Friday, September 03, 2010

Al lesende, al horende, word ‘n mens meegesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag

Die liefde, dink ons dikwels, bly maar ‘n onverstaanbare saak. Elke dag weer kom daar soveel gevalle oor ‘n mens se pad dat ‘n mens hiermee gekonfronteer word. “Net sy ma kan hom liefhê”, sê ons soms van iemand. Dieselfde gevoel word uitgedruk met die idioom, “Die liefde is blind.”

Dikwels staan ons dus verwonderd oor die “irrasionaliteit” van die liefde.

 ‘n Mens kan op ‘n soortgelyke manier ook die mistieke liefdesverhouding met God nie peil nie. Hoe kan ons dit verstaan? Neem maar die gelykenis van die verlore seun. Hoe kan ‘n pa sy getroue ouer seun, wat waarskynlik die hoofseun van sy skool en die voorsitter van die A.C.S.V. was, verkwalik omdat hy dikvies is dat sy verkwister-broer druipstert by die huis aankom? Hoe verstaan ‘n mens dit dat die pa nie die seun eers ‘n lang tyd laat werk het vir die verkwiste erfdeel nie?

Sulke liefde, wat so eenvoudig vertel word en so eenvoudig bloot net uitgeleef word, lyk vir ‘n mens na onsin. Daar is sekerlik genoeg rede, dink ons, vir die oudste broer om morrend in die donker te gaan staan met baie dik lippe oor die partytjie wat in die huis aan die gang is. Maar aan die ander kant, is daar juis daarom in die liefde van die Vader ‘n verborgenheid wat besonder aantreklik is.

Lukas vertel hierdie gelykenis saam met so baie ander verhale waarin Jesus se ongekompliseerde liefde vir die sleg mense van die lewe so eenvoudig uitgebeeld word. En hy skilder eenvoudig hierdie liefde langs die hatigheid van die godsdienstiges in Jesus se tyd wat sekerlik gedink het dit is ‘n goedkoop liefde. Lukas vertel dus die Jesus-verhaal liefdevol, duidelik onder die indruk van die manier waarop Jesus verby alle konvensies ‘n nuwe liefdesideaal uitspel. Lukas probeer nie daaroor preek, dit in ‘n teologie uitpluis nie. Jesus leef in sy oorvertelling eenvoudig hierdie mistieke liefde uit.

En kyk nou na die teendeel, die response in liefde op die goddelike liefde: Die dissipels herken Jesus se liefdesboodskap. Hulle offer in reaksie daarop eintlik alles op – huis, vrou, kinders en familie. Hulle moet in rowwe omstandighede vir Jesus volg waar Hy ook al gaan. Soms kry ons ‘n insig in hoe hulle hieroor nadink. Petrus vertel vir Jesus alles wat mense oor Hom sê. En net dan moet Petrus hoor hoe satanies hy in sy denke is. En hierin word hy die simbool van ‘n menslike reaksie – juis wanneer ons nadink oor die mistieke verhouding met God, kan ons maklik begin dink dat ons dit verstaan, begryp en onder beheer het.

Liefde word nie beheer of uitgepluis nie. Die mistieke weg van die dissipels vertel hoe hulle herhaaldelik te kort skiet in hul liefdesverhouding met God. Selfs na die opstanding, toe hulle dinge oor Jesus al mooi begin uitpluis het, moet hulle byvoorbeeld nog ontdek dat hulle liefdeloos is teenoor mense wat nie in hulle kraal pas nie.

Ons moet nie te maklik oor die mistieke weg van die liefde praat nie. Dit is ‘n krag wat ons nie in taal kan vasvat nie.

Daar is geen ander saak waarin ons so verskriklik verkeerd kan wees as oor die liefde nie, skryf Blommestijn en Maas. ‘n Mens dink soms jy het iemand werklik lief en sal alles vir daardie persoon opoffer. Alles wat jy het wil jy aan hom of haar gee. Onselfsugtigheid is dan ‘n woord wat oor en oor in jou gedagtes opkom. Dink maar aan die romantiese liedjies waarin geliefdes vertel hoe hulle vir mekaar sal sterwe as dit moet. Maar sulke taal is dikwels vol illusies, want net die volgende dag of week, as die ander een ‘n mens teleurstel, maar net ‘n skewe woord sê, is die onselfsugtige liefde onder druk. ‘n Mens het die ander een lief, sal ‘n mens eerlik moet erken, solank as wat daardie ander een ons ook lief het en aan my behoeftes voldoen. Agter ons liefde skuil daar baie subtiele voorwaardes in die vorm van jaloesie, magsgrepe en selfsugtigheid.

Ons moet dus nie te maklik probeer om liefde te ontsyfer nie. Dit is ‘n merkwaardige krag, maar met ons magsgrepe kan ons die krag daarvan dikwels verloën.

Wat nou gemaak? Terwyl ons die liefde nie kan uitpluis of beheer nie, kan ons wel in die liefde leef en daaroor praat. Ons begryp God nie net deur ons verstand nie. Deur God lief te hê, ontdek ons wie God is. Maar altyd moet ons weet hoe feilbaar en aarselend ons in ons liefde vir God is. Ons werk met die harde realiteit van wie ons is en die kwaad wat ons aan die liefde doen. Ons weet ook hoe ons met al ons gepraat ‘n houvas op die liefde wil kry, terwyl dit elke keer iets mistieks is wat alles wat ons dink en doen en weet te bowe gaan.

