Thursday, September 16, 2010

Tande poets en baarde skeer om die draai van die kapelletjie. Waar God ons ontmoet.

Woorde soos die Daaglikse Offisie (Daily Office), Getydeboek en Brevier sê in ‘n Protestantse konteks nie veel nie. Ek loop hulle raak in my leeswerk oor spiritualiteit. Maar ek ken net die Engelse terminologie. Vandag spoor ek die Afrikaanse ekwivalent in Hiemstra op. Hulle lê swaar op my tong en hulle sukkel om lê-plek in my Protestantse brein te kry.

In die Rooms-Katolieke tradisie is die Offisie in die hart van die geestelike lewe. Dit is die gereelde gebedspraktyk op sekere tye van die dag en nag.

Eintlik, besef ek, toe ek oor hierdie patroon van ‘n geordende gebedslewe dink, stel dit ‘n mens voor die vraag: Kan ‘n mens genoeg wortelskiet in ‘n lewe van gebed?  Ek lees juis iewers dat iemand opmerk dat die Daaglikse Offisie ‘n gevolg is van Paulus se oproep om te bid sonder ophou (1 Thess.5). Is ons Bybels genoeg in ons geleefde geloof, in die tyd wat ons alleen en saam in gebed voor God bly?

Die Offisie het nie net ‘n baie lang geskiedenis nie. Dit is ‘n baie ou tradisie met wortels in die vroeë kerk en in die Joodse geloofslewe. Trouens, ‘n mens sou kon sê dat dit een van die oudste gebruike in die kerk van alle tye is. In die Bybel word reeds in Handelinge 2:15; 10:9; 3:1 van die gereelde gebedstye gepraat. In die vroeë kerkvader, Hippolytus se Apostoliese Tradisie word die tye uitgespel waarop mense as ‘n groep vir gebed bymekaar gekom het: in die oggend, dan weer teen die derde, sesde en negende uur, in die middag, met slaaptyd en ook in die middel van die nag.(Dink net aan hoe getrou Moslems by hul gebedstye hou).

Ja, in die middel van die nag het die monnike opgestaan. In die film, Into Great Silence en in ‘n DVD oor Thomas Merton word sulke gebedstye gewys.

Ons ken nie so iets in die Protestantisme nie. Nie dat gebed onbelangrik is nie. Trouens, gebed is seker ‘n peiler van die protestantisme. Ons het immers ons stiltetyd – soggens en saans. Ons het ons gebede voor en na die ete. Ons het nog so bietjie by sommige huisgodsdiens. Gebed speel ook in die Protestantse liturgie ‘n groot rol. Of, miskien moet ‘n mens sê: het ‘n groot rol gespeel en is veronderstel om belangrik te wees.

Maar ons ken nie hierdie reëlmatige patroon van gebedstye op die tradisionele tye nie.

Daar was in die loop van die geskiedenis verskillende vorme van die Daaglikse Offisie. Individue het by die gebedstye gehou omdat hulle ervaar het dat dit hul geestelike lewe gevorm het. Daarnaas het mense graag ook in groepe by die tye gehou. Dit was vir hulle ‘n tyd vir lofprysing en gebed. Deur hierdie vaste tye is hul ondersteun in hul konfrontasie met die eise van hul daaglikse bestaan. Nog later sou in sekere ander kontekste hierdie gewoonte ook in die lewe van die vroegste monnike en in kloosters ‘n groot rol speel. Hulle het ook die tye gehou en byvoorbeeld dan die psalms die een na die ander opgesê of gesing.

Met verloop van tyd was daar veral twee groot tradisies: daar was die meer kerklike byeenkomste veral in die oggend en die aand. Dit het die viering van die sakrament ingesluit. Dit was gewild by die groot kerklike publiek. Dan was daar die ander byeenkomste: Die monastieke groepe in kloosters het naas hierdie twee byeenkomste ook die derde, sesde en negende gebedsure en die aandgebed beoefen het.

Dat ‘n mens nie te romanties oor die Daaglikse Offisie moet dink nie, leer ons ook uit die geskiedenis. Met verloop van tyd is langer byeenkomste afgeskaal. Mense het nie altyd so ywerig daaraan deelgeneem nie. Daar was sekerlik ook vervlakking en veruiterliking aan die gebeur. Daar is byvoorbeeld ‘n verkorte weergawe vir sulke geleenthede opgestel wat bekend was as die “Brevier” (letterlike: korter).  ‘n Ander ontwikkeling het duidelik na vore gekom toe gewone gelowiges die Daaglikse Offisie al hoe meer oorgelaat het aan priesters en monnike. Waar gewone mense tog wel die gebruike behou het, het hulle al hoe meer passief geraak. Hulle deelname was dus minder gereeld en minder aktief. In moderne tye speel die Daaglikse Offisie slegs in ‘n paar kerke nog ‘n beduidende rol.

