Sunday, May 06, 2012

Al wat vir my oorbly is 'n treurlied.









Die Vroue-Monument in Bloemfontein is seker een van die mees aangrypende monumente in die wêreld. Dink net: toe dit beplan is, was daar heftige teenkanting omdat so 'n monument die Britse Ryk in verleentheid sou stel. Selfs Generaal Botha het gedink dat 'n monument waarin konsentrasie-kampe herdenk word, versoening in die land na die oorlog sou benadeel.

Die beeld van die vroue en die panele langsaan met die uitbeelding van die kinders en vroue, is eenvoudig, maar saam met die gedenknaald vorm dit 'n onvergeetlike geheel, onderstreep deur die sagte, roerende kleur van die sandsteen waarmee dit gemaak is.  


Daar is twee vroue in die middel: die een sit met 'n sterwende kind op haar skoot. Emily Hobhouse, wat in die Springfontein-Konsentrasiekamp so 'n toneel gesien het, het dit voorgestel as sentrale uitbeelding by die monument. Die ander vrou kyk hemelwaarts en vra biddend dat die sterwende kind deur God gesien sal word.

Die monument is geleë in een van die mees serene omgewings wat 'n mens vir so 'n monument kan wens. Die skilderagtige Vrystaatse toneel vorm 'n ideale konteks. Vir my vergelyk die monument in sy impak met die roerende monument vir gesneuwelde soldate van die Vietnam Oorlog in Washington, in die Verenigde State.

Ewe aangrypend is die rye gedenkstene wat langs die pad na die monument opgerig is. Hier onder is een so 'n voorbeeld: 










 In een enkele dorp, Aliwal-Noord, is 546 kinders jonger as 15 jaar in die oorlog dood. 'n Mens kry die indruk van die geweld van die oorlog teen die swakste van swakkes as 'n mens sien dat teenoor hierdie enorme getal, 166 mense ouer as 15 gesterf het.


Dit is die aanhaling van Job 30:31 wat 'n mens lank laat sit en dink. In die ellende van die oorlog se nawerking het mense vasgehou aan die Bybel. 


'n Lied van trane op die fluit. Lyding.



Blog Archive