Dikwels lees ons so maklik oor ‘n Bybelgedeelte sonder om te besef hoeveel rykdom in die fyner detail versteek is. Neem nou maar die volgende gedeelte oor Jesus se opstanding:
Johannes 20:4-8:
4 En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom. 5 En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. 6 Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; 7 en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. 8 Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. 9 Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.
Johannes 20 is ‘n rare opstandingsverhaal: Maria vertel op die opstandingsoggend aan die dissipels wat sy by die graf ontdek het. Die dissipels hardloop na die graf om te gaan kyk. Maar die rare is nou dat die geliefde dissipel buk om in die graf te kyk, volgens hierdie hoofstuk en dan “die doeke” sien lê. Anders as in die ander evangelies sien hy en Petrus nie engele of ‘n leë graf nie, maar bloot “die doeke”. En as leser weet ons dadelik dat die lidwoord, die “die” beteken dit was die doeke waarin Jesus se lyk toegedraai was.
Petrus, anders as Johannes, gaan wel in die graf in en ook hy sien die doeke.
Watter rare verhaal tog: die een dissipel gaan nie in die graf nie, die ander een wel. Waarom is dit dan nou so uitsonderlik dat die volgorde van hul binnegaan in die graf hier genoem moet word? Dit is al vreemd dat die Evangelis soveel klem op die motief van die “doeke” lê. En waarom gaan Petrus en Johannes nie albei in die graf in nie? Waarom wag Johannes eers buite?
Dikke boeke is hieroor geskryf en baie teorieë opgestel. Een daarvan lui dat Petrus die belangrikste apostel was en dus voorrang moes hê. Maar as dit so was, kom Petrus bedroë daarvan af. Want nie hy nie, maar Johannes, wat intussen ook in die graf gegaan het, het “gesien en geglo” – wat nie van Petrus gesê word nie.
Johannes, skryf Schneiders, se verhaal is heel versigtig ontwerp om op te bou na ‘n klimaks. En dit is juis hierdie klimaks wat ons totaal mis: Johannes gaan nie in die graf in nie en sien dus nie onmiddellik die hele toneel nie. Hy sien net “die doeke.” Petrus gaan in en sien die doeke, maar volgens vers 7 sien hy ook die gesigsdoek netjies opgerol “op een plek afsonderlik” lê.
Daarmee bou die spanning op. Die toneel word meer presies beskryf. Naas die doeke, trek iets heel spesiaals nou skielik ons aandag. Ons weet nou saam met Petrus dat die kopdoek van Jesus nie by die doeke is nie. Naas die doeke was daar die gesigsdoek, en dit is opgevou weg van die ander doeke neergesit.
Wat ‘n toneel! Jesus se gesigsdoek is netjies opgevou. En, tweedens, dit is eenkant neergesit. Dit vertel dat die doeke nie sommer net afgehaal is nie. Dit is met groot aandag afgehaal, opgelos en toe op ‘n spesiale plek gana sit.
Die leser voel al hoe meer betrek by die verhaal. Die leser wil weet: wat gaan hier met hierdie verhaal oor die doeke aan?
En dan begin die ontknoping van die verhaal: Johannes gaan in en wanneer hy die gesigsdoek sien, glo hy!
Maar Petrus begryp dit nie.
Jesus, wil hierdie uitsonderlike en rare opmerking sê, het vir sy dissipels ‘n teken gegee. Hy het geweet hulle sou in die graf gaan. En, het hy verder geweet, hulle sou die hoop doeke daar sien, maar hulle sou ook merk hoe netjies die gesigsdoek opgerol eenkant neergesit is.
Jesus gee dus ‘n teken – maar ‘n teken is iets wat dubbelsinnig kan wees, wat verstaan kan word (Johannes), maar ook nie verstaan kan word nie (Petrus).
Schneiders vra dus: wat het in Johannes se gedagtes omgegaan toe hy die doek gesien het? Wat het hom laat glo?
In Johannes 11:44 praat Johannes van dieselfde doek wanneer hy verwys na die doek wat Lasaarus se gesig in die graf bedek het. Maar Johannes sou ook gedink het aan die doek wat oor Moses se gesig was in Exodus 34:33-35. Die woord wat hy vir die gesigsdoek gebruik is juis dieselfde woord wat vir Moses se doek gebruik word.
Daardie verhaal in Exodus 34 is net so merkwaardig, want dit vertel van ‘n unieke gesigsdoek wat Moses gedra het:
Daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here met hom gespreek het op die berg Sinai. 33 Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek. 34 Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, 35 sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.
Die sluier is opgerol en weggeneem as Moses voor die aangesig van die Here verskyn het.
Jesus se gesigsdoek, die sluier is opgerol. Hy het in die teenwoordigheid van die Vader verskyn.
Maar meer nog: Moses se gesig het geblink van sy teenwoordigheid by God. Hy het gedeel in die heerlikheid van God.
Jesus, daardie Sondagoggend, toe Hy die nuwe lewe ingegaan het, het die doek opgerol en eenkant neergesit, as ‘n teken aan sy dissipels dat hy die nuwe Moses is wat vir die kinders van Israel ‘n teken gee: Dit is ‘n teken, het hy aan sy dissipels daarmee beduie, dat ek die heerlikheid van God binnegaan.
Nou is die vraag, skryf Schneiders, as dit die teken is, wat beteken dit nou vir die geloof van die dissipels? Wat glo Johannes dan nou as hy die graf ingaan en die opgrolde gesigsdoek sien?
Maar hierdie leesproses van ons waardeur ons skielik die betekenis van die doeke op ‘n nuwe en ander manier leer ken, laat my besef: ‘n Mens kan ‘n lang pad met God loop, maar tog dikwels dan, die tekens wat God op ‘n reis aan ons gee miskyk. In die proses ontsê ons onsself die geleentheid om die goddelike heerlikheid te kan ontdek.
Dikwels, dikwels loop ons op ons lewenspad deur die tye van verslaentheid en dan, op ‘n verborge manier, gebeur die rare: ons merk hoe God vir ons soveel onopmerklike tekens van die goddelike volheid gee. As ons maar net daardie opgerolde doek wat eenkant lê kan raaksien tussen al die lyksdoeke wat oor ons pad uitgestrooi is..... Petrus, die vooraan dissipel, het so ‘n kans gemis. Johannes, daardie apostel van die liefde, het dit gesien – hy het besef hoe Jesus liefdevol die doek opgerol het en dit op die plekkie eenkant gaan neersit het, wetende dat die mens van liefde ‘n liefdevolle teken nie kan miskyk nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.