Dinge is egter, interessant genoeg, besig om te verander. En dit is heel ironies hoe dit gebeur.  In ‘n sekere sin is die Daaglikse Offisie besig om ‘n belangrike faktor in moderne spiritualiteit te word. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die bekende en gewilde Taize. In die hart van sekulêre Frankryk waar kerke leeg staan of toemaak, bloei die ou gebruik weer ryk uit. Die plek is deur Vader Roger, ‘n Protestant begin as ‘n plek vir afsondering in Frankryk. Somertye kom duisende jongmense vanuit die hele Europa daar bymekaar vir ‘n tyd van gebed en afsondering. Liedere wat tydens die eredienste in Taize gesing word, het hul pad na ons liedboek gevind. Sang, ook van die Psalms, word uitvoerig gebruik in kombinasie met die Daaglikse Offisie.

In sekulêre Europa!

Dit boei my om meer as een rede. My ervaring is dat ons nie besef hoe ryk en hoe omvattend spiritualiteit besig is om ons geestelike reis te transformeer nie. In die Westerse tradisie, ook hier in Suid-Afrika, verbind ons spiritualiteit tereg met innerlike belewing en tot die lees van tekste soos die Psalms. Dit gaan hier om ‘n belewing van ons geloof aan die hand van die Skrif. Maar Spiritualiteit is baie meer. Dit, het ek ook van Waaijman op ‘n indirekte manier geleer, resoneer byvoorbeeld met al ons sintuie. Ons wêreld om ons gryp op baie maniere na ons. Op groot skaal word ons deur ons hoor, sien, voel, smaak en reuk aangespreek.

Dit is opvallend hoe ons in ons godsdienstige ervaring ook hierna verlang. Ons hele mens-wees word ingetrek in ons aanbiddingstye. Die Daaglikse Offisie was juis ‘n oefening van gebed wat ook die hele mens betrek het. In die tradisie van die Daaglikse Offisie was die houding van die biddende persoon, die gebare, die inrigting van die plek waar gebid word, musiek en gemeenskaplikheid belangrik. Dink maar aan die rol van wierook, kerse, liturgiese drag, sakramente, liturgies prosessies, orrelmusiek, sang in eredienste oor eeue heen.

Ek onthou hoe ek in Areuse in Neuchatel in Switzerland, ‘n sustergemeenskap van Taize, gedeel het in vyf byeenkomste elke dag in navolging van die Daaglikse Offisie. Ons het in die laat-herfs in ‘n pragtige kapel saam met die ekumeniese gemeenskap van susters elke paar uur byeen gekom. Hulle het aangrypende musiek gehad. Meestal a capella, maar in verskeie tale. Almal, afkomstig uit verskillende wêrelddele, moes met die diens kon meeleef. Daar was uitvoerige plek vir stil gebed, vir gemeenskaplike gebed en vir gesonge gebed (ook van die Psalms). Rublev se Ikoon van die triniteit was ‘n visuele versiering wat ‘n mens se gedagtes op God in volheid gerig het. Die viering van die nagmaal het ook ‘n mens se voel- en smaaksintuie betrek. Die hele persoon was betrokke in ‘n stil plek van aanbidding waarin God sentraal gestaan het.  

Ons brein, so sentraal in ons nou dikwels afgeleefde godsdienstige bedryf, ontdek ons met ‘n passie, was toe nie die Alfa en Omega wat ons gedink het nie.

En tog, vir my is daar ‘n belangrike perspektief: In die Daaglikse Offisie en in die appel op ons hele bestaan daarin, skryf Guiver heel tereg, is die punt nie soseer die liturgie nie, maar die teenwoordigheid van die lewende Christus.

Die Daaglikse Offisie self is nie die beslissende nie. Wat belangrik is, is hoe ‘n patroon van gestruktureerde omgang met God in ‘n mens se daaglikse bestaan ingebou kan word. En hoe hierdie patroon ons in ons hele mens-wees in God se teenwoordigheid bring.

Taize wys vir ons hoe mense smag daarna.

Om elke paar uur alleen en saam met ander hart en siel en liggaam by God te wees. Ons begeer dit.

Hoe sal ons dan vandag nuwe vorme kry om hierdie innerlike behoefte te vervul? Kan ons, in ons besige program? Vyf maal per dag, op die klok af, tyd afsonder om in gebed by God te wees?

Ek onthou hoe, tydens een van ons Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap se byeenkomste ek in die koshuis waar ons gebly het, een oggend op pad was badkamer toe. Die vorige dag het ek daar ‘n klein kapelletjie gesien, maar dit was ongebruik. Toe ek, toevaling, deur die venster kyk, sien ek twee van ons kollegas daar. Net twee. Maar hulle was besig met die oggendbyeenkoms van die Daaglikse Offisie. Net hulle twee.  Die een was katoliek en die ander een ‘n Anglikaan.

Vir hulle was dit belangrik om, selfs al is hulle nie tuis nie, in ‘n kapelletjie, te lees, te bid, te sing, te vier en te smaak. Net hulle twee.


Die res van ons Protestante, by die kongres om gretig die Bybel vanuit die nuutste insigte van die diskoersanalise te lees, was op daardie stadium besig om ons tande te poets en ons baarde te skeer.... 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive