Monday, September 20, 2010

Om onder 'n skuldbesef terug te steier. 'n Boeiende oomblik in die geskiedenis van 'n gereformeerde kerk....





Wanneer ‘n sondebesef ‘n mens oorval...

Ek kom op ‘n wonderlik interessante vertelling af. In Nijkerk, Nederland, was daar ‘n gereformeerde predikant, Gerardus Kuypers, wat op ‘n stadium ‘n merkwaardige preek gelewer het. Op 17 November 1749 preek hy in ‘n volgepakte kerk oor Psalm 72:16: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Libanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!” 

 Die gemeentelede, onder die indruk van ‘n diepe sondebesef,  raak bewend aan die huil.  Ander val op die grond neer. Naderhand is die gehuil so erg dat die jong dominee skaars gehoor kan word.

 Hy is nie baie ingenome met wat gebeur nie en probeer die mense tot kalmte te maan. Maar, sê hy ook later, dit moet God se werk wees, al sou hy graag wou gehad het dat dinge nie so oproerig moet verloop nie. En veel later het hy al hoe meer opgeroep tot kalmte en rus totdat die dienste met verloop van tyd al hoe rustiger verloop het. Al wat ‘n mens in latere tye kon hoor, skryf sy biograwe, was gemeentelede wat soms diep gesug het wanneer hulle intense ervarings beleef het.  

Stel jou voor: ‘n predikant in ‘n gereformeerde kerk in Nederland, 27 jaar oud, preek op ‘n Sondag-oggend. Sy woorde raak mense so aan die hart dat hulle ‘n intense bewussyn van hul eie gebrokenheid ervaar. So erg voel hulle hul eie geestelike dorheid aan dat dit hulle intens bewoë maak en dat dit hulle liggaamlik tot die vreemdste reaksies dryf.

 (‘n Eeu later sou Pinksterbidure in Suid-Afrika ook ‘n instelling word na ‘n ewe opsienbarende en rumoerige opwekkingsbeweging in die Paarl en Worcester).

In ‘n opvolggesprek met gemeentelede na sy beroemde preek het Kuypers in meer besonderhede op sy preek ingegaan.Die gevolge was onvoorstelbaar. ‘n “Herlewing” breek onder die gemeente uit. Maar ook op sosiale vlak is die gevolge opsienbarend, soos dat mense se godsdienstige toewyding vir hulle uit kroeë en dobbelsale wegneem na byeenkomste vir Bybelstudie. Op sekere Sondae sit daar maklik 2500 mense in die eredienste. Biograwe vertel dat daar in die tyd ‘n besondere verlange na Bybelstudie was.

Eintlik is hierdie gebeure moeilik te verklaar. Dit is nie asof dinge “reg” was vir so ‘n oplewing nie. Dit was wel moeilike tye in Nijkerk en in Nederland. Daar was byvoorbeerld in hierdie tyd ‘n groot vrekte onder vee. Terselfdertyd het die tabakbedryf heeltemal ineengestort. Tog was daar selfs in die moeilike tyd nie veel van ‘n geestelike verdieping in mense se lewens nie. Dit was maar die normale porsie van godsdienstigheid en kerkgang wat aan die orde van die dag was.

Tot op daardie dag dat die jong dominee in April 1749 sy preek gelewer het.

Mense uit omringende gebiede stroom mettertyd na Kuypers se dienste. In sy soeke om die opwekking te bevorder, begin hy ook om lekepredikers te gebruik wat in mense se huise byeenkomste hou. Dit gee aan die beweging ‘n verdere stimulus. Mettertyd het buur-gemeentes dieselfde ervaringe as in die gemeente van Nijkerk. Dit brei so erg uit, dat die hele land naderhand in oproer raak. Voor- en teenstanders van die bewegings gryp mekaar in hewige debat.  (Angus Buchan – niks is nuut onder die son nie!)

Soms is die teenkanting heftig. Sommige is briesend oor die oproer en praat daarvan as “duiwelswerk.” Dominee Kuypers word uiteindelik aangevat deur sy vroeëre Professor van die Leidse Universiteit waar hy in teologie gestudeer het. Prof. van den Honert, iemand wat in daardie tyd invloedryk was, beskuldig die gereformeerde predikant en vroeëre student van hom van “mistieke raserny.”

Kuypers was nie ‘n onderdanige slagoffer van die Professor se sterk woorde nie. Hy het teenoor die professor sy sê gesê. Trouens, uit die gesprek tussen die twee, skryf Jelsma, het tien boeke die lig gesien. Vele ander het aan die debat deelneem. Die storie was so groot, selfs buite Nederland, dat van die geskrifte in Duits, Engels en Frans vertaal is! (Sien verder hieronder).

