Saans oor die televisie verskyn daar tydens die nuusbulletin die een stuk informasie na die ander op die skerm. ‘n Mens sien die weerberig se inligting oor sonskyn in Durban of jy lees hoeveel die randwaarde van die dollar is of jy kyk na die beweging van die aandele-mark. Deur al hierdie inligting word daar vir jou insig gegee in werklikhede. Jy neem kennis daarvan. Jy hoor dit. Dit laat jou miskien die volgende dag ‘n oproep maak om ‘n aandeel te verkoop of ‘n uitstappie te kanselleer, maar vir die res neem jy kennis.
Hier gebeur wat ons almal so bietjie weet: taal verwys na dinge. Dan het ons taal aan die een kant en die werklikheid aan die ander kant.
Mistieke taal praat nie só oor God nie. Dit is nie taal wat vir ons mooi verstaanbaar uitlê wie God is en wat God alles doen nie. Só asof ons daardeur kennis neem van ‘n goddelike werklikheid nie. Mistieke taal wil ook nie nie net bloot vertel watter spesiale goddelike ervaring iemand gehad het nie, asof dit so netjie en mooi uitgespel kan word nie.
Die rede is duidelik: Mistieke taal praat oor ‘n ervaring wat nie regtig in woorde uitgedruk kan word nie. Dit spreek oor ‘n mistieke aanraking van God wat buite die verstand om plaasvind en dan daarna, in die proses van oorvertel, in verstand-taal gekommunikeer moet word. Mistiek taal probeer praat oor iets wat verby taal bestaan.
Paulus het dit op sy onvergeetlike, maar boeiend-mistieke manier in Romeine 8:26 gesê: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met die versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.”
Watter teks! Die self-inskatting kan nouliks duideliker: ons is swak. Ons weet nie hoe om te bid nie. Ons praat faal ons. En dan die verborgenheid: tog kan dit. Alles wat ons nie in woorde kan vertel nie, kan God! Wanneer die Gees pleit, pleit Hy met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie!
Dit kan nie. Maar tog kan dit.
Dus het ons hierdie verborgenheid. Maar daar is meer. Mistieke taal laat self iets gebeur. Dit kan niks “verduidelik” nie. Dit vertel eerder van ‘n goddelike teenwoordigheid wat steeds aan die werk is. Wanneer ‘n mistikus praat oor ‘n onpeilbare mistieke gebeurtenis het dit self ‘n mistieke uitwerking. Mistieke taal vertel van die mistieke dinge, dit wil nie die mistieke ervaring uitlê of verklaar nie. Die mistieke taal gloei van liefde, van verwondering, van die vuur van God (Jesaja 6!). En die gloed wat in die taal skuil, verteer die luisteraar en die leser. Wie die mistieke woorde hoor, word deur die menslike taal ingetrek in ‘n werklikheid verby alle taal en alle rasionaliteit en daardeur aangeraak. Mistieke taal wil vir ons vertel van ‘n mistikus wat ingetrek word in ‘n allesverterende liefdesverhouding met God. En wie goed hoor op die woorde van die mistieke mens voel die gloed van daardie verhouding deurwerk in hom- of haarself. Op die manier word die menslike woorde van die mistieke mens die goddelike liefdeswoorde van die God van liefde. Taal en werklikheid vloei in mekaar in. Taal vertel nie koudweg oor wat iemand intens beleef het nie. Taal brand so met die gloed van die gebeure dat dit gloeiende gebeurtenisse tot stand bring.
Ons ervaar dit soms: iemand kan só oor God praat, oor hoe God in haar of sy lewe werk, dat daar in ons, die luisteraar, iets breek en iets gebeur. Ons hardheid en sinisme oor hierdie wêreld met sy geslote, afgeronde karakter waar God maar net die som-totaal van mooi insigte en goeie waardes is, breek stukkend. Dan ervaar ons deur ‘n mistieke woord dat agter ons “realiteite,” al ons “feite”-kennis en wetenskap iets dieper verborge is wat ‘n paradoksale en ondermynende uitwerking het. Ons besef met ‘n angstige skok dat ons harde sinisme fout was en ons onsself in ‘n tronk van donker kennis opgesluit gehou het. Ons besef daar is Iets of Iemand meer aan ons lewe. En dan laat die mistieke woord ons deel word van ‘n mistieke weg waarin ons vra: maar Wie is dit dan wat so verskuild woon agter die mure wat ons om ons opgebou het? Waarom wil ons die muur weg kry, by daardie Iemand uitkom? Hoekom hoor en lok ‘n liefdestem, waarvoor ons voorheen so doof was, ons so onstuitbaar soos ‘n kers vir ‘n mot? Dit mistieke woord van die mistikus, stamelend uitgedruk in vreemde mensetaal, keer ons lewe om en neem ons nou op ‘n nuwe lewenstog na die einde om by hierdie God van liefde te wees.
Die taal skep ‘n nuwe werklikheid waarin al ons ou sekerhede verdwyn. Al ons slim woorde van voorheen, al ons netjies geformuleerde kennis waardeur ons grepe op ons omgewing uitgeoefen het en alle so fyn beheer het, klink skielik vir ons flou, selfs lasterlik. Ons vlug daarvan weg, ons wil in die woorde van die verborge dinge gaan rus – ons jaag daarna. En aldus gaan ons die toekoms in, maar nooit sonder die mistieke woorde nie. Daar begin alles maar daar eindig alles ook. Hierdie verknogtheid aan die mensewoorde is ‘n konstante herinnering dat ons met God op pad is. Ons kan nie weer die ou fout maak en dink ons is in beheer nie. Gedurig weer herinner die stamelende woorde oor wat God gedoen het. Dit is ‘n merkwaardige paradoks. Ons kan nie sonder mensewoorde nie omdat ons nie sonder God kan nie. Die mensewoorde, skryf Blommestijn en Maas, is ons vashouplekke. Ons lees hulle en luister hulle sodat ons gedurig herinner word aan God se liefde en sodat ons nooit ons perspektief verloor op waar die liefde vandaan kom nie. Maar as ons ons so inoefen in mensewoorde oor die liefde, skep ons ‘n ruimte waar God in liefde kan kom woon. Paradoks! Ons bly verknog aan die mistieke woorde terwyl ons die mistieke weg loop sodat ons al hoe meer deur God getransformeer kan word tot die liefde. Ons wil tog word wat God is. En ons wil wees soos God is.
Mistieke tekste is nie vir kennis-name nie.
Ons ervaar wat dit is om te bemin en bemin te word wanneer ons ‘n mistieke teks lees. En hierdie minne-taal dryf ons om meer te bemin en om sterker in die liefde te bly.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.