Saturday, September 18, 2010

John Henry Newman se mistieke geloofsreis.




John Henry Newman.

Sondag word Kardinaal John Henry Newman salig verklaar. Die pous, op besoek in Engeland, bring daarmee op ‘n unieke, maar ook ironiese manier hierdie man se lewe in perspektief.

Newman (1801-1890) se familie  vertel al iets van hoe uniek die geskiedenis van hierdie bekende Katoliek in Engeland geloop het. Van Franse afkoms in ‘n gesin met ses kinders en met ‘n ma wat ‘n Hugenoot was, het hy van kindsbeen ‘n gematigde Calvinistiese opvoeding gehad. Hy is as jongmens diep deur Calvyn se teologiese oortuigings beïnvloed. Net so interessant is dat hy later in sy lewe ‘n groot rol in die bekende Oxford-herlewingsbeweging gespeel het. Origens was hy ‘n hoogs begaafde skrywer wat vir intellektuele mense met sy treffende skryfstyl, sy estetiese aanvoeling, sy logiese diepte en sy kennis van die klassieke aangespreek het. Hoewel hy nie ‘n lewendige, boeiende prediker was nie, het mense graag na hom geluister omdat hy so ernstig en toegewyd was in wat hy te preke had.

Vir my boei dit om te lees oor twee beslissende mistieke ervarings in sy lewe. Toe hy 15 jaar oud was, het hy vir die eerste keer ‘n spesiale belewenis gehad. Maar wat so opvallend is, is die fokus daarvan: vir hom het hierdie jeug-ervaring gebring tot ‘n gevoel van diepe oortuiging dat God die sentrum van sy lewe was. Vandaar dat hy sy lewe gedurig onder die woord, “Ek en my Skepper” benader en opgesom het. En tog, later sou hy sê dat die ervaring hom nog te veel van ‘n individualis laat bly het.

Nietemin het sy verdieping in sy geestelike lewe hom gebring om teologie aan die beroemde Trinity College in Oxford te gaan studeer. Op 23 jaar word hy as Anglikaanse priester gewy, hoewel hy oorspronklik ‘n loopbaan in die regsberoep beplan het.

Newman het uitgestyg as ‘n begaafde, ernstige, maar ook toegewyde student en mens. Nietemin het sy lewe ook stormagtige tye geken. In Oxford loop dinge al vir hom skeef nadat hy op 25 jarige leeftyd as lektor in Oriel College in Oxford aangestel word. Hy het geglo dat ‘n mens as dosent ook ‘n pastorale verantwoordelikheid teenoor jou studente gehad het.  Sy hoof, daarenteen, was oortuig dat ‘n dosent se verhouding met sy studente slegs akademies moet wees. Hy het dus Newman se studente afgesny. In 1832 bedank hy noodgedwonge dus uit Trinity. Hy bly aan in Oxford, waar hy in ander posisies baie studente trek en groot invloed uitoefen, onder andere as prediker in die bekende Sint Maria kerk.

Maar hy beleef ‘n tweede mistieke ervaring tydens ‘n verblyf in Italië. Hy was toe 31 jaar oud. Hy was vir ‘n jaar of twee op reis. Tydens die reis het hy siek geword en intense emosies ervaar. Op ‘n stadium tydens sy terugreis na Engeland, het hy kalmte gevind en die woorde van die beroemde lied geskryf waarvan die eerste verse as volg lui:

Lead, Kindly Light, amidst th'encircling gloom,
Lead Thou me on!
The night is dark, and I am far from home,
Lead Thou me on!
Keep Thou my feet; I do not ask to see
The distant scene; one step enough for me.

Ons ken die lied, oorspronklik geskryf deur een van die groot Katolieke denkers in die Engelse tradisie, in ons gereformeerde sangbundel as  “Lei, Vriendlik Lig... “

Hierdie ervaring, sou hy later skryf, het van hom minder van ‘n individualis gemaak en meer op ander ingestel.

Heel opsienbarend was sy oorgang op 9 Oktober 1845 na die Rooms-Katolisisme, wat gevolg het op twee jaar se studie oor sy Anglikaanse identiteit en geskiedenis. Hy verloor as gevolg daarvan sy posisie in Oxford. Hy, wat op ‘n stadium in sy prille jeug gedink het die pous is die Antichris,  word in 1847 as priester gewy en rig toe die bekende Oratorium in Birmingham op (sien ook vorige blog). Vir dekades daarna sou Newman nog moes rekening hou met vroeëre Protestantse kollegas en vriende wat hom verwyt het en latere Rooms-Katolieke vriende en kollegas wat hom nie vertrou het nie.