Die kerk het uiteindelik ook uitspraak gelewer, want die temperatuur was hoog aangejaag. In 1751 praat die sinode afkeurend van nie-teoloë wat buite kerkdienste om vir mense in hul huise tot sulke “wilde” ervaringe aanspoor.  Op die ou end het selfs die koning ‘n woordjie te sê gehad. En na ‘n jaar of twee, ook met die ingrype van Ds. Kuypers self om die rus te herstel, was daar nie veel te bemerk van die opsienbarende herlewing nie.  

Op dié manier het oproer die kerk in Nederland vir ‘n paar jaar besig gehou. En toe was alles oor.

Ek is geïnteresseerd in Jelsma se verklaring vir die opwekkingsbeweging: wat in Nijkerk gebeur het, was die gevolg van die geestelike situasie in die kerk. Maar, voeg hy by, dit het ook te doen met die situasie in die teologie. Dit was tye van dorheid. Dit was van daardie tye wat nie net mense nie, maar gemeenskappe in hul geestelike reis verstol het.

Meer nog, besef ek toe ek bietjie nalees oor hiedie tyd: wat in Nederland gebeur het, kan ‘n mens nie losmaak van die situasie in die res van Europa en Amerika nie. In Engeland was dit die tyd toe Wesley en die Metodisme, asook Whitefield sterk opgang gemaak het. In Amerika, nota bene, was daar die geestelike oplewing onder leiding van Jonathan Edwards (sien ‘n vorige blog).

Die jong Ds. Kuypers het geweet van hierdie bewegings. Sy preek het dus nie sommer uit die lug geval nie. Trouens, merkwaardig is dat Jonathan Edwards verneem het van die gebeure en Kuypers uitgenooi het om deel te word van ‘n groep kerkleiers wat gereeld bymekaar gekom het om te bid en te vas.  

Dit was dus bewegings waarin die bestaande kerklike strukture getoets is. Lidmate het in die bestaande bediening nie gevind waarna hulle geestelik verlang het nie. En ‘n mens kan die Gees op allerhande maniere in sekere plekke blus. Maar die Gees waai waar die Gees wil...

Jelsma praat van ‘n emansipasie-beweging. Mense, luisterend na die woordverkondiging, op ‘n Sondag in die kerk, word in hul geestelike ervaring bevry van die dorre kerklike greep op hul lewe. Dat hulle so intens daarop reageer, sê minder van ‘n mistieke raserny as wat dit veelseggend is oor die kerklike situasie. As die kerk dan nie lei nie, sal die lidmate dit soek...
Wat in Nijerk gebeur het, vertel dus eintlik van ‘n breër beweging.

Ook Ds. Kuypers se preek was nie ‘n blote gelukskootjie nie. Hy, met sy goeie teologiese opleiding, was ‘n ywerige Bybelleser. Sy biograwe vertel hoe hy as student en as jong predikant ure lank Bybelstudie gedoen het – en steeds weer aangevoel het dat die Bybel roep om ‘n ander geestelike lewe as die lewe wat hy in die kerk om hom raakgesien het. In sy eerste gemeente in Amsterdam was daar lank voor die preek in April 1749 in Nijkerk ook ‘n herlewing in die kleine.  

Terwyl ek meer en meer lees oor hierdie interessante en opsienbarende stuk geskiedenis, tref iets my keer op keer. Kommentators vertel almal op ‘n manier eintlik dieselfde storie: die mense wat so hoogs emosioneel op Kuypers se preek gereageer het, het keer op keer vertel hoe hulle deur die woordverkondiging tot ‘n intense sondebesef gekom het.

Mense weet dit: daar kom tye in die lewe van ‘n kerk en van ‘n mens dat dit tot ‘n mens deurdring wie hy of sy werklik is.  Wat jy in jouself raaksien, is nie mooi nie. Trouens, die diepte van die kwaad wat jy skielik in jouself opmerk, is nie te verduur nie.

Dit het met die tollenaar gebeur. En Paulus het ook op die grond neergeslaan.

So ‘n oomblik is ‘n seker teken dat God se heilige aanraking skroeiend in die donker hart van die soekende mens ingebrand het. 

En, so vir 'n laaste gedagte: in ons tyd, hoor ons so dikwels, preek ons nie graag oor sonde nie.  Dis te negatief en afbrekend.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive