My gasheer vanaand is ‘n predikant wie se oupa in 1938 in Stalin se tyd op 'n dag uit sy huis weggeneem is en eenvoudig toe doodgeskiet is – bloot net omdat hy as ‘n “uitlander” beskou is. En dit nadat hulle toe al 150 jaar in Rusland gewoon het. Sy ouma met twee dogters is toe in Siberië afgelaai waar hulle moes sien en kom klaar met niks om hulle, geen blyplek en met uiterste weersomstandighede.
Sy oom, voeg hy by, vertel op hoë ouderdom hoe hy in ‘n skool in Siberië uitstekende wiskunde onderwys ontvang het. Hy het eers baie later besef dat die onderwyseres wat vir hom wiskunde gegee het, ‘n professor in wiskunde aan ‘n universiteit in Estonië was wat ook eenvoudig weggevoer is en ook in Siberië afgelaai is.
My gasheer het dus direk uit sy familie-geskiedenis ervaring van die ekstreme vervolging onder Stalin. Hy hou die kommunistiese tye goed in sy geheue vas, vertel hy my.
Nou die dag, sê hy vir my, preek een van die ouer dominees wat ook die tydperk beleef het, in sy kerk. Die predikant het ernstig met die gemeente gepraat: Ons maak in die tyd na die val van die kommunisme van geloof iets goedkoops, preek hy. Ons het vergeet dat geloof ‘n kwessie van lewe en dood kan wees. Ons, voeg hy by, onthou nie meer dat daar kort gelede mense in Rusland was wat bereid was om te sterf eerder as om hulle geloof prys te gee of om kompromieë aan te gaan nie.
Dit is nie baie dat die ouer dominee so preek nie, vertel my gasheer. Maar in ‘n tyd dat die kerk gemaksugtig geword het en lidmate oppervlakkig, het hierdie boodskap duidelik by hom vasgesteek.
‘n Mens kan jou nooit genoeg voorberei vir die tye van dodelike keuses wat jy sal moet maak as jy God werklik lief het nie.
Ek kou hieraan.
Maar in ons gesprek stel hy toe ‘n vraag: hoe kom dit dat daar in die geskiedenis van Rusland ‘n tyd kon gekom het dat die politieke leiers sommer net so kon oorslaan na ‘n ateïstiese staat en alle godsdienste kon uitban? Hoekom het die kerk en lidmate toegelaat dat dit gebeur? Waar het die kerk gefaal in sy verantwoordelikheid om te keer dat politieke leiers, sy eie lidmate van vroeër, tot hierdie punt gekom het? Rusland was immers vir eeue nie ‘n ateïstiese staat nie en die kerk was steeds prominent in die samelewing? Mens verwag nie dat mense wat uit die kerk kom van die een dag op die ander tot so ‘n punt sou kom nie.
Dit is ‘n boeiende vraag.
My gasheer vertel vir my hoe hy met sy kinders sit en praat oor hoe hulle moet reageer wanneer hulle met onderwysers te doen kry wat dinge vir hulle leer wat teen hulle geloofsoortuiginge ingaan. Hy sit hulle om die tafel en rig hulle af hoe om die uitdagings op hul geloofspad te hanteer.
Ek luister verwonderd hierna. Ons blameer en ons pak die skuld op die staat en die politiek. Maar dit is uiteindelik ons eie kinders, mense van ons vlees en ons bloed, ons geestelike nageslag wat soms die kerk se grootste vyande kan word. Dan word die tergende vraag: hoe kon ons dit sien gebeur het?
Of ons kan ons kinders vertel en gereedmaak. Hulle moet so deel word, saam met ons, van ‘n gemeenskap van heiliges, dat hulle nie daarsonder kan oorleef nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.