Een van Thomas Merton se bekendste uitsprake word dikwels aangehaal as:
“Net om stilweg in die teenwoordigheid van God te bly, na God te luister, op God te wag, vra ‘n klomp moed en vaardigheid.”
Hierdie aanhaling sou ‘n mens op baie maniere kom verstaan.
Maar miskien het dit veral te doen met die uitdaging om te “luister.”
Ons praat graag, maklik, aanmekaar, oor alles en nog wat. Ons dink net so vinnig. Ons gedagtes loop dikwels onbeheersd deur ons gemoed. Dit is nie maklik om op een gedagte te fokus nie en om ons woorde te tel nie. Dit is ‘n uitdaging om te dink voor ons praat: is dit wat ons sê tot iemand se voordeel? Bou dit op of breek dit af? Is dit nodig om te sê wat ons so maklik kwyt raak?
Meer nog: lank voor ons dink en sê, moet ons luister. Ons moet ons ons oor draai na die ander een. Ons moet vir daardie persoon aandag gee. Ons moet dus stil bly. Iets in ons moet op die agtergrond raak. En as ons dan oop maak vir die ander persoon, moet ons haar of hom kans gee om te praat. Dan moet ons nie sy of haar woorde aanpas by wat ons wil sê of doen nie.
Maar ons moet regtig hoor wat hy of sy vir ons sê. En as die persoon praat, kan dit ons voor ‘n dilemma plaas en ons uitdaag.
Ons moet onsself verloor en die ander een vind.
Ons moet op die agtergrond verdwyn en die teenwoordigheid van die ander een moet op die voorgrond raak.
Dit lyk al klaar nie so maklik nie. Nog moeiliker is dit om na God te luister: om te hoor wat God sê en wil. Dit is al ‘n ding om jouself te vergeet, om gereed te maak om na God te luister. Maar hier kom nog iets by: wie na God luister, hoor dalk wat hy of sy nie graag wil hoor nie.
God het ‘n manier om ons na plekke te stuur waar ons nie wil wees nie.
En dan moet ons luisterend gehoorsaam.
Nouwen is reg: ““Net om stilweg in die teenwoordigheid van God te bly, na God te luister, op God te wag, vra ‘n klomp moed en vaardigheid.”
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.