Hierna volg ‘n lewe vol uiterstes van prestasie en ontnugtering. Nadat hy in 1851 rektor word van die Katolieke Universiteit in Dublin, bedank hy vyf jaar later uit die amp weens allerhande probleme.

Hy bly egter aan die werk in die teologie. Sy diepsinning en deurdagte skryfwerk het van hom ‘n invloedryke figuur gemaak. Hy word in 1879, op die ouderdom van 78 jaar deur die pous tot kardinaal verhef. Maar tot sy dood sou omstredenheid hom bly volg. Hy is op ‘n stadium selfs na Rome ontbied om tereg te staan vir ‘n verhoor oor kettery.  

Sy mistieke ingesteldheid kom op allerhande eenvoudige maniere na vore. Sy boeke skryf hy, het hy gesê, op sy knieë voor die aangesig van God. Vir hom staan God se genade sentraal. Die mens moet gereed wees dat God hierdie genade in sy of haar lewe tot vrug laat kom. Daarom is daar by hom aan die een kant ‘n sterk fokus op God en Christus. God as skepper ontmoet die mens in liefde en geregtigheid. Hierdie ervaring werk in ‘n mens se gewete in, sodat dit deel word van jou innerlike bestaan. God leer ken ons ook in Christus en die Gees deurdat die Gees die mens reinig en met God verenig. Al hoe meer groei die mens in die mistieke lewe. Die beeld van God word al meer op die mens afgestempel. Aangrypend skryf hy dat ‘n mens met God, die Onsigbare en die Onbegryplike, tog dan in ‘n vriendskapsverhouding leef.

Ek lees hierdie troebel geskiedenis van hierdie bekende man. Die geloofsreis kan soms wilde draaie neem, besef ek.

Miskien juis daarom kon Newman die volgende gebed skryf wat deur Moeder Teresa een van haar gunsteling gebede genoem is:

Dear Jesus,
help me to spread Your fragrance
everywhere I go.
Flood my soul with Your Spirit and Life.
Penetrate and possess my whole being
so utterly that my life may only be
a radiance of Yours.
Shine through me and be so in me
that every soul I come in contact with
may feel Your presence in my soul.
Let them look up,
and see no longer me, but only Jesus!
Stay with me and then I will begin
to shine as You shine,
so as to shine as to be a light to others.
The light, o Jesus, will be all from You;
none of it will be mine.
It will be You, shining on others through me.
Let me thus praise You
in the way You love best,
by shining on those around me.
Let me preach You without preaching,
not by words but by example,
by the catching force,
the sympathetic influence of what I do,
the evident fullness of the love
my heart bears for You. Amen.

Hier is my vertaling daarvan:

Jesus, laat U liefde
my aanspoor om oraloor
U lieflike geur te versprei.
Deurstroom my met U Gees en U Lewe.
Deurtrek alles in my, besit my totaal,
sodat my lewe geheel en al
‘n uitstraling van U, van U alleen, kan wees.
Skyn deur my en wees so in my
dat elkeen op my lewensreis
U in my sal raaksien.

Laat hulle kyk en nie vir my nie,
maar alleen vir U, Jesus, sien.
Bly U met my, want dan sal ek begin
skyn soos U skyn,
sal ek ook 'n lig vir ander wees.

Die lig, o Jesus, sal egter van U alleen kom;
niks daarvan is van my nie.
Dit sal U lig wees,
U sal skyn op ander deur my.

Laat ek dus vir U loof
soos U dit die graagste wil hê
deur op ander om my te skyn.

Laat my van U preek sonder om te preek –
nie deur woorde nie, maar deur my lewe,
deur krag wat meevoer,
deur ontferming waarmee ek gee,
deur die onmiskenbare volheid van die liefde
wat my hart vir U vul.
Amen.


Dis mistieke taal hierdie – die self wat op die agtergrond verdwyn in die lig van die helder, voldoende, volmaakte Lig wat vanuit die Verborgene op ons skyn en in ons kom woon.

As Newman salig benoem word, sou die rede daarvoor seker moet wees omdat hy so volledig ervaar het wie die enigste Lig van die wêreld is. Ek sou dink, as ek hierdie gebed van hom lees, dat hy sou wou sien dat gelowiges hom as salig sou beskou omdat hy so intens in die teenwoordigheid van die Salige wou geleef het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive