterk emosionele musiekwerke. Tchaikovsky se Pathetique is "een klinkend bewijs van zijn obsessie met het noodlot." Hy dirigeer op 29 Oktober 1893 die werk voordat hy nege dae later aan cholera sterf. Die programnota's sluit af dat die stuk as te ware sy afskeidsbrief was. "En dan vooral het slotdeel, Adagio, met sy neerwaartse zuigkracht, waarin alles wat nog een beetje leven wil, wordt verzwolgen als door een moeras."
Die konteks is inderdaad 'n hermeneutiese sleutel, al sou 'n fyn-luister van die musiek jou ook al 'n groot deel van die verhaal vertel. Die somberheid, die harde, koue doodsklanke wat soms in die stuk uitslaan, wil-wil 'n donkerte om jou hart vou. Dis die musiek van iemand wat worstel en stoei, wat vrees en wat angstig is. Dit is musiek wat vreemd ook van liefde praat en van seer kry sonder einde omdat dit 'n liefde is wat by al die drif daarvan, ook 'n lewensmoegheid aangewakker het. Dit is suiwer emosie wat iewers volmaak by die Beethoven konsert hoort.
Stil-stil huis toe gestap na die tyd met 'n vol binneste. Amsterdam beleef 'n hittegolf en almal is lomerig van die somerwarmte. Ek loop met my somerloom-hart in die groot gragte-stad - 'n tram ratel ingetoë verby ons, 'n fiets of twee met laataand-kaaslywe op hulle, zoem-zoem bedeesd die fietspad af, so asof hulle nie ons vrede en ons dobberende harte wil versteur en omkeer nie. Die somernag-stadsklanke koester die geboue, gaan rus op die gragwater, kom in my en snuffel 'n plekkie vir hulle uit langs die goue, klare konsertnote. 'n Deinende rustigheid oorval my. Ek is gelukkig. In my dra ek wêrelde van belewenisse, het ek anders geword deur die seisoene van emosies wat vanaand my deel geword het. Ek het skoonheid, pyn, pyn-in-skoonheid beleef - suiwer vertel in die liefdestaal van die hart.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.