Friday, May 11, 2012

Om orent te bly, selfs in tye van verraad.




Paulus skryf in 2 Timoteus 4:10 oor Demas wat hom verlaat het en na Tessalonika vertrek het. Demas het “die teenswoordige wêreld liefgekry”, skryf Paulus.  Kolossense 4:10 vertel dat Demas ‘n medewerker van Paulus was. Saam het hulle die Evangelie verkondig.

Paulus het so pas in 2 Timoteus 4:9 geskryf oor die oorwinningskroon wat die Here eendag aan almal sal gee wat “met liefde verlang” na sy koms. Paulus is oud, gedaan, vervolg en moeg. Hy word as drankoffer uitgegiet.

Maar hy weet hy is deel van ‘n klomp mense wat liefdevol die koms van die Here afwag en intussen volhou om die stryd te stry en end-uit vol te hou (2 Tim.4:8-9).

En tog dink hy dit is nodig dat hy aan Timoteus skryf dat hy Demas mis. Demas het hom “verlaat”. Paulus beklemtoon dit: Demas is nie bloot weg nie. Hy het “my” verlaat. Paulus bly alleen agter. Hy is eintlik deur Demas in die steek gelaat.

Dit is nie die eerste keer dat Paulus in die steek gelaat word nie. In 2 Timoteus 1:15 skryf hy dat “almal” in die provinsie Asië hom in die steek gelaat het. Hy noem spesifiek Figelus en Hermogenes. Dit gaan nie altyd so goed met Paulus nie. En in 2 Timoteus 4:16 lees ‘n mens weer die jammerlike klag: toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie. Almal het my in die steek gelaat.

Teleurstellings, verraad, onbedagsaamheid, donker tye, die fase’s wat ‘n mens aan die stry moet bly, kenmerk die geloofsreis.

Sommige kan nie hierdie af-tye hanteer en kan nie hul toewyding volhou nie. Hulle “kry die teenswoordige wêreld lief”. Die liefde vir die Here en sy koms brand uit en is weg.

Op ‘n byna Psalm-agtige manier gaan Paulus oor om te skryf: “Maar die Her het my bygestaan en my krag gegee… Ek is uit die bek van die leeu geruk… Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring” (2 Tim.4:17-18).

In die hede en in die toekoms herken die geloof die teenwoordigheid van die Here. ‘n Mens kan praat van “geloofsvertroue”.  Wat ook al die verraad en die alleenheid, iewers kry ‘n mens die krag vandaan.

Dit klink mooi. Totdat ‘n mens die konteks van hierdie brief beter lees:  Paulus sit in die tronk. Hy is oud. Sy hofsaak het misluk. Mense naby aan hom maak hulle uit die voete, skaam en bang om met hom geassosieer te word. In die brief is daar nie ‘n teken dat hy dink hy gaan uit die tronk loskom nie. Al waarop hy kan hoop is dat Timoteus na hom sal kom wanneer hy die brief kry. En dat Timoteus vir hom ‘n mantel sal bring vir warmte en boeke om hom aan die gang te hou (2 Tim.4: 13).

In die omstandighede, roep hy, vol vertroue, uit dat die Here by hom is en hom krag gee.

Soms, wanneer ‘n mens die lang, lang pad met die Here geloop het en die Here gedurigdeur, elke keer weer van naby leer ken het as die Liefde, as die een wat Omgee, as die Een by jou, net by jou, is die tye van donker en verraad des te meer tye om te vertrou. Te goed weet ‘n mens dat die geloofsreis ‘n proses is met sy skadu-kante en sy seerkry-houe. ‘n Mens koop in in die hele pakket.

Soos die Een wat, ook alleen, ook verbrysel, aan die kruis gehang het en tog op die Vader bly wag het.





Blog Archive