Die nagmaal as sakrament is 'n daad van gehoorsaamheid aan Christus se versoek dat sy volgelinge gedurigdeur sy dood sou vier.
Elke keer as 'n mens die brood eet en die wyn drink, onthou 'n mens.
Want onthou kan 'n mens se lewe beslissend bepaal. Ons herinneringe bepaal ons gedrag.
Ons onthou hoe mense ons goed behandel het. Dit motiveer ons tot die goeie. Daarom doen ons graag goed. Daarom respekteer ons hulle wat goed was vir ons. Daarom is ons dankbaar teenoor hulle.
Ons onthou die onreg wat ons aangedoen is. Daarom wag ons ons kans af om weerwraak te neem. Of, as ons deur die Gees gelei word, help die herinneringe dat ons ander mense nie verontreg nie. Ons weet hoe seer dit kan maak. Ons herinneringe aan die slegte laat ons wegbly van dit wat seer maak.
Ons gedagtes stuur ons lewe.
Daarom wil ons nie in ons gedagtes negatief wees nie, want dit stuur ons na die negatiewe.
'n Mens ontdek hoe spesiaal die lewe is as jy al die goeie dinge in jou lewe in gedagte roep en vertroetel. Wie die goeie bedink, woon in die goeie en word deur die goeie besiel.
Jesus herinner ons daaraan dat ons gedurig sy dood in gedagte moet hou. Nie om te rou of sleg te voel of op die dood te fokus nie.
Onthou, sĂȘ hy, dat julle deur my dood bevry is. Dit is die goeie wat julle onthou. Julle is losgemaak van dinge wat julle gebind en geboei het. Die las van sonde word van julle skouer afgeneem.
Sy dood het vir ons vryheid gebring. 'n Mens kan lig, lig leef, vanuit God se genadige goedheid.
Vandaar dat 'n mens wat die nagmaal vier, dankbaar is. Die prys was hoog, ja. Daarom is dit 'n gedempte vreugde. Maar dit bly vreugde, want ons las was swaar en dit is uit pure liefde en genade van ons weggevat.
Wie die nagmaal vier, vier die bevryding. En wie die nagmaal vier, onthou dat die Gasheer by die tafel Jesus Christus is - die een wat Opgestaan het en dus vir ons van die dood se finale greep bevry het.