Ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin, wat sê: 11 Skryf wat jy sien in ’n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.
Soms kry ‘n mens van ‘n maatskappy ‘n e-pos of ‘n sms waarin hulle jou geluk wens met jou verjaarsdag. Jy weet ‘n masjien het iewers outomaties jou naam in ‘n voorafgeskryfde brief ingetrek. Daarom is so ‘n boodskap nie naasteby so kosbaar soos ‘n telefoon-oproep van iemand wat jou bel en self met jou wil praat op ‘n spesiale dag nie. Eintlik raak so ‘n boodskap ‘n mens nie eintlik persoonlik nie.
Die voorbeeld help mens om te verstaan wat hier gebeur: dit is die tweede keer dat Johannes in die eerste hoofstuk van Openbaring praat van die sewe gemeentes in Asië. In vers 4 het hy reeds sy boek aan hulle opgedra: “Johannes aan die sewe gemeentes in Asië.” Hy maak seker dat die leser verstaan sy boek is aan spesifieke mense in ‘n spesifieke land geskryf. Hier brei hy op hulle uit deur die name van elke gemeente te noem. Daarmee trek hy hierdie mense in in sy verhaal. Hulle lees ‘n boek wat spesifiek aan hulle gerig is. Daarmee word hul persoonlik betrek by wat in die boek geskryf word. Dit raak hulle direk. Met dubbele aandag sal hulle dus daarna luister en versigtig sal hulle daarop wil reageer.
Des te meer omdat Johannes weer uit sy pad gaan om seker te maak dat mense nie dink hy het sy boodskap self uitgedink nie. Hy het dit reeds so duidelik in die openingsvers al gesê, maar herhaal dit nogtans. Vers 4 noem dat die boek kom van “Johannes aan die sewe kerke in Asië.” As mense vir ‘n oomblik gedink het die boek is van Johannes, help hy hulle dadelik uit so ‘n misverstand. Hier verduidelik hy dat sy boek die resultaat is van ‘n visioen wat hy gehad het en dat die visioen nie die resultaat van sy vroom gedagtes of hallusinasies is nie.
Hy beklemtoon dit deur in vers 10 te skryf hy het ‘n “groot stem” agter hom gehoor. Die stem is “groot” en hard, sodat hy hom nie verbeel het nie. Trouens, hy voeg by: die stem het soos ‘n basuin geklink. Johannes herinner daarmee sy lesers wat hy ook aan die begin geskryf het: sy boek is ‘n openbaring wat van God deur Jesus gekom het. Johannes is net ‘n bemiddelaar van wat God aan die kerke wil sê. Die lesers, wat reeds voel hoe die boodskap spesiaal vir hulle bedoel is, word nou nog meer betrek – want nou, word dit onderstreep, moet hulle ook nog onthou dat dit nie sommer maar nog net ‘n boek is nie. Dit is ‘n spesiale boek met ‘n spesiale karakter – dit kom van God.
Johannes wil ook keer dat mense nie op syspore beland nie. Dit is nogal opmerklik hoe Johannes min aandag gee aan die visoene self. In hierdie gedeelte meld Johannes net so tussen-in dat hy sy boek skryf oor visioene wat hy gehad het. Skryf, “wat jy sien,” sê hy in vers 11. Maar sy visioen is nie belangrik nie en hy brei nie daarop uit nie. Wat belangriker is, is dat God met die gemeentes praat. Johannes en sy visioene is maar net die medium vir God se woorde aan gelowiges. Dít, die goddelike woord, is wat hier in die middelpunt staan.
God praat dus met gelowige mense in Asië. Die boek is vir hulle geestelike reis geskryf. Dit gaan oor hulle daaglikse lewe en hul geloof in hierdie Romeinse provinsie. God praat nie in die lug vir wie ook al mag luister nie. Wie Openbaring wil verstaan, moet dus Asië goed verstaan. Openbaring is nie in die eerste plek vir die 21e eeu geskryf nie. Dit is ook nie gerig aan Amerikaners of Duitsers of Afrikaners nie. Latere gelowiges moet dus nie probeer om die boek vir hulle tyd te kaap nie. Daarmee leer ons ‘n belangrike les vir die uitleg van Openbaring. Dit is nie ‘n tydlose boek vir mense in alle lande geskryf nie. Wie dít dink, neem hierdie vers 10 nie ernstig op nie. Vandag moet mense terugstaan en vra: maar wat wou God vir daardie mense in daardie tyd in Asië vertel? En eers dan sou ‘n mens kon gaan nadink oor die vraag op watter manier God se boodskap aan hulle vandag nog vir ons geestelike reis betekenis het.
Anders as in Daniël 12:4 en 9 moet die boek nie geheim bly en “verseël” word tot die einde toe nie. Hierdie keer beveel God juis dat die boek bekend gemaak word. God se wil word in die boek onthul en duidelik bekend gemaak sodat mense in die eerste eeu n.C. die sin van hulle geloof kan ontdek in ‘n situasie wat hulle verward en ontnugterd gelaat het.
Deur die eeue het mense Openbaring misbruik om allerhande allervreemdste dinge uit te dink en oor allerhande vreemde inhoude te spekuleer. Elke keer weer het hierdie spekulasies en voorspellinge geflop. En elke keer weer het die misbruikers van Openbaring allerhande bisar redes gegee waarom hul voorspellinge nie uitgekom het nie. Die boek gaan nie oor allerhande geheime spekulasies van Johannes oor vreemde verskynsels aan die einde van die tye nie. Johannes speel nie raai-raai speletjies or die verre toekoms met mense nie. Openbaring is nie ‘n Suduko-speletjie wat mense wil help om die tyd om te kry nie.
Dit is al genoeg rede waarom ‘n mens maar versigtig moet wees om Openbaring nie te misbruik nie.
Daar is egter ‘n belangriker rede. Openbaring is ‘n boek waarin God vir mense in moeilike tye iets in die hand wil gee wat hulle kan inspireer en laat moed hou. As gelowige mense hierdie boek lees, moet hulle dus God se stem daarin herken. In hulle wêreld vol valsheid, leuens, valse gode en valse engele moet hulle God, die ware God, kan hoor en besef hoe anders maak dit hulle situasie. Hulle moet agter al die ander baie woorde in hul daaglikse lewe wat hulle wil beheer en verslaaf, die bevrydende woord van die Here herken en ervaar hoe dit hulle lewens omvorm. Hulle moet dus goed lees en luister sodat hulle die Verborgene kan ontmoet. Mense is so besig om uit te vind wie die draak en die twee diere en die prostituut is, dat hulle die eerste groot uitdaging vergeet: om die boek so te lees dat dit ‘n mens in aanbidding voor God bring.
Johannes skryf heel spesifiek aan sewe konkrete gemeentes in Asië. Van die begin van sy boek wil hy hê dat hierdie gemeentes agter sy woorde God sal herken as die werklike Outeur en as die Spreker. Hulle moenie vaskyk teen die letters van die boek nie. Hulle moet die Een van wie die boek kom, hoor praat. Die boek moet hulle bewus maak van God se transformerende teenwoordigheid by hulle daar in hul klein kerkies in die magtige Asië waar die keiser koning gekraai het en die heersers in hul eie glorie gebaai het.
Vir my bly dit in my nadenke oor die stuk by hoe Johannes sy boek sien as God se stem. Tussen al die baie stemme wat hulle gehoor het – die groot magswoorde van die heersers, die harde woorde van teenkanting en vervolging van hul mede-Jode en die verleidelike dwaalstemme van die valse profete in hul midde, het hulle nou die kans om die woorde van die lewe te hoor. Fyn moes hulle luister, diep moes hulle dink, want God se woorde word al te dikwels verswelg en diep verberg deur valsheid en geraas. Daarom is Openbaring ‘n mistieke boek: dit is ‘n boek wat die mens agter allerhande menslike taal en verby die oppervlak wil bring tot ‘n noue, intieme eenheid met die Verborgene.
Niks is so kosbaar as daardie oomblik wanneer ‘n mens deur woorde heen in die goddelike teenwoordigheid kom en voel hoe jou hart in jou brand deur die vuur wat in jou persoonlik aangesteek is nie. In jou eie hart, in jou diepste innerlike kom praat God en kom bly God. God praat nie in die lug nie. God praat direk tot die troebel harte van mense wat na God verlang.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.