Ek lees hieroor ‘n baie wyse woord: gou-gou is ons om uit te wys hoe ander eintlik maar baie selfsugtig is. Uitgevang, dink ons, het ons vir al die wat hoog opgee oor hul liefderike lewe. So liefdevol, spog hulle, maar eintlik is hulle so ontrou aan die liefde..... 

Die mistieke mens sal nie maklik hieroor vinger vir ander wys nie. Die liefde val nie sommer uit die lug nie, besef ‘n mens. Juis omdat ons so swak en feilbaar in die liefde is, moet ons nie ophou liefdestaal praat nie. Hoe meer ons oor die liefde praat, hoe meer word ons ingetrek in die groot proses van groei in die liefde. Juis omdat ons so feilbaar en swak is, presies omdat ons werklikheid so subtiel die liefde kan ondergrawe, moet ons meer en meer met liefdestaal volhou. Die taal van die liefde mag nooit stil raak nie...

Om te skryf en te praat oor die liefde bring die liefde weer en weer aan die gang.

Dit is op hierdie punt dat ‘n mens ‘n beslissende insig moet onderstreep. Want die mistagoog, die prediker en die pastor skep elke week en dag weer “mistieke tekste” wat ander mense “lees” en “ervaar.” Selfs ons gewone gesprekke is “tekste” van die liefde.

Dit is nou belangrik hoe hierdie “tekse” lyk.

‘n Mistieke teks wil nie verwyt nie en wil ook nie vinger wys. Dit wil juis die liefde bly skep in die besef van hoe bedreigd die liefde is. ‘n Mistieke teks wil steeds weer onderstreep dat ons in die leerskool van die liefde is. Daarom skryf en praat en preek ons juis om die liefde weer op gang te bring.

Ons leer gedurig meer van die liefde. Juis omdat ons dit nie beheer nie.

Dit moet ons nou nie misverstaan nie. Ons skryf nie ‘n “teks” en dan sal mense dit lees en dan sal mense die liefde leer ken of ontdek nie.

Die preek wat ons maak, die mistagogiese proses, die boek wat ons skryf is ‘n boek wat in liefde geskryf word. Wanneer ‘n mens dus jou woorde kies, is dit liefdeswoorde wat ‘n mens uitsoek. Wanneer ‘n mens nadink oor hoe jy gaan skryf, dan skryf jy om steeds weer die liefde te laat hoor. Dit wat ‘n mens preek en skryf, moet die leser lei en bring tot ‘n liefdevolle gehegtheid aan Ander.

Wat ‘n mens só skryf, moet egter voltooiing vind wanneer die leser dit lees en dieper in die liefde ingelei word. Daarom, as ‘n mens ‘n teks optel, die Bybelse woord neem een oopmaak, doen ‘n mens dit gedryf deur ‘n verlange na die liefde. Die lees van die Bybel, die hoor van ‘n preek is ‘n liefdevolle praktyk van lees en hoor, skryf Blommestijn en Maas.

Ek sit bietjie terug om hieroor te dink en weer eens te besef hoe ver ons teorie van die praktyk af verwyderd is: Is dit hoe ons vandag tekste lees? Is dit hoe ons na preke luister? (Al die vingers....)

Blommestijn en Maas skryf: Al lesende, al horende, word ‘n mens deur die mistieke teks meegesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag wat ‘n mens in die kern van jou bestaan as mens aanraak en omvorm.

Dit ‘n reusagtige mondvol.

Is dit hoe ons Bybellees? Is die preek wat ons maak só gemaak dat dit die hoorder sal meesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag?

Waar dit gebeur, waar iemand meegesleur word deur goddelike liefde, sal die persoon die teks van binne-uit verstaan. En as iemand die teks vanuit sy hart verstaan, deur ‘n preek in sy hart vasgegryp word, word die persoon opnuut in die liefde ingetrek. Hierdie keer ‘n bietjie dieper. So word ‘n mens in die leerskool van die liefde opgeneem. Hier word ‘n mens daarop ingestel om verder te gaan op die liefdespad, beter lief te hê, onselfsugtiger te bemin.

As die liefde faal, praat ‘n mens liefde.

As ek dink aan al die gepraat oor God se mistieke liefde wat nie in liefde gebore word nie, wat nie deurdrenk is van die liefde nie en wat nie die liefde bewerk nie, word dit duidelik dat die leerproses wat ons moet ondergaan, nie sommer oornag verby is nie. Dit is ‘n eindelose proses. Gedurig moet die pastor nog dieper in die liefde geanker word om in liefde te kan praat. Intenser moet die mistagoog self in die liefde woon, om die woordeskat en taal van die liefde te kan inspan.


Treurig skryf Blommestijn en Maas dat die mistikus telkens weer besef dat ons in ‘n leerproses by die eerste beginsels van die liefde bly vassteek. Dit is die menslike kant. Dan kom God tot ons in ‘n liefdesaanraking. Ons word opgeneem in die liefde, om dan weer te moet ontdek hoe ons faal daarin. Totdat God ons weer kom haal...  En so groei die verhouding met God steeds weer dieper en dieper.

‘n Mens kan nooit genoeg in die liefde wees nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive