Die mistici praat soms oor die vraag: Hoe verduidelik ‘n mens liefde? Hoe begryp ‘n mens dit? Wat is die liefde?
Probeer dit maar netjies formuleer en kyk wat gebeur.
In beelde praat ons eerder oor die liefde, gebore nie in staat om dit netjies op te som nie.
Liefde is soos die plek wat jy “huis” noem. Dit is die plek waar ons woon, jong tyd, toe ons ons eerste herinneringe opgedoen het. Die groot, stokou, moerbeiboom waar ons, lente-tyd, die dik, swart moerbeie gepluk en geëet het dat ons soos bok-ooitjies met opgesweld pense rondgeloop het, ons klere tot ma se humeur pers bevlek is en ons monde en kenne en wange met koninklike donker-rooi baarde en snorre gemerk is.
Dit was maar net ‘n vrugteboom, soos baie ander. Maar as jy aan hom dink, as jy hom, beeldryk, in jou gedagtes weer sien en beklim, hoor jy weer, selfs verlangend, die uitbundige roep van jou maat om te kom kyk na die boelie van ‘n moerbei wat hy gekry het; onhou jy die amptelike bende-vergaderings in die boomhuisie bo in die boomtop om ‘n oorlog tot die dood toe met die vyand oorkant die draad in die Engelse bure se erf te beplan; huil jy weer kwaad-kwaad en met lang onderlip die spul sout-trane wanneer die maats se ma’s hulle voortydig kom haal; en, later, die pluk van die moerbei-blare vir die sy-hartjies wat die sywurms moet spin, wat jy dan in die skool vir jou liefde vir haar Bybel gaan gee. Liefde is hierdie tye, somertye, son-tye toe jy geruik het hoe prut die potte vol moerbeie op die Aga-stoof in hul dik swart soetstroop voordat hulle, gebottel en met etiketjies beskryf, spensrak toe is, reg vir die na-moerbei tyd, vir die soettand-oomblikke as Tiekie, groot, moederlike Tiekie, haar potbrode soggens voor skool onder geurige warm-broodwalms uit die oond trek sodat honger handjies kwistige porsies kan opsmeer en opeet en nog ook inpak vir pouse se lekker-smul by die skool.
Jy weet dit nie dan bewustelik nie. Maar dit, ervaar jy later, in beelde, uit jou eie ervaring, self beleef, was tye dat jy in die liefde was en, besef jy, maak dit jou nog steeds aan die liefde vashou.
Liefde, onthou ons nog in ons verbeelding op ‘n ander manier, is in die sitkamer waar ons winter-aande voor die kaggelvuur gesit het, almal saam, met ons vriende – rondom ‘n pak kaarte – kleintyd se Snap, of ‘n spookstorie-aand, veral as die wind om die hoeke skimagtig fluit of angs-aanjaend aan die groot vensterglas ruk en rittel. Die voordeurklokkie wat lui en nog lui soos meer vriende en familie en maats bykom om te smul aan die pannekoek, gebak en gedraai en aangedra en weer gebak en gedraai en aangedra terwyl die kaneelreuk wat uit die kombuis uit gang af gewalm het en tot die volgende oggend nog bly hang in die huis, simbool word, beelde bied van nabyheid, bymekaar-wees, gehegtheid – van die liefde.
Liefde herken ‘n mens nog in die stoel in Oupa se studeerkamer waarop hy besig gesit en werk het. En as seuntjie voor slaaptyd by hom gaan staan het om nagdrukkies te gee, het Oupa summier sy boeke met sy linkerhand weggeskuif, hom lig-lig met sy regterhand en ‘n kreun van geselligheid oor die hoë arm-leuning van sy studeerkamer-stoel opgetel en vir ‘n wyle op sy skoot laat sit. Dan het Oupa weer sy ritueel voltrek om sy boonste, linker-laai stadig oop te maak en ‘n Wilson-toffie daar uit te haal, of ‘n stukkie biltong, of ‘n stukkie drop, of ‘n XXX-mint en dit in sy gretige klein seuntjie-hand te stop, “maar”, gemaak kameraderig, been-trekkerig in sy oor gefluister, “moenie dat jou ma sien nie, hoor.” Of in sy diep Oupa-stem het hy vir hom sommer net vasgedruk of ‘n storie vertel of, vir hom, die stamvader, sy goue sakhorlosie gewys en plegtig ingelig dat daardie die erfstuk is wat deur die stamvaders van geslag tot geslag oorgedra moet word aan elke oudste seun wat die familie-naam dra. En as seuntjie baie later jare die stoel wat in sy grootmens-huis staan, bekyk, vir ander net nog ‘n stoel in ‘n kamer in ‘n huis, is die arm-leuning dalk nie meer so hoog soos in die kleintyd nie, is die leer-bekleedsel sonder sy ou-ou reuk van Oupa se Boxer-twak pyp dalk bietjie anders, vreemder, selfs verlate. Maar die stoel bly iewers in sy gemoed ‘n beeld, ‘n simbool wat vertel van die liefde wat nie in woorde vas te vat is nie, wat nie te verduidelik is nie. Geen definisie van die liefde, geen lange referaat vol diepsinnige analise kan uitpluis wat ‘n knaap op Oupa se skoot, kleintyd, kleutertyd, die tyd van min verstaan aan liefde ontvang, ontvang en gekry het nie en wat hom lewenslank in die liefde ingewy en geanker het nie.
Lyk liefde só in die mens se aardse bestaan, geld dit ook en nog meer van die liefde tot God. Die liefde is mistiek. Dit is die Verborgene. ‘n Mens moet gaan mymer daaroor sonder dat jy iewers dit sal wil en sal kan verduidelik. Die liefde wat lewe gee is so verborge, jy kan dit maklik miskyk en daarvan wegleef. Maar as jy die gordyn waar agter dit skuil, met jou mymeringe wegtrek, is dit daar om duideik herken te word. Jy weet instinktief wat dit is.
Die liefde is nie die resultaat van ‘n literêre oefening nie, skryf Underhill terwyl sy nadink oor die mistieke liefdesteks van Gertrude More (“O Liefde, Liefde, net deur jou naam te noem,, verloor my siel homself in jou”!). Die liefde, voel ‘n mens aan, ervaar die beminde, is die vrug van ‘n intense belewenis, van ‘n naby verhouding waarin ‘n mens opgeneem is, van die Ander wat by ons inwoon en by ons wil wees. In God se plek, in die ruimte waar die Verborgene woon, is ons tuis in die Liefde. Die feesmaal is opgedis: bakke vol moerbeie, stapels en stapels pannekoeke, bokse vol Wilson-toffies, meubels, huise, vriende en Aga-stowe vertel die verhaal van die oorvloedige liefde. Niks skoolmeesteragtige, wetgeleerde, opgedisde lessies aan ons, ons wat die Liefde so maklik verloor, die Verlorenes, oor hoe ons die liefde moet verstaan of moet waardeer of moet verdien nie. Dit word vrylik uitgedeel. Die een wat liefde is kom daarmee aangehardloop waneer Hy van ver af sien hoe ons verlang om terug te kom in die tuiste van die Liefde. Meer nog – om omarm te word deur die Een wat die Liefde gee. Want, God, die Vader, so word dit in ons ingebeeld, kruis en dwars, kán dit gee, omdat God, die Een bo alle verstand, die Liefde is wat alle verstand te bowe gaan